FOKUS OP DIÉ PRAKTYKE en BLY VOLHOUBAAR BOER

Gepubliseer: 6 Mei 2024

433
Magda du Toit,
SA Graan/Grain-medewerker

Deel 2

Die volhoubaarheid van enige boerdery-onderneming is nou gekoppel aan die voordele wat die produsent kan bewerkstellig deur produksiepraktyke en doeltreffende gebruik van hulpbronne, die bestuur van insetkoste en bemar­kingstrategieë. Hoë opbrengste moet nie die enigste mikpunt wees nie, maar wel volhoubare winsgewendheid.

In deel een van hierdie artikelreeks, wat in die April-uitgawe verskyn het, is daar spesifiek gefokus op presisieboerdery en -tegnologie, diversifikasie, teling en kultivarkeuse. In deel twee word gekyk na produksiepraktyke betreffende gewasrotasie of wisselbou, grondgesondheid, die rol van dekgewasse, geïntegreerde plaagbestuur, waterbestuur, grondwater en besproeiingskedulering asook opleiding en onder­steuningstelsels.

Gewasrotasie of wisselbou
Grant Pringle, hooflandboukundige by Pannar, meen gewasrotasie is die hoeksteen waarop volhoubare produksie berus. “Daar is oor en oor bewys dat monokultuur oor jare tot verminderde produktiwiteit lei. In ’n monokultuurstelsel is die kanse groter dat praktyke soos gereelde diep grondbewerkings en kunsmistoedienings sal toeneem in ’n poging om die afname in opbrengs te probeer aanspreek.”

“Gewasrotasie bied verskeie voordele, met beter onkruidbeheer wat vir my die sterkste uitstaan. Deur gewasse te roteer of ’n oorlêstelsel te inkorporeer, kan produksierisiko’s – veral in droë jare –aangepak word. Die rotasie van gewasse beteken dat meer as een gewas op die plaas geplant word en dit beteken dat risiko versprei word,” sê Andries Wessels, verkoopsbestuurder: Saad by Syngenta.

Deur gewasse te roteer, kan die lewensiklusse van siektes, insekte en onkruide onderbreek word en volgens Pringle is dit ’n groot tree in die rigting van volhoubare produksie. “Verder kan die rotasie van gewasse ook die implementering van verminderde bewerking fasiliteer,” sê hy.

Grondgesondheid
Grondgesondheid word deur vele faktore beïnvloed. Een daarvan is onvolhoubare landboupraktyke. Volgens Wessels hou sekere landboupraktyke soos monokultuurverbouing, sekere grondbewerkings en die onwetenskaplike toediening van kunsmis, gevolge in soos grondversouting, -versuring, kompaksie, korsvorming en ’n algehele versteuring van die voedingstofsiklus in die grond.

“Grond bevat ’n diverse hoeveelheid lewende organismes wat saamwerk om die ekologiese sisteem in die grond in balans te hou,” verduidelik Wessels. Grondstatus het ’n groot impak op produksie en kan volhoubaarheid in die gedrang bring omdat swak grondstatus opbrengsverliese kan veroorsaak. Gereelde grondontleding is daarom uiters belangrik, meen hy.

Grondstatus het ’n groot impak op produksie omdat swak grondstatus opbrengsverliese kan veroorsaak.
Foto: Gerda Kock, 2019

Daarenteen, verduidelik Pringle, is grondgesondheid een van die uitkomste van volhoubare landbou-praktyke. “Deur gewasrotasie, dekgewasverbouing en vermin­derde bewerking toe te pas, kan die algehele grondgesondheid op ’n plaas verbeter word. Deur verteenwoordigende grondmonsters te neem en die resultate daarvan te gebruik om jou kuns­misprogram uit te werk en grondkorreksies te doen, kan ’n mens die opbrengs­potensiaal van jou grond verbeter. Die doel van die neem van grondmonsters is om die grondstatus in balans te bring om sodoen­de optimale opbrengs te verseker.”

Omdat plante nutriënte uit die grond opneem wanneer dit groei en reproduseer, is dit nodig dat daar gereeld bepaal word wat presies in die grond aangaan, verduidelik Wessels. “Verder moet daar in ag geneem word dat verskillende gewasse se behoeftes verskil ten opsigte van die soort en hoeveelheid voedingstowwe wat benodig word.”

Die grond se pH-status is ’n belangrike bron van inligting ten opsigte van die status van grondgesondheid, meen hy.

Die rol van dekgewasse
Grondgesondheid word ook bepaal deur hoe doeltreffend die koolstofsiklus in die grond kan plaasvind. Daarom speel dekgewasse so ’n groot rol.

Die plant van dekgewasse word in dieselfde mandjie gegroepeer as begrippe soos die opbou van grondprofiele, grondgesondheid, volhoubare landbou asook herlewings- of bewaringslandbou.

“Dekgewasse verhoog wortelmassa in verskillende grondlae wat meebring dat daar beter deurlugting in die grond is en ook beter verspreiding van mikrobes plaasvind. Dit is verder bewys dat dekgewasse die grond beskerm teen die eroderende effekte van water en wind. Waar produsente dus dekgewasse in hul boerderysisteme kan inpas, behoort dit by te dra tot die verbetering van hul grondprofiele omdat koolstof in die grond gesekwestreer word en dit op sigself kan bydra tot die volhoubaarheid van die boerderypraktyke op die plaas,” aldus Pringle.

Geïntegreerde plaagbestuur
Soos regulatoriese druk oor die gebruik van ’n verskeidenheid chemiese plaagbeheerprodukte wêreldwyd toeneem, moet produsente alternatiewe oplossings ondersoek.

Die Voedsel- en Landbou-organisasie van die Verenigde Nasies (FAO) definieer geïntegreerde plaagbeheer as “… die omsigtige oorweging van alle beskikbare plaagbeheertegnieke en gevolglike integrasie daarvan om te verhoed dat onaanvaarbare vlakke van ’n plaagpopulasie opbou terwyl die gebruik van plaagbeheermiddels en ander intervensies by vlakke gehou word wat ekonomies regverdigbaar is en ook die risiko wat dit vir die mens en natuur inhou, beperk”.

“Geïntegreerde plaagbestuur bied ’n volhoubare oplossing wat die gebruik van verskillende metodes van plaagbeheer aanmoedig en sluit in chemiese, biologiese, kulturele en meganiese beheer. Alternatiewe opsies word aangebied om saam met die tradisionele chemiese en bewerkingsmetodes te gebruik. Dit is dus ’n multidimensionele bestuursbenadering vir die beheer van peste en plae,” verduidelik Pringle.

Wessels voeg by dat wanneer ’n mens spesifiek na onkruidbeheer sou kyk, daar steeds verskeie opsies beskikbaar is wat met gewasrotasie gepaard gaan. Die kombinering van meganiese en chemiese opsies asook die afwisseling van produkte, is verder noodsaaklik om weerstand teen beheermiddels te verhoed of hok te slaan.

Produsente moet daarteen waak om slegs staat te maak op een soort onkruiddoder. “Dit is raadsaam om middels met verskillende metodes van werking met mekaar af te wissel,” sê Pringle.

Waterbestuur – grondwater en besproeiingskedulering
Besproeiing dra wêreldwyd grootliks tot voedselsekerheid by. Hoewel die totale besproeide oppervlakte in Suid-Afrika relatief klein is, speel besproeiing ’n uiters belangrike rol in verhoogde produksie.

In Suid-Afrika bied toegang tot betroubare en bekos­tigbare elektrisiteit ’n bykomende uitdaging. Beurtkrag asook kragonderbrekings as gevolg van kabeldiefstal of verswakte infrastruktuur het ’n enorme impak op boerderybesighede wat vir hulle besproeiing, pakhuise, verkoelingstelsels, hoenderhokke of voerkrale van elektrisiteit afhanklik is.

“Die probleme wat met elektrisiteitsvoorsiening ervaar word, beklemtoon die waarde van besproeiingskedule­ring. Besproeiingskedulering stel die produsent in staat om die seisoenale waterbehoefte van die plant met sy watertoediening te sinkroniseer. Die doel van besproeiingbestuur en -skedulering is om waterverlies te beperk,” sê Wessels.

Produsente kan slegs water doeltreffend gebruik as hulle weet wanneer en hoeveel water daar tot die plant se beskikking is of wanneer om toe te dien in die geval van besproeiing. Vir ’n produsent wat besproei, is dit belangrik om te weet hoeveel water die gewas gebruik het, hoeveel water in die grond beskikbaar is en hoeveel water die gewas nog nodig gaan hê sodat die regte hoeveelheid water weer toegedien kan word, verduidelik Wessels.

Die grondtipe, grondtekstuur en grondprofiel sal bepaal hoeveel plantbeskikbare water (PBW) daar is. Sandgrond sal byvoorbeeld minder water vashou as leem- en kleigrond. Verder sal die spesifieke gewas se sensitiwiteit vir waterstremming in verskillende groeistadia bepaal hoeveel water uit die grond onttrek kan word voordat waterstremming intree.

Waterverliese word beperk deur effektiewe besproeiingbestuur en -skedulering.
Foto: Gerda Kock, 2020

Grondvogmeters is hier die produsent se vriend. Met vogmeters kan akkurate voglesings geneem word. Vogmeters neem deurentyd lesings en produsente kan enige tyd op die internet inteken en kyk hoe die grondwaterprofiel daar uitsien. Met hierdie inligting beskikbaar is dit moontlik om ingeligte besluite te neem oor hoeveel water die gewas in die spesifieke tydstip van sy ontwikkeling nodig het.

Die gevoeligheid vir waterstremming in die verskillende groeistadiums van mielies kan soos volg opgesom word:

  • In die vegetatiewe stadium is mielies gevoelig vir waterstremming van opkoms tot in die blomstadium. Hoewel matige waterstremming aan die begin van die vegetatiewe stadium wortelgroei kan stimuleer, is die teendeel waar tydens ernstige waterstremming. Ernstige waterstremming gedurende dié fase kan wortelontwikkeling beperk, wat veroorsaak dat die plant nie na wense ontwikkel en groei nie wat uiteindelik graanopbrengs negatief beïnvloed.
  • In die reproduktiewe stadium wat duur van blom tot graanvulling, kan waterstremming swak bestuiwing veroorsaak wat weer eens graanopbrengs negatief kan raak.
  • Waterstremming tydens die graanvulstadium kan lei tot swak graanvulling, laer pitmassa en ’n laer opbrengs. Graankwaliteit kan ook benadeel word.

Opleiding en ondersteuningstelsels
Produsente het vandