November 2018

ESTIE DE VILLIERS, redakteur, SA Graan/Grain

Die nuwe plantseisoen vir die winterreënvalstreek lê voor die deur en die meeste produsente het reeds hulle saadbestellings vir die 2018/2019-seisoen geplaas. Daar is egter nog ’n paar wat kop krap oor watter kultivar hulle moet plant.

Soos wat dr Annelie Barnard en mnr Willem Kilian van LNR-Kleingraan tereg sê: “Produsente word gebombardeer met inligting aangaande kultivarkeuse en daar is tans soveel kultivars beskikbaar dat menige produsent se kop begin draai wanneer hy sy kultivarkeuse moet doen. Dit is net nie moontlik om ’n sinvolle kultivarkeuse te maak sonder betroubare data nie.”

SA Graan/Grain het daarom by LNR-Kleingraan, AB InBev en die Wes-Kaapse Departement van Landbou aangeklop om uit te vind wat hulle vir die nuwe seisoen voorstel.

Koring
Willem Kilian en dr Annelie Barnard, LNR-Kleingraan, Bethlehem 

Ondanks die negatiewe publisiteit wat koring in die noordelike dele van Suid-Afrika kry, is dit ’n totaal ander storie in die suidelike verbouingsgebiede. Droëlandverbouing in die Wes-Kaap beslaan gemiddeld sowat 50% van die totale koringproduksie in die land. Kleingraanproduksie vind hier hoofsaaklik in twee geografiese gebiede plaas, naamlik in die Swartland- en die Rûens-gebiede.

Nadat die Wes-Kaap in die afgelope twee seisoene onder strawwe droogtetoestande gebuk gegaan het, het goeie reënval – veral in die Swartland – gedurende die 2018-seisoen voorgekom. Swak klimaatstoestande in die oostelike gedeeltes van die Rûens het egter veroorsaak dat verwagte opbrengste laer as gewoonlik gaan wees.

Kultivars bly steeds een van die belangrikste skakels in die opbrengsketting en die vereistes wat vandag aan ’n kultivar gestel word, is geweldig hoog. Die belangrikste hiervan is dat dit goed aangepas moet wees, ’n hoë opbrengspotensiaal moet besit, siektebestand moet wees en ’n bevredigende kwaliteit moet hê sodat dit aanvaarbaar sal wees vir die maal- en bakbedrywe.

Verskeie kultivarevaluasieproewe is in die vorige jaar (2017) weer in samewerking met die Departement van Landbou op 15 en 17 lokaliteite in die Rûens en Swartland onderskeidelik, geplant.

Resultate
Die Nasionale Kultivarevaluasieprogram wat deur die LNR-Klein­graan en Wes-Kaapse Departement van Landbou uitgevoer word, bied die ideale geleentheid om objektiewe inligting rakende kultivarprestasie in die verskillende gebiede te bekom. Die proewe word op ’n geordende wyse in al die verskillende produksiegebiede aangeplant en statisties verwerk om betroubare resultate aan produsente te verskaf.

Een van die statistiese modelle wat gebruik word, is die sogenaamde AMMI-analise. In hierdie model word die genotipe x omgewing-interaksie gebruik om die reaksie (prestasie) van kultivars by alle lokaliteite waar dit aangeplant is, te voorspel. Die voordeel van hierdie tipe ontleding is dat die beste presteerders by elke lokaliteit geïdentifiseer kan word.

In Tabel 1 en Tabel 2 word die beste presteerders gedurende die 2017-seisoen by die verskillende lokaliteite, waar proefresultate gebruik kon word, aangedui.

Uit die resultate van die Swartland kan afgelei word dat daar ’n paar kultivars, wat die “top vier” by die meeste lokaliteite gehaal het, uitgestaan het. SST 0166 was by nege lokaliteite in die boonste vier, terwyl SST 88 en PAN 3471 elk sewe keer verskyn. Dit sou dus logies wees om op hierdie drie kultivars te konsentreer wanneer kultivarkeuse in die Swartland gedoen word.

In die Rûens was daar vier kultivars wat by al die lokaliteite die meeste voorgekom het. Hierdie kultivars was SST 0166 (elf keer), SST 0117 (tien keer), SST 0147 (nege keer) en SST 88 (agt keer). Dit is ook noemenswaardig dat dit nie deurgaans dieselfde kultivars is wat die beste by verskillende omgewings presteer nie.

Ander belangrike aspekte om te onthou
Planttyd is die enigste tyd in die seisoen wanneer produsente volle beheer oor die produksieproses het. Hieronder is ’n paar goue reëls om die seisoen op die beste moontlike manier af te skop:

  • Gebruik saad van bogemiddelde gehalte. Aspekte soos saadsuiwerheid en ontkiemingspersentasie is belangrik.
  • Dra sorg dat saadbehandelings korrek gedoen is.
  • Baseer kultivarkeuse vir 75% van aanplantings op bekende presteerders en toets nuwe belowende kultivars op 25% van die oppervlakte.
  • Gebruik altyd die duisendkorrelmassa van die spesifieke saadlot om plantdigtheid in plante per vierkante meter te bereken. Groot afwykings van die beplande plantestand kan voorkom as kultivars teen ’n vasgestelde kilogram per hektaar geplant word.

Gars
Daniel de Klerk, agri-prosesseringspesialis, AB InBev

Gars speel ’n belangrike rol in die droëlandboerderystelsels van die Suid- en Wes-Kaap. Garsproduksie is ’n aantreklike opsie as gevolg van onlangse verbeterings in opbrengs, siekteweerstand, verdraagsaamheid vir korter seisoene en moutgarskwaliteit.

