Stel veiligheid voorop

Gepubliseer: 31 Julie 2023

1009
Magda du Toit,
SA Graan/Grain-
medewerker

Veiligheid in die werksplek is elke persoon se fundamentele reg. Dit geld ook vir plaaswerkers. Hulle gesondheid en veiligheid is nie net ’n reg nie, maar speel ’n groot bydraende rol in die volhoubaarheid van ’n boerdery-onderneming. Behalwe dat ongelukke, beserings en siektes mense se lewens kan vernietig, kan dit geweldige nadelige gevolge op verskeie vlakke vir ’n boerdery inhou.

Uit die aard van boerdery met die gebruik van trekkers, implemente en ander masjinerie, is daar baie potensiële veiligheids- en gesondheidsrisiko’s op plase wat ’n uitdagende omgewing skep wat behoorlik bestuur moet word. George Rautenbach, die eienaar van Winelands Consulting wat spesifiek fokus op beroepsveiligheid op plase, wys daarop dat soos die landbousektor ontwikkel en al meer gemeganiseerd raak, dit belangrik is dat werkgewers aandag moet gee aan die toepaslike veiligheidsvereistes in elke onderneming, boerdery of werksomgewing.

“Omdat hierdie omstandighede die produsent, sy gesin en werkers voortdurend blootstel aan veiligheidsrisiko’s wat geskep word deur voertuie en landboumasjinerie en -implemente, chemikalieë, diere, die omgewing met weerstoestande en natuurrampe, is dit noodsaaklik dat veiligheid hoë prioriteit geniet.”

Wat sê die wet?
Rautenbach wys daarop dat dit werkgewers se verantwoordelikheid is om ’n veilige werksomgewing te skep. Hierdie verantwoor­delikheid word in die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes (Wet No. 130 van 1993) verwoord.

Die kern van die wetgewing oor beroepsgesondheid en -veiligheid kom daarop neer dat werkgewers:

  • ’n Gesonde en veilige werksomgewing moet verseker;
  • die bedreigings en risiko’s by die werkplek en wat met die werk verband hou, moet bepaal; en
  • die nodige stappe moet doen om daardie bedreigings en risiko’s te elimineer en/of te bestuur en te beheer.

Dit is net so belangrik dat werknemers besef dat hulle ook ’n eie verantwoordelikheid het ten opsigte van hulle veiligheid en gesondheid. Werkers moet ingestel wees daarop dat medewerkers en hul gesinne geraak kan word deur hul optrede of die versuim van sekere verantwoordelikhede of gedrag.

Volgens Rautenbach is dit dus van algemene belang dat die produsent en sy werkers hande moet vat om ’n werksomgewing wat vry is van gevare en gesondheidsrisiko’s te skep en te onderhou.

Identifiseer risiko’s
Een van die eerste stappe is om veiligheidsrisiko’s te identifiseer. “Stap of ry rond en kyk met aandag om jou rond. Dit sal raadsaam wees om van tyd tot tyd die veiligheidsbeampte wat kragtens die wet uit die werkers gekies en aangestel moet word, met jou saam te neem op die verkennings. Eweneens is dit belangrik dat bevindinge opgeteken word sodat dit bespreek en/of aangedui of reggemaak kan word,” is Rautenbach se raad.

“Bepaal die risiko vir besering vir die gevaar wat jy raakgesien het. Die risiko van besering is die kans of waarskynlikheid dat die knelpunt ’n besering aan iemand kan veroorsaak. Identifiseer enige iets wat ’n fisiese besering, soos ’n sny, val of breuk, kan veroorsaak. Die risiko’s verbonde aan elke bepaalde taak wat verrig word moet ondersoek en geëvalueer word in die proses,” sê Rautenbach.

Skep ’n veilige werksomgewing
Daar word van werkgewers verwag om alle redelike stappe te doen om werkers te beskerm teen potensiële gevaar of gevaarlike situasies. Benewens die identifisering van moontlike risiko’s moet die werkgewer, of produsent, ook die volgende doen om ’n veilige werksomgewing te skep:

  • Geboue, werksplekke of aanlegte en masjinerie moet behoorlik in stand gehou word en dit moet veilig en sonder risiko’s wees.
  • Reëlings moet getref word vir die veiligheid en die afwesigheid van risiko’s ten opsigte van alle produkte en die gebruik, hantering en die vervoer van gevaarlike stowwe.
  • Daar moet seker gemaak word dat werknemers nie met stowwe of artikels werk of in aanlegte werk wat nadelig vir hulle gesondheid en veiligheid is nie.
  • Masjienoperateurs moet behoorlik opgelei wees en moet die gevare verbonde aan die betrokke diens, masjien of aanleg deeglik verstaan.
  • Werkers met gereeld opleiding kry oor die vereistes van die wet en die wet self moet uitgedruk word en op ‘n muur in die werks­plek geplaas word.
  • Gee ook aandag aan die ontwerp van die werksplek en ergo­nomiese gevare soos die optel, beweeg of verskuiwing van swaar vragte.

Kragtens die wet is daar ook spesifieke regulasies ten opsigte van die hantering van chemikalieë in die werksplek en oor hoe dit gestoor moet word.

Goeie en wedersydse kommunikasie is fundamenteel tot ’n suksesvolle gesondheids- en veiligheidsbestuurstelsel. Werkers moet nie net die gevare wat hulle in die werksplek ervaar ken nie, maar ook weet wat om te doen in die geval van ’n ongeluk of noodgeval. Opleiding betreffende die korrekte werkswyses en gebruik van toerusting is nodig.

Onthou altyd dat hierdie regulasies en stelsels in plek gestel is om jou te beskerm.

Praktiese riglyne
Een manier waarop kommunikasie en samewerking verbeter kan word, is kort weeklikse gesprekke met werknemers oor praktiese gebeure. “Verduidelik wat kan gebeur of haal voorbeelde aan van wat al gebeur het indien risiko’s nie uitgewys en uitgeskakel word nie,” sê Rautenbach.

Hy wys verder daarop dat rekordhouding van hierdie kommunikasie uiters belangrik is. “Almal wat teenwoordig is, moet ’n presensielys teken wat die inhoud van die gesprek volledig beskryf, en dit moet op lêer gehou word. Hierdeur verseker jy as werkgewer dat daar deurlopend aandag geskenk word aan veiligheidsbewustheid en het jy iets om na terug te verwys sou daar iets gebeur.”

Plaasmasjinerie wat produsente in staat stel om produktiwiteit en doeltreffendheid te verhoog, speel ‘n belangrike rol in moderne landbou. Die gebruik van hierdie kragtige instrumente hou egter inherente risiko’s in en jaarliks is daar talle ongelukke op plase wat toegeskryf kan word aan onbehoorlike gebruik of verwaarlosing van veiligheidsmaatreëls.

Volgens Arno du Plessis, hoof: Landbouprodukondersteuning en Handelsmerkdien­ste van CNH Industrial, is dit noodsaaklik om veiligheid te prioritiseer wanneer plaasmasjinerie bedryf word om die welstand van produsente en plaaswerkers te verseker.

Volgens Du Plessis is daar ’n paar sleutelriglyne wat gevolg moet word om veilige werking te bevorder en die risiko van ongelukke te verminder. Hy meen een van die belangrikste praktyke is behoorlike opleiding. “Voordat enige plaasmasjinerie gebruik word, is dit van kardinale belang om behoorlike opleiding te ontvang of toe te sien dat die werkers hierdie opleiding deurloop,” waarsku hy.

Du Plessis beveel aan dat werkswinkels en opleidingsprogramme wat spesifiek vir die toerusting saamgestel is, bygewoon moet word. “Dit is noodsaaklik dat die operateur vertroud is met die vervaardiger se instruksies, veiligheidsriglyne en waarskuwingsetikette. Wanneer die masjinerie se vermoëns, beperkings en behoorlike hanteringstegnieke verstaan word, sal die risiko van ongelukke aansienlik verminder.”

Praktiese wenke om ongelukke te voorkom

  • Gebruik gereedskap, implemente en masjinerie vir dit waarvoor dit bedoel is.
  • Maak seker dat veiligheidsvereistes soos die dra van sitplekgordels nagekom word.
  • Gebruik behoorlike koppelstukke soos trekstange en veiligheidskettings. Onbehoorlike koppeling van ’n implement aan ’n trekker kan dodelike gevolge inhou.
  • Herstel of raak ontslae van foutiewe masjiene.
  • Stel beheermeganismes in werking wat werkers en hul gesinne beskerm of isoleer van gevare. Sit byvoorbeeld slotte op plaag-doderskure, omhein veilige speelareas vir kinders weg van die onmiddellike werksomgewing, ensovoorts.
  • Behoorlike toesighouding is nodig.
  • Verskaf en gebruik behoorlike klere wat geskik is vir die soort werk wat verrig word soos handskoene en maskers vir die hantering van gevaarlike chemikalieë.

Volgens Rautenbach is die voorsiening en dra van die regte en voorgeskrewe beskermde klere belangrik. “Die dra van klere relevant tot die onderskeie spesifieke toerusting, is van kritieke belang. Dit mag insluit die dra van ’n kopskerm, veiligheidsbrille, oorbeskerming, veiligheidskoene, handskoene of sigbaarheidsklere.”

Graan SA-fotokompetisie – Jorina Lombard, November 2020

Behoorlike instandhouding
Graanboerdery kan nie plaasvind sonder die gebruik van trekkers en implemente nie. Daarom is dit nodig om veral op trekkerveiligheid te fokus. Die instandhouding van plaasmasjinerie in goeie werkende toestand is noodsaaklik vir veilige werking. Du Plessis beveel aan dat die volgende gedoen word:

  • Voer roetine-inspeksies uit om enige meganiese probleme of slytasie te identifiseer en reg te stel.
  • Gaan remme, bande, ligte, hidrouliese stelsels en alle veiligheids­kenmerke gereeld na.
  • Volg die vervaardiger se aanbevole onderhoudskedule en soek professionele hulp vir herstelwerk of vervangings wanneer nodig.

Operateursvernuf
Die rol of omslaan van trekkers word dikwels veroorsaak deur die volgende faktore:

  • Draai teen ’n hoë spoed.
  • Afry van die padskouer.
  • Werk teen ’n steil heling soos in slote of dongas of teen heuwels.
  • Dra van vragte te hoog op die voorlaaigraaf.
  • Sleep vragte te vinnig teen ’n afdraande.
  • Trekkers wat gebruik word vir take waarvoor dit nie toegerus is nie.
  • Trekkers wat nie behoorlik onderhou of gereeld gediens word nie.
  • Remme wat faal.

Voorsorgmaatreëls
Volgens Du Plessis is dit belangrik om seker te maak dat implemente aan plaasmasjinerie behoorlik vasgemaak en gebalanseerd is wanneer dit aan ’n trekker of bakkie gekoppel word.

“Volg die vervaardiger se riglyne vir gewigverspreiding en aanhegtingsprosedures. Die versuim om implemente korrek te laai en te beveilig kan lei tot wanbalans, onstabiliteit en moontlike ongelukke tydens werkverrigting,” waarsku hy.

Du Plessis meen dat ’n veilige werksomgewing geskep kan word deur die volgende riglyne na te kom:

  • Voordat enige plaasmasjinerie hanteer word, maak seker dat die werksarea vry is van hindernisse, puin en ander potensiële gevare.
  • Verwyder los voorwerpe, klippe of laaghangende takke wat die veilige werking van die masjien kan belemmer.
  • Tref voorsorgmaatreëls om enige slote, gate of ongelyke terrein te merk of te bewaak.
  • Bewustheid van die onmiddellike omgewing wanneer die trekker bestuur word – die operateur moet seker maak dat niemand agter die trekker staan nie. Dit is belangrik om te verseker dat kinders, omstanders en ongemagtigde personeel op ’n veilige afstand van werkende masjinerie gehou word.
  • Vervoer trekkers veilig.
  • Kom die verkeersreëls na.
  • Ry met ligte en flikkers aan.
  • Vertoon ’n stadigbewegendevoertuig-teken.

Gevaarlike middels
Landbouchemikalieë soos kunsmis, onkruiddoders en plaagbeheermiddels kan gevare vir mens, dier en die omgewing inhou as dit verkeerd gebruik of gestoor word. Landbouchemikalieë moet altyd gestoor word met veiligheid as prioriteit.

Niemand is gevrywaar daarvan dat ongelukke wel kan gebeur nie, en die korrekte hantering van noodgevalle en ongelukke is belangrik. Volgens Du Plessis moet produsente voorbereid wees op moontlike noodgevalle deur ’n goed toegeruste noodhulpkissie op die perseel te hê. “Dit is belangrik dat die personeel weet hoe om die noodhulptoerusting te gebruik. Ontwikkel ’n noodreaksieplan wat kontakinligting vir mediese dienste en noodpersoneel insluit. Doen gereeld veiligheidsoefeninge om te verseker dat almal weet wat om te doen in geval van ’n ongeluk of noodgeval,” is sy aanbeveling.

Rautenbach wys daarop dat dit van uiterste belang is dat die nodige noodprosedures in plek is. “Om in geval van ’n ongeluk of noodsituasie seker te maak dat almal weet wat gedoen moet word, moet die noodplan duidelik wees en almal moet dit onder die knie hê. Dit sluit aspekte in soos die afsluiting van toerusting, toegang tot noodnommers en hoe om te reageer in geval van ’n ongeluk of besering aan diens. Daar moet ook toegang wees tot die nodige noodhulptoerusting.”

Noodreaksie in ’n neutedop

  • Maak seker iemand by die werksplek is opgelei om noodhulp toe te pas.
  • Afhangende van hoe ernstig die situasie is, kan die persoon na ’n dokter, kliniek of ongevalle-afdeling by ’n hospitaal geneem word. In die geval van ernstige ongelukke moet ’n ambulans ontbied word.
  • Ondersoek die ongeluk om vas te stel wat presies gebeur het, wat in die toekoms gedoen kan word om ’n herhaling te voorkom en met die doel om opleiding aan werkers aan te pas. Versamel soveel as moontlik inligting aangaande die ongelukstoneel en voer onderhoude met ooggetuies. Bepaal die volgorde van die gebeure wat gelei het tot die ongeluk. Maak seker dat die verklarings opgeteken en onderteken word. Neem ook soveel as moontlik foto’s wat as bewysstukke kan dien.
  • Die ongeluk moet binne sewe dae nadat dit plaasgevind het korrek by die Ongevallekommissaris (Departement van Arbeid) gerapporteer word deur die werkgewer.
  • Sper die ongelukstoneel af deur die area af te baken met lint. Indien ’n persoon oorlede is, moet die totale ongelukstoneel onaangeraak gehou word totdat die polisie op die toneel verskyn. In die geval van ’n besering ontbied die nooddienste so gou as moontlik.

Wanneer vermoed word dat iemand moontlik vergiftig is, moet die noodhulpbeampte dadelik geroep en mediese hulp gereël word. Dit is noodsaaklik om uit te vind watter landbouchemikalieë betrokke is en ook hoe die blootstelling plaasgevind het, byvoorbeeld mondeliks, inaseming of deur die vel.

Geen besigheid of boerdery wil blootgestel word aan ’n ondersoek of oudit of moontlike dagvaarding op grond van nalatigheid wanneer dit kom by die werkgewer se verantwoordelikhede om die veiligheid van sy werkers te verseker nie. Benewens die addisionele onnodige administratiewe aspekte, is die soort van ondersoeke gewoonlik lank en uitgerek. “Die gevolge van die nienakoming van die voorgeskrewe wetgewing maak dit eenvoudig nie die moeite werd om kort paaie te vat nie,” waarsku Rautenbach.

In ’n neutedop opgesom, moet werkgewers toesien dat behoor­like opleiding plaasvind, toerusting gereeld geïnspekteer word, en dat veiligheidsklere aan werknemers voorsien word. Die nodige bewyse soos sertifikate, lisensies en ander rekords kan die werkgewer beskerm in die geval waar daar wel ’n ondersoek in die werksplek geloods word.

Werkgewers wat nie die kapasiteit het om aan al hierdie aspekte aandag te gee nie, kan dit oorweeg om die hulp van ’n konsultant te bekom om ’n beroepsveiligheidbeleid te formuleer, dit te implementeer en te onderhou.

Vierpuntplan vir veiligheid
Karel Munnik, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Landboumasjinerie-assosiasie (Salma), gee die volgende vier punte om veiligheid voorop te hou:

    1. Gebruik altyd die korrekte onderdele
      Vir die meeste trekkers en implemente is roof- of grys­onderdele in die mark beskikbaar. In baie gevalle is hierdie onderdele baie goedkoper as die oorspronklike onderdeel. Die feit dat oorspronklike onderdele duurder is, het spesifieke redes. “Die duurder prys vir oorspronklike onderdele kom in by die vervaardigings­proses. Meestal is daar ’n groot verskil in die kwaliteit van oorspronklike onderdele in vergelyking met roofonderdele en afhangend waar die onderdeel ’n sekere werk moet verrig, kan dit ernstige gevolge inhou indien dit sou onklaar raak.”
    2. Onderhoud is ononderhandelbaar
      Gereelde en deeglike onderhoud van implemente en trekkers is van uiterste belang. “’n Voorbeeld wat ek graag aanhaal is die kragaftakker wat die aandrywing is tussen die trekker en sekere toerusting. Daar is altyd ’n omhulsel om die kragaftakas, maar wanneer dit beskadig word, word dit nie noodwendig weer vervang nie. Ongelukkig het dit al baie mense beseer en selfs ook sommige se dood veroorsaak.”
    3. Opleiding is ’n ernstige saak
      Al die personeel van die boerdery moet ag slaan op die noodsaaklikheid van behoorlike opleiding, veral ten opsigte van die veilige gebruik van masjinerie en implemente en ook met die oog op nuwe tegnologie.
    4. Gebruik die toerusting waarvoor dit ontwerp is
      Dit is van kardinale belang om toerusting aan te wend vir die doel waarvoor dit ontwerp, gemaak en verkoop word. “Daar is baie voorbeelde van toerusting wat vir ’n ander doel aangewend word as waarvoor dit bestem is en dan is produsente geneig om die produk af te kraak omdat die brekasie hoog is. Waarborge is gekoppel aan die korrekte doelmatige gebruik van toerusting. Boonop word mense se gesondheid, welstand en selfs lewens op die spel geplaas as toerusting nie gebruik word vir die doel waarvoor dit ontwerp is nie.”

Kontaknommers om byderhand te hou