Proewe toon invloed van klimaat op opbrengs

Gepubliseer: 9 Februarie 2021

2647
Piet Lombard,
Direktoraat Plantwe­tenskappe, Wes-Kaapse
Departement van Landbou
Lisa Smorenburg,
Direktoraat Plantwe­tenskappe, Wes-Kaapse Departement van Landbou
Johan Strauss,
Direktoraat Plantwe­tenskappe, Wes-Kaapse Departement van Landbou

Die Wes-Kaapse Departement van Landbou doen jaarliks kultivarevaluasieproewe in die Swartland. Gedurende 2020 is die aantal proewe in die Swartland beperk tot twee lokaliteite en ’n totaal van 14 kultivars is in die kultivarevaluasieprogram getoets.

Daar is vier konvensionele kultivars, vier CL-kultivars (ClearfieldR, imasamokstolerant) en vyf van die TT-groep (triasientolerant) asook ’n kombinasietipe kultivar (naamlik ’n imasamoks- en triasientolerante kultivar, Hyola 580CT) ingesluit in die proewe. Geen nuwe kultivars is getoets nie en alle kultivars was basterkultivars.

Die reënval op Langgewens in die Swartland was 12 mm min­der as die langtermyngemiddeld, terwyl die reënval tydens Junie, Julie en Augustus beter was as die langtermyngemiddeld (Grafiek 1). Die temperature – veral die maksimum temperatuur – was bo gemiddeld hoog. Die maksimum tempera­tuur vanaf Mei tot Julie was tussen 1,3°C (Mei 2020) tot 2,4°C (Junie) hoër as die langtermyngemiddeld. Die temperature tesame met die reënval was waarskynlik ideaal vir gewasverbouing tot Julie. Kanolaplante is baie gevoelig vir hoë temperature tydens blom tot en met die einde van die saadvulpe­riode. Gedurende die periode was die maksimum (1,1°C) en minimum temperature (1,4°C) laer as die langtermyngemiddeld. Die koeler temperature het ook in September voorgekom. Die sameloop van klimaatsomstandighede in 2020 het gelei tot besonder goeie saadopbrengste.

Tygerhoek in die Suid-Kaap het ’n droër herfs gehad as wat die langtermynge­middeld aandui (Grafiek 2). Die gemid­­delde reënval vir die groeiseisoen was egter 92 mm­ meer as die langtermyngemiddeld van 244 mm. Gemiddelde temperatuur gedurende Augustus was 1,6°C (maksimum temperatuur) en 1,4°C (minimum tempe­ratuur) laer as die langtermyngemiddeld. Soos reeds bespreek, is dit die periode wat die plante blom en peule vul. Die periode van blom is egter baie langer (40 tot 60 dae) as in die Swartland (>30 dae). Die minimum temperatuur gedurende September by Tyger­hoek was laer as by Langgewens. Beide die maksimum en minimum temperature was ook laer gedurende Oktober, wat beteken dat die kanola in die Overberg gunstige temperature tydens saadvulpe­riode gehad het. Gevolglik kan ’n baie goeie opbrengs verwag word.

Grafiek 1: Maandelikse reënval vir 2020 sowel as langtermynreënval by Langgewens.
Grafiek 2: Maandelikse reënval vir 2020 sowel as langtermynreënval by Tygerhoek.

Resultate
Die opbrengsresultate vir die onderskeie gebiede vir 2018 tot 2020 word opgesom in Tabel 1 en Tabel 2. Die Clearfield-kultivars (CL) en triasientolerante kultivars (TT) se data is geskei van die konvensionele tipes. Die nuwe kombinasietipe kultivar, naamlik die imasamoks- en triasientolerante Hyola 580CT, is by die TT-groep ingesluit. Dit is ui­ters belangrik dat kultivars stabiele en hoë opbrengste oor seisoene en areas gee.

Twee kultivars, Diamond en Quartz, het in 2018, 2019 en 2020 die beste gevaar binne die konvensionele groep. Hulle het oor die afgelope twee seisoene 17% (Diamond) en 13% (Quartz) beter gevaar as die proefgemiddeld by Langge­wens. CB Tango en Hyola 50 kon vir die 2018/2019-seisoen nie ’n gemiddelde opbrengs wat beter was as die proefgemiddeld in die Swartland handhaaf nie. In die Suid-Kaap was Quartz en Diamond die twee kultivars wat die afgelope drie jaar die beste opbrengs gelewer het binne die konvensionele groep. Quartz het in al drie seisoene ’n beter opbrengs as Diamond gehad (Tabel 2).

Die Suid-Kaap is die area wat jaarliks die grootste persentasie CL-kultivars aanplant. Dié kultivars word gebruik vir die ondersaai van lusern. Vier CL-kultivars is in beide 2019 en 2020 in die kultivarproewe getoets. Die kultivar 45Y93 het in 2020 die hoogste persentasie saadopbrengs in die Suid-Kaap gegee. Dit word toegeskryf aan die langer as normale saadvulperiode. Die kultivar 44Y90 het die afgelope drie seisoene gemiddeld die beste gevaar, gevolg deur 43Y92.

Gedurende 2020 het 44Y90 die hoogste persentasie saadopbrengs in die Swartland gegee, gevolg deur 43Y92. Die CL-kultivar, 43Y92, het vir die afgelope twee- en driejaarsiklusse die hoogste ge­middelde opbrengs opgelewer.

’n Kanolablom vol dou.
Foto: Piet Lombard

TT-kultivars word dikwels in die Swartland gebruik om met onkruidbestuur te help. Triasienonkruiddoders is ’n Groep C1-produk, wat produsente ’n alternatiewe opsie gee om weerstandbiedende raaigrasonkruide te beheer. Dis belangrik om te besef dat die opbrengs van TT-kultivars betekenisvol laer is as die ander twee kanolagroepe s’n. Die Alpha TT-kultivar het in beide areas die beste gevaar binne die TT-groep van kultivars. Alpha se gemiddelde opbrengs was 97% tot 102% van die proefgemiddeld vir die Swartland en Suid-Kaap. Dit is ’n nuwe standaard wat nie voorheen deur TT-kultivars bereik kon word nie.

Lesse geleer uit 2020
Die 2020-seisoen was in beide die Swartland en die Suid-Kaap langer as gewoonlik weens die laer as normale temperature gedurende die blom- en saadvulperiode. ’n Kultivar soos 45Y93 kon sy potensiaal wys in ’n lang groeiseisoen. ’n Kortergroeiseisoenkultivar soos Hyola 350 TT kon moontlik nie die gunstige lente ten volle benut nie. Daar is nou wel ’n groter bewustheid rakende die opbrengspotensiaal van kultivars en produsente besef maar net weer watter beperkende rol die natuur kan speel.

Kanola in die Overberg.
Foto: Piet Lombard