November 2018

PROF CHRIS S DANNHAUSER, emeritus professor, Weidingkunde

Hierdie is die derde en laaste aflewering in ’n reeks wat handel oor die gebruik van weidingsgewasse as dekgewasse in bewaringslandbou- en wisselboustelsels. Dit handel oor die gebruik van meerjarige somergrasse en die algemene rol wat eenjarige weidingsgewasse in die beplanning van wisselbou speel.

Tussengewasverbouing
Normaalweg beteken wisselbou die verbouing van mielies vir een jaar, afgewissel met ’n eenjarige dekgewas die volgende jaar. ’n Tweede moontlikheid bestaan ook, waar genoemde eenjarige dekgewasse in alternatiewe rye tussen die mielies geplant word, wat bekend is as tussengewasverbouing.

’n Voorbeeld hiervan is ’n proef wat deur dr Erika van Zyl op Dundee Navorsingstasie (KwaZulu-Natal) in ’n seisoen met ’n reënval van 783 mm gedoen is. Die mielies is vroeg in Desember geplant. Later in Desember is die somerpeulgewasse tussen die mielierye geplant, wat Dolichos, sojabone en akkerbone ingesluit het. In Februarie is winterspesies (Japannese radys, weiwieke, serradella en hawer) ook tussen die mielies geplant.

Die resultate wat uit hierdie navorsing verkry is, is insiggewend en word in Tabel 1 uiteengesit. Die hoër plantproduksie van mielies gemeng met Dolichos (Foto 1) en Japannese radyse is duidelik sigbaar. Die beste diereproduksie is verkry met ’n tussenverbouing van akkerbone, hawer, weiwieke en Japannese radys.

Die oes van die mielies in hierdie tussengewasverbouingstelsel kan op verskillende maniere geskied: Met die wintergewasse word die mielies op die normale tyd geoes (± Mei) en die oesreste en wintergewasse, wat tussenin groei, word later in die winter bewei. Indien nie-rankende somergewasse saam verbou is, kan die mielies op die normale tyd gestroop en dan ook later bewei word, of goeie kuilvoer kan geproduseer word. Andersins kan dit as ’n weimieliemengsel bewei word.

Meerjarige somergrasse as wisselbougewasse
Dit is gewoonlik produsente met ’n groter veekomponent wat meerjarige weidingsgewasse in ’n wisselboustelsel, vir groter volume weiding en hooiproduksie, gebruik. Die grasspesies wat vervolgens bespreek word, is van die meer algemene grasse. Daar is heelwat meer gewasse wat gebruik kan word, soos byvoorbeeld peulgewasse (lusern) en meerjarige koelseisoengewasse (langswenkgras), maar daarvoor word besproeiing meestal benodig.

Rhodesgras (Foto 2 en Foto 3) is die mees bekende langtermynwisselbougewas en word veral deur groente- en tabakprodusente gebruik omdat dit aalwurm onderdruk. In ’n mengsel met ’n peulgewas, soos byvoorbeeld Stylosanthus, kan dit ’n groter rol in grondgesondheid speel. Dit kan dien as weidingsgewas, hooi of staande hooi.

Dit vestig vinnig en het aktiewe rankers. Rhodesgras moet nie te kort bewei word nie, want dit verkort sy lewe, maar met goeie bestuur het lande al vir meer as 15 jaar oorleef. As produsente dit net vir ’n beperkte tyd as wisselbougewas wil gebruik, is hierdie eienskap ook voordelig.

Oulandsgras is ’n goeie weidings- en hooigewas, wat in die oostelike Hoëveld alombekend is. Vir goeie kwaliteit en hoë produksie moet dit deeglik bemes word en kan dit daarom as ’n mediumtermynwisselbougewas gebruik word, wat grondkwaliteit in koue dele verbeter.

Smutsvingergras vaar uitstekend op leemgronde en is geskik as weiding, hooi en staande hooi. Hierdie gras word dikwels in ’n mengsel met Rhodesgras en witbuffelsgras (die Potch-mengsel) (Foto 4) gebruik, wat ook ’n goeie korttermyn-meerjarige opsie is. Dit is goed aangepas in die meeste gebiede waar mielies verbou word.

Bloubuffelsgras (Foto 5) is droogtebestand en vaar bevredigend in warmer dele. Dit is egter onlangs in kouer dele, soos byvoorbeeld Vereeniging langs die Vaalrivier en die oostelike Hoëveld opgemerk – en ook in die warmer Laeveld. Twee kultivars is beskikbaar: Molopo, hoofsaaklik vir hooi, en Gayndah, hoofsaaklik vir weiding.

Navorsing wat buite Bela-Bela in Limpopo met Molopo, Gayndah-bloubuffelsgras en borseltjiegras gedoen is, het interessante produksiesyfers opgelewer. Hierdie resultate dui op die belangrikheid van kwaliteit weiding of hooi. Die gras het op drie verskillende lande in Oktober, na die eerste reën, begin groei en op 1 Januarie is dit met speenlammers begin bewei tot 13 April. Die produksiesyfers is in Tabel 2 aangebring.

Die gedagte is nie om Molopo-bloubuffelsgras af te skiet nie, want dit is ’n uitstekende hooigewas as dit reg bemes word en daar op die regte tyd hooi daarvan gemaak word. Die resultate wys daarop dat maksimum produksie nie die enigste norm is om te oorweeg nie. Kwaliteit moet ook in gedagte gehou word. Blaarrykheid met minder en fyner stingels en hoë kwaliteit is besondere eienskappe van Gayndah en borseltjiegras.

In Tabel 3 word die bydrae van die vyf genoemde meerjarige grasse tot dierevoeding aangedui. Dit is onder droëlandtoestande geproduseer en word verder deur grond, vog en bestuur beïnvloed.

Indien meerjarige gewasse in ’n wisselboustelsel gebruik word, word dit gewoonlik vir twee tot vier jaar op dieselde land verbou. Korrekte weidingsbestuur van só ’n land, vir meer as een jaar, het tot gevolg dat meer organiese materiaal opgebou kan word as in ’n eenjarige stelsel. Vinnige wisselweiding, soos byvoorbeeld hoë- of ultrahoëdrukbeweiding, word op sulke lande aanbeveel om oorbeweiding en kompaksie van die grond te voorkom.

Algemene aanbeveling
Ter afsluiting van die reeks, herhaal ek net graag weer ’n paar belangrike punte in die weidingsbestuur van dekgewasse:

  • Die gebruik van weidingsgewasse en weidende vee, in ’n wisselboustelsel, kan met goeie bestuur voordele vir grondgesondheid inhou.
  • Indien kleigronde klam is, kan lang en aanhoudende beweiding kompaksie veroorsaak. Dit is veilig om vir korter tye, op grond wat nie te nat is nie, vinnige wisselweiding toe te pas.
  • Die neerlating van mis en urine en die intrapping van organiese materiaal speel ’n groot rol in grondverbetering.

Vir meer inligting, kontak die outeur by 082 873 4736 of chriswei@vodamail.co.za.

Publication: November 2018

Section: Spotlight on cover crops