Kanolasaad – wat produsente moet weet vir 2021

Gepubliseer: 9 Februarie 2021

1271
Corné Louw
senior ekonoom, Graan SA
corne@grainsa.co.za

As produksie-inset maak saad ongeveer 15% van ’n kanolaprodusent se produksiekoste uit. Al Suid-Afrika se kanolasaadbehoeftes word uit Australië, Europa of Kanada ingevoer, met die gevolg dat die voorsiening van genoeg saad ’n uitdaging is.

Graan SA kommunikeer deurlopend met saadmaatskappye om seker te maak die regte kultivars – teen die regte hoeveelhede – is betyds beskikbaar.

Beskikbaarheid van saad
Produsente kan uit altesaam tien kommersieel beskikbare kanolakultivars kies, wat een nuwe kultivar (eksperimentele kultivar) insluit.

Geen kanolasaad word plaaslik vermeerder nie. Saadmaatskappye meen dat die plaaslike mark te klein is daarvoor en dat die vermeerdering van bastersaad, wat die grootste persentasie van die mark beslaan, te duur is. Hulle voel ook dat die isolasievereistes van sulke vermeerderings van so ’n aard is dat dit nie prakties moontlik vir Suid-Afrika se relatiewe klein area is nie.

Aangesien 100% van Suid-Afrika se kanolasaadbehoeftes ingevoer moet word, is die voorsiening van genoeg saad ’n kuns. Dit bemoeilik sake vir plaaslike saadmaatskappye, want indien daar te veel saad ingevoer word, moet hulle die voorraad dra. Daar bestaan ook ’n kans dat die saad vernietig moet word, omdat die kieming van kanolasaad ’n pro­bleem raak hoe ouer dit word.

Graan SA het met al die saadmaatskappye gesprekke gevoer om voldoende saad van die regte kultivars vir 2021 te help verseker. Die 2020-kanolaseisoen het alle vorige rekords oortref en moontlike uitbreidings in kanola-aanplantings word verwag. Vanuit terugvoer van die verskillende maatskappye blyk dit dat daar wel hierdie seisoen genoegsame voorraad beskikbaar behoort te wees. Populêre kultivars – veral korter groei­ers – kan egter vroeg uitverkoop.

In 2020 is 47% van die kanola­oppervlakte geplant met Clearfield-kultivars; 34% met konvensionele kultivars en 19% met TT-kultivars (sien Grafiek 1).

Grafiek 1: Kanolakultivars per groep volgens 2020-aanplantings.
Bron: SOILL

Saadpryse
Pryse van kanolasaad vir die 2021-seisoen het met 2,9% toegeneem. Tabel 1 toon die saadpryse vir die 2021-seisoen aan. Tabel 2 toon aan wat met die rand/Austra­liesedollar-wisselkoers gebeur het sedert 2018. Jaar op jaar het die rand met 14,2% verswak teenoor die Australiese dollar, wat beteken dat saad heelwat duurder as verlede jaar dieselfde tyd ingevoer word. Daar moet ook in ag geneem word dat al hoe meer saad vanuit Kanada ingevoer word – die rand het oor ’n jaartydperk ook met 8,7% teenoor die Kanadese dollar verswak.

*eksperimentele kultivar

Takel saadprobleme so
Onder die Plantverbeteringswet word saad se kieming en suiwerheid beskerm. Die minimum ontkiemingsvereistes vir kanola onder die Plantverbeteringswet is 60%. Vir gesertifiseerde saad moet die ontkieming ten minste 70% wees, maar die meeste maatskappye waarborg tussen 80% en 90% of 90% en 100%.

Ervaring uit die verlede bevestig die belangrikheid om saad by ’n erkende maatskappy met ’n bewese rekord in Suid-Afrika aan te koop. Dit is altyd goed om ’n kontrole te hê om na te verwys – probeer dus om nie net een kultivar aan te plant nie.

Indien enige saadprobleme vermoed of ondervind word, moet die volgende stappe gedoen word:

  • Dring by die saadverteenwoordiger op ’n ondersoek ter plaatse aan.
  • Hou rekord van datums en gesprekke.
  • Versamel en stel soveel moontlik inligting op skrif, neem foto’s of maak video-opnames.
  • Indien die probleem nie opgelos word nie, moenie te lank wag voordat die volgende stappe oorweeg word nie:
    • Tree in verbinding met ’n onafhanklike wetenskaplike om ’n ondersoek ter plaatse te doen.
    • Lede kan Graan SA in kennis stel indien die nodige aandag nie by die saadmaatskappy verkry is nie.
    • Neem dit met die Departement van Landbou, Grondhervor­ming en Landelike Ontwikkeling (DALRRD) op indien die saak steeds nie opgelos is nie.
    • ’n Handelskontrole-ondersoek sal gedoen word ingevolge die Plantverbeteringswet.

DALRRD het ook die volgende wenke:

  • Produsente word aanbeveel om rekord van lotnommers of kodenommers te hou.
  • Tydens die aankope van saad behoort ’n ontledingsertifikaat van die kwaliteit van die spesifieke saadlot, uitgereik deur ’n ge­registreerde saadlaboratorium, aangevra te word. Hierdie uitslae behoort nie ouer as drie maande te wees nie.
  • Produsente word aangeraai om die fisiese sak en etikette wat aan die sak aangebring is, te bewaar sowel as die faktuur wat uitgereik is.
  • Kontakpersoon by DALRRD: Philip du Toit (Wes-Kaapse streeks­verteenwoordiger), Stellenbosch, 021 809 1656 of phillipdt@dalrrd.gov.za.