Opbrengskompetisie was ’n goeie leerskool

Gepubliseer: 13 Desember 2023

212

Joppie Fourie van Makwassie was vanjaar die wenner in die afdeling vir sojaboonverbouing in die Noordwes-provinsie in die Groei vir Goud-opbrengskompetisie. Dit was die eer­ste jaar wat hy ingeskryf het. Fourie het op aandrang van die Agricol-sojaboonagent in sy omgewing ingeskryf, maar hy meen dat hy heelwat uit die proses geleer het en definitief weer sal inskryf as hy voel dat hy die betrokke jaar mededingend kan wees.

Hy boer op sy eie op die plaas Harborough net buite Makwassie. Hy is die derde geslag op die plaas en boer al twaalf jaar op eie stoom met mielies, sonneblom en beeste en nou ook die nuwe toevoeging, sojabone.

Die afgelope seisoen was die eerste keer wat hy sojabone aangeplant het. Hy het net 85 ha geplant omdat dit sy eerste probeerslag was en hy gevoel het dat die hoeveelheid hektare beheerbaar moet wees sodat hy die gewas goed kan bestuur.

Hoewel hy kultivars van verskillende maatskappye geplant het, het hy gewen met ’n Don Mario-Agricol-variëteit, DM 6.8iRR. Dit is merkwaardig dat hy as sojaboongroentjie nie net gewen het nie, maar ’n rekordopbrengs van 5,695 t/ha behaal het.

Hy verduidelik dat hy nie iets anders of spesiaal gedoen het op die gedeelte wat hy ingeskryf het nie. “Omdat ek vanjaar die eerste keer sojabone geplant het, het ek al die hektare presies dieselfde hanteer – juis om te sien hoe die verskillende variëteite teen mekaar opweeg.”

Joppie Fourie en seun Jóhann by die plaashek.

Kultivarkeuse
Wanneer Fourie ’n nuwe baster of variëteit oorweeg, kyk hy eerstens na basters wat in sy omgewing presteer. Hy meen dit is belangrik om sy navorsingsproses dáár te begin. Hy is lid van die Vaalbank-studiegroep wat jaarliks proewe plant om ou en nuwe produkte te evalueer. “Ek raadpleeg ook ander boere in my omge­wing wat ervaring het van die betrokke basters om te hoor wat hulle dink en hoe hulle die baster hanteer het.”

Benewens hierdie inligtingsbron, raadpleeg hy tydskrifte en lees artikels op die internet. “Voor ek iets doen, kry ek altyd soveel as moontlik inligting en maak dan my eie gevolgtrekking. Eers dan pas ek die inligting toe. Ek doen jaarliks proewe van my eie asook in samewerking met verskillende saadmaatskappye.”

Hy sê toe hy begin boer het, het hy eers niks verander nie. Soos hy geleer en waargeneem het, het hy stelselmatig dinge beproef en verander. “Deur fyn waarneming het ek heelwat by toonaangewende en suksesvolle boere in my omgewing geleer. Ek vra graag advies en ruil idees uit.”

Fourie volg ’n wisselboustelsel op sy lande. Hy plant 60% tot 70% van sy lande met mielies en dan word die oorblywende lande met sonneblom en nou ook sojabone geplant. “Wisselbou help om plantsiektes te onderdruk en grondgesondheid te bevorder.”

Beeste vorm ’n kernafdeling van sy boerdery. “Ek beskou my beeste as ’n uiters belangrike en bestendige vertakking in die boer­dery. Ek oorwinter die beeste op die plantreste op die lande en dit verseker ’n goeie voervloei deur die jaar.”

Bekalking op die lande word volgens presisiebeginsels toegepas. Die gedeelte waarop hy die sojabone geplant het, is ’n Avalon-tipe grond, terwyl die res van die plaas se lande wissel van Avalon tot die tipiese Hutton-grond van die Noordwes-provinsie met ’n lae kleipersentasie en vlak helling. Omdat die plaas redelik sanderige lande het, doen hy minimumbewerking op die lande om die waai van die bogrond op die lande te bestuur. Hy doen wel ’n diep tandbewerking van so 650 tot 700 mm op die ry.

Volgens Fourie het hy die afgelope seisoen geen bemesting op die sojabone gedoen nie. “Ek oorbemes my mielielande in die voorafgaande seisoen. Ek neem dan grondmonsters voor ek weer plant. Ek het die afgelope seisoen dieselfde gedoen met die sojabone. Voor ons geplant het, het ek grondmonsters geneem en ook weer nadat ek gestroop het om te kyk wat die gewas onttrek het sodat ek weet hoe om veral die fosfor (P) en kalium (K) reg te stel.”

Wat onkruidbeheer betref, het hy met ’n rolstaaf voor die planter in die land gegaan om ’n goeie saadbed voor te berei. Nadat hy geplant het, het hy ’n vooropkomsonkruiddoder gespuit. Ongeveer vier tot ses dae na plant het hy weer ’n vooropkomsonkruiddoder saam met glifosaat gespuit.

“Ek het die sojabone twee keer voorkomend met ’n swamdoder gespuit. Met eerste blom het ek Optimum MoB wat boor en molibdeen bevat, toegedien. Met blom het ek Ampligo gespuit om bolwurm te beheer.”

Fourie gebruik ’n biologiese produk vir beter wortelont­wikkeling.

Die blok wat hy ingeskryf het, is op 7 November 2022 met ’n John Deere 1750-planter geplant en op 2 Mei 2023 met ’n Claas Tucano-stroper gestroop.

Rywydte op die sojaboonaanplan­tings was 1,15 m en hy het ’n plantestand van 280 000 plante/ha gerealiseer.

Fourie vertel dat hulle vroeg in die seisoen – van Oktober tot Desember – baie reën gehad het, maar toe van Kersfees tot einde Januarie slegs 10 mm ontvang het. “Die min reën het gepaard gegaan met uiters hoë temperature,” sê hy. Die situasie het egter verbeter en van Februarie af het hy weer goeie reën ontvang.

Vog was dan ook die afgelope seisoen se grootste uitdaging omdat hulle vroeg in die seisoen versuiptoestande beleef het en daarna was dit weer te droog.

Wat plaagbeheer betref, probeer Fourie om siektes en insekte proaktief te bestuur. “My beplanning word reeds vroeg gedoen, wat beteken dat ek voor die aanvang van die seisoen reeds produkte en plaagbeheermiddels wat besonder duur geword het, teen laer pryse kon koop.”

Hy verduidelik dat hy koste so goed as moontlik probeer bestuur sonder om opbrengs in te boet. Bemesting en plantestand word jaarliks na gelang van die beskikbare grondvog en weervoorspellings bestuur. Beurtkrag het egter veroorsaak dat hulle addisionele koste moes aangaan wat wins­gewendheid onder geweldige druk plaas.

Fourie se raad aan ander produsente, veral jong boere, is om genoeg tyd aan beplanning en tydsbestuur te gee. “As jy lande en toerusting vir planttyd moet voorberei, doen dit betyds. Plant is die be­langrikste aktiwiteit van die seisoen. Doen dit met oorgawe en hou waar moontlik binne jou omgewing se beste vensterpe­riode vir plant.”

Hy meen hy het nog baie om te leer. “Ek wil voortdurend meer weet en in alle aspekte van die boerdery verbeter en vernuwe.”

Fourie noem dat hy graag sou wou sien dat georganiseerde landbou uitvoerka­nale ondersoek en oplossings vir uitvoer en oorskotte identifiseer. “Ons as graanprodu­sente is prysnemers. As ons daarin kan slaag om oorproduksie vinnig weg te werk deur byvoorbeeld uitvoer, sal pryse meer stabiel wees en dit sal ons meer mededingend maak. Dit sal groot voordele vir die hele landbouwaardeketting inhou,” sluit hy af.

Joppie Fourie en seun Jóhann by die plaashek.