Plaaslike vervaardigers staan breëbors by NAMPO

Pietman Botha, SA Graan/Grain-redaksie
Gepubliseer: 9 Junie 2023

287

NAMPO word nie verniet as die toonvenster van die landbousektor beskou nie. Jaarliks word daar uitstekende nuwe tegnologie uitgestal en produsente kry die kans om dit van nader te bekyk. Dit was opmerklik dat die tema deur die hele NAMPO 2023 gefokus het op die verhoging van effektiwiteit en doeltreffendheid. Verder het aspekte soos die optimering van arbeid en meer hektare per arbeider ook uitgestaan.

Nuwe tegnologie
Die Suid-Afrikaanse produsent word gedwing om internasionale tendense na te volg. Groot vervaardigers bring nuwe tegnologie na Suid-Afrika en dan word dit deur produsente aangepas om in hul basiese behoeftes te voorsien. Produsente besoek NAMPO veral om nuwe planne en komponente te vind om hul bestaande implemente aan te pas en sodoende produksie te optimeer. Die boereplanne is ’n verdere voorbeeld van die vinding­rykheid van plaaslike produsente.

Plaaslike produkte
Plaaslike vervaardigers het vanjaar weer hulle kant gebring om te help om ’n klompie tergende probleme aan te pak. ’n Interessante nuwe skaar was byvoorbeeld by Skaarland te sien. Die doel van hierdie skaar is om die grond beter te deurlug en sodoende produksie per hektaar te verhoog. Die kwaliteit is volgens die vervaardiger baie goed. In studies wat gedoen is, het dié skare heelwat meer hektare as die mededingende ingevoerde skare bewerk voordat dit vervang moes word. Alhoewel hulle duurder as die ingevoerde skare is, “betaal die Skaarland-skare dit dubbel en dwars terug”.

Skaarland, ’n Suid-Afrikaanse vervaardiger, het aandag getrek met ’n skaar wat grond beter deurlug en sodoende produksie per hektaar verhoog.

Planters
By die Suid-Afrikaanse plantervervaardigers was ook nuwe verwikkelinge. Weens oornames van vervaardigers kan uitgesien word na heelwat nuwe tegnologie in die toekoms. Veral die plant van dekgewasse word tans ondersoek en hierdie nuwe planters sal eersdaags bekendgestel word.

Sommige vervaardigers poog om hul implemente so saam te stel dat meer as een bewerkingsaksie gelyk gedoen kan word. In hierdie verband het veral die Lemken-fynsaadplanter opgeval. Die saadbed word gemaak, die kunsmis word geplaas en dan word die saadbed weer gekompakteer sodat die planter die saad in optimale omstandighede kan plant. Hierdie is beslis ’n implement om te oorweeg vir produsente wat koring konvensioneel onder besproeiing verbou.

Wat plaaslik vervaardigde fynsaad-direkteplant-planters betref, is daar ook ’n opsie vir elke produsent se eie omstandighede. Die Piket-planter is hoofsaaklik ontwerp om die saad op die regte diep­te in die grond geplaas te kry. Die gebruik van hidrouliese druk om die snykouters diep genoeg in te kry, help sonder twyfel. Equalizer-planters gaan met behulp van hulle nuwe vennote definitief beter daaraan toe wees. Gegewe die ekstra kapasiteit, kan daar nou beter op die vervaardiging gefokus word. Equalizer is ook in die proses om ’n planter wat dekgewasse in byvoorbeeld mielies kan plant, te ontwikkel. Dié planter sal eersdaags na die mark gebring word.

Suid-Afrikaanse plantervervaardigers Lemken en Equalizer het ’n verskeidenheid nuwe produkte NAMPO toe gebring.

Onkruidbeheer
Onkruidbeheer is een van die produsent se belangrikste take. Nuwe tegnologie is ook hier aan die kom. Gerigte onkruidspesifieke bespuiting van onkruid tussen gewasse is reeds bekend. TeeJet het egter hierdie tegnologie ’n bietjie verder geneem en hulle kan nou groen onkruide tussen ander groen gewasse bespuit. Tot op hede kon die meeste vervaardigers net groen onkruide op ’n bruin agtergrond bespuit. Hierdie stap sal onkruiddoderverbruik sonder twyfel verminder.

Stropers
Die meeste produsente maak staat op stropermonitorkaarte vir toekomstige besluite. Tog kan die stroperkaarte heelwat uit wees sonder dat die produsent dit besef. AgriCAD het ’n maklik installeerbare skaal vir tapkarre en graanbunkers ontwikkel. Hierdie skale kan as kontrole vir die stroperdata gebruik word sodat daar vinnig verstellings aan die stroper aangebring kan word om die data se korrektheid te verbeter.

Spilpunte
Diefstal is al ’n geruime tyd hier ’n groot uitdaging – veral ouer spilpunte word geteiken om die koper te steel. Verskeie vervaardigers het hierdie probleem in nuut vervaardigde spilpunte reggestel en die meeste van die kabels is deesdae binne die spilpuntpype versteek. Hierdie stap maak dit net daardie bietjie moeiliker vir die diewe.

Met die aandrywing van kleiner spilpunte is daar ook interessante oplossings vir beurtkrag ten toon gestel. Senter 360 gebruik ’n klein petrolenjin om die spilpunt aan te dryf. Hierdie is ’n oulike plan om aan te hou besproei wanneer die krag af is, maar die patent kan ook op ander plekke werk waar daar dalk water is maar nie krag nie. Ongelukkig sal dit net vir klein spilpunte kan werk – vir die groteres sal ander planne gemaak moet word.

Plaaslike vervaardigers van spilpunte het innoverende oplossings vir diefstal en beurtkrag bekendgestel.

Nuwe tegnologie in die veebedryf
Jaarliks word daar op NAMPO ook nuwe tegnologie in die veebedryf vertoon en bekendgestel. Boonop is die uitstallings van die verskillende groot- en kleinveerasse altyd iets om te sien. Dit is verblydend dat daar deurlopend nuwe vordering in die teel van vee is.

Oor die algemeen was die oorheersende tema by die uitstal­lers om die effektiwiteit, doeltreffendheid en winsgewendheid van die produsent te verhoog. As ’n produsent sy kudde deur teling wil verbeter, was daar ’n goeie norm op NAMPO te sien. Deur teeldoelwitte aan te pas, kan produsente se diere dalk ook soos dié op NAMPO Park lyk.

Veediefstal bly sonder twyfel ’n groot probleem – een tameletjie vir die produsent is onder meer om te bewys dat teruggevinde vee aan hom behoort. IDScan het ’n interessante manier ontwikkel om hiermee te help. ’n Bees se neusafdruk is uniek, amper soos ’n mens se vingerafdruk. Deur dit af te neem, kan produsente hul diere identifiseer. IDScan maak dit moontlik om elke dier se neus as ’n kalfie af te neem en te stoor en sodoende kan die produsent vir die res van die dier se lewe bewys dat dit syne is. Voorwaar ’n goeie plan om die diewe uit te oorlê!

IDScan het ’n interessante manier ontwikkel om veediewe uit te oorlê deur ’n bees se neusafdruk soos ’n vingerafdruk te neem en te stoor om diere te identifiseer.

Wat die voeding asook die enting en dosering van diere betref, is daar nie regtig nuwe tegnologie beskikbaar nie – dalk ’n klein verandering hier en daar. Vir die ekstra aanplanting van sojabone het die voermaatskappye tog hul produkte aangepas sodat die benutting van soja-oesreste geoptimeer kan word.

Vir veehantering was daar wel nuwe aanpassings te sien. ’n Verskuifbare afdak oor die drukgang om koelte te maak of ’n nekklamp wat die bees se kop ook oplig is net voorbeelde van hoe arbeid by vee beter kan funksioneer. Plastiek kan ook op baie plekke aangewend word. Plastiekpypdrukgange en -veehanteringsgeriewe is ten toon gestel – voorwaar iets om te bekyk.

Plastiekpypdrukgange en -veehanteringsgeriewe is by die vee-afdeling ten toon gestel.