Wiele

Hou die Isuzu mu-X in gedagte

Jannie Rossouw, motorliefhebber en besoekende professor, Wits Besigheidskool
Gepubliseer: 1 Oktober 2023
Die Isuzu mu-X 3.0 LSE.

 

Voornemende kopers wat ’n sportnutsvoertuig oorweeg, moet nie die Isuzu mu-X oorsien nie. Die mu-X het my verras en kopers sal dieselfde verrassing kry.

Die mu-X bied alles wat die kieskeurige koper se hart begeer. Daar is ’n keuse tussen ’n 1,9-liter-dieselenjin (110 kW en 350 Nm) en ’n drieliter-dieselenjin (140 kW en 450 Nm), wat albei aan outoma­tiese ratkaste gekoppel is. Daar is ook ’n keuse tussen tweewiel- en vierwielaandrywing. Teen Augustus 2023 het pryse gewissel vanaf R708 000 vir die intreevlak 1,9-liter-model tot R960 600 vir die super­luukse drieliter-ONYX-model.

Superluuks is nie ’n woord wat ek ligtelik gebruik nie. Die kajuit is luuks afgewerk en daar is ’n derde ry sitplekke. Voornemende kopers kan hul eie stempel afdruk deur te kies uit agt verskillende kleure vir die binne-afwerking van die mu-X. Daar is ook verskeie uitlate vir die lugversorger, so niemand hoef warm te kry op ’n lang rit nie.

Ek hou van die mu-X se goeie padgedrag en soepel outoma­tiese ratkas met ses ratte. Isuzu rapporteer die brandstofverbruik van die drieliter-dieselenjin as 7,6 liter/100 km, maar werklike verbruik word in ’n groot mate deur die gedrag van die bestuurder bepaal.

Die mu-X se sleepvermoë sal lang vakansieritte ’n plesier maak, want enige sleepwa tot 750 kg kan gehaak word. Die sleepvermoë vir sleepwaens en woonwaens met inloopremme wissel van 2 100 kg tot 3 500 kg, afhangend van die model in die reeks.

In ANCAP-botsingstoetse (Australasian New Car Assessment Programme) het die mu-X volpunte behaal. Dit gee gerusstelling aan voornemende kopers.

Die mu-X is 4,85 m lank, 1,87 m breed en 1,83 m hoog. Voorts is die grondvryhoogte 235 mm. Dit beteken dat die mu-X swakker paaie in die platteland met gemak sal baasraak.

Saam met die D-MAX bakkiereeks, bied Isuzu in Suid-Afrika twee voertuie wat wyd aangewend kan word. Isuzu-bakkies is uitstekende verkopers en die mu-X is net so betroubaar. Om die mu-X beter bekend te stel, kan Isuzu oorweeg om hierdie twee voertuie saam te bemark.

Hatfield Motor Group het ’n Isuzu mu-X 3.0 LSE met twee­wielaandrywing vir die doeleindes van hierdie artikel beskikbaar­gestel.

Leserskompetisie
Om deel te neem aan die maandelikse SA Graan/Hatfield Motor Group-leserskompetisie, druk op die knoppie. Vul die inskrywingsvorm in en beantwoord ’n eenvoudige vraag om ’n kans te staan om ’n R3 000-koopbewys by enige Hatfield Motor Group-handelaar te wen. Die bewys kan gebruik word om ’n voertuig te diens, ’n nuwe voertuig, parte of bybehore te koop.

Readers competition
To enter the monthly SA Grain/Hatfield Motor Group readers’ competition, click on the button below. Complete the entry form and answer a question to stand a chance to win a R3 000 voucher at any Hatfield Motor Group dealer. The voucher can be used towards: servicing a vehicle, buying a new vehicle or buying parts or accessories.