Die pro-aktiewe bestuur van gars vir moutgraad is essensieel. Variëteite reageer verskillend op insette soos kunsmistoediening, plantdatum, plaagdodertoediening en plantdigtheid.

Produsente moet op die uitkyk wees vir variëteite wat in die verlede deurlopend goed in hul spesifieke streke presteer het, sowel as variëteite wat weerstand bied teen siektes wat meer algemeen in hul streke voorkom. Kies ’n variëteit nie bloot op grond van opbrengs nie, maar op grond van die totale stel eienskappe wat die variëteit bied, omdat verskille in agronomiese en siekteweerstandbiedende eienskappe ’n beduidende impak op die totale insetkoste, sowel as die uiteindelike kwaliteit van die geproduseerde gars, kan hê.

Variëteite wat tans beskikbaar is, is geteel om aan te pas in alle garsproduksie-omgewings in die Suid-Kaap en is verdraagsaam wat lokaliteit en seisoen betref.

Die volgende variëteite sal in 2019 beskikbaar wees vir plant:

  • Agulhas is ten beste aangepas in omgewings met ’n hoë opbrengspotensiaal. Dit het ’n laer stikstofvereiste.
  • Hessekwa is die voorkeur-moutgarsvariëteit wat in die Suid- en Wes-Kaap geproduseer word. Dit het weerstand teen blaarvlek en -roes, maar het ’n effe hoër stikstofbehoefte.
  • Elim (eksperimenteel) het verbeterde opbrengs vergeleke met Hessekwa, met ’n langer groeiperiode en weerstand teen blaarvlek en -roes. Dit is die geskikste vir omgewings met ’n hoë potensiaal en het ’n verlaagde stikstofbehoefte.
  • S16 (eksperimenteel) word nog op die proef gestel en presteer goed in laer-opbrengs- of korter-seisoensomgewings.

Hou ook in gedagte die markvereiste vir die individuele variëteite soos opgesom in Tabel 3.

Kanola
Piet Lombard en dr Johann Strauss, Wes-Kaapse Departement van Landbou

Die keuse van die regte kanolakultivar is die eerste stap na sukses in die verbouing van dié gewas. Dis egter belangrik om ’n paar eienskappe en bestuursaspekte in gedagte te hou alvorens die finale keuse gemaak word.

Produsente moet vooraf deeglike beplanning doen en onkruid­geskiedenis in ag neem alvorens op ’n kultivar besluit word. Onkruid met weerstand kan die tipe kultivar bepaal. Die chemiese onkruiddoderprogram word bepaal deur die tipe kultivar (konvensioneel, triasien-tolerant [TT] en imasamoks-tolerant [Cl]).

Konvensionele en Cl-kultivars is meer groeikragtig as TT-kultivars. Die gemiddelde opbrengs van eersgenoemde groepe was in 2017 nagenoeg 10% hoër as dié van die TT-groep. Cl-kultivars is minder gevoelig vir die oordrag van sulfonylureas of te wel die SU’s (Groep B).

Fisiologiese ontwikkelingstempo – en veral die aantal dae tot blom, asook die tydperk van blom is belangrik. In die Rûens is daar soms vroeg vog beskikbaar. Hier is kultivars met ’n langer groeiseisoen boonop goed aangepas (vinnige kultivars kan te vroeg gesaai word). In areas waar die reën normaalweg vroeg ophou (wes-, sentraal- en noordelike Swartland), moet korter groeiseisoenkultivars verkieslik geplant word.

Siektes
Dit word aanbeveel om kultivars met verskillende swartstamweerstandsgene af te wissel. In gebiede met ’n hoë swartstamrisiko moet kultivars met ’n goeie swartstamweerstand aangeplant word.

Sclerotinia het in 2018 weer voorgekom nadat dit min in 2017 kop uitgesteek het. Dit is bewys daarvan dat die Sclerotinia-sklerosiums, wat as bron van besmetting dien, in die grond oorleef. Die siekte sal dus voorkom as die klimaat gunstig daarvoor is. Sclerotinia is ’n siekte wat algemeen in die Rûens voorkom. Die siekte word in sekere hoë reënvalstreke van die Swartland waargeneem, maar die gebied waarin dit voorkom, vergroot jaarliks. Geen kultivar het weerstand teen die siekte nie en daarom is goeie wisselbou van kardinale belang. Kultivars wat besonder vroeg blom is ook meer blootgestel aan die siekte en kan selfs ’n tweede swambespuiting benodig.

Slotsom
Nadat bogenoemde punte aandag geniet het, kan daar op ’n kultivar besluit word. Selekteer ’n kultivar met goeie opbrengspotensiaal wat aan bogenoemde vereistes voldoen. Vra jouself af of dit ’n beproefde kultivar is wat reeds voorheen in die nasionale kultivarproewe getoets is. Dit is belangrik om seker te maak dat die saad van die kultivar van jou keuse wel beskikbaar is.

In Tabel 4 word die kultivareienskappe van die kultivars wat in 2015 tot 2017 getoets is, weergegee.

Hawer
Willem Kilian en dr Annelie Barnard, LNR-Kleingraan, Bethlehem

Die AMMI-analise word normaalweg ook in die hawerprogram gebruik om kultivarkeuse te vergemaklik. Ses hawerkultivarproewe is in die Rûens en Swartland uitgevoer.

Die ernstige droogtetoestande wat in 2017 geheers het, het ongelukkig meegebring dat daar nie genoeg lokaliteite beskikbaar was waar die model aangewend kon word nie.

In Tabel 5 word die hawerkultivars wat tans in die Wes-Kaap aanbeveel word, saam met elkeen se planttydspektrum aangedui.

Publication: November 2018

Section: On farm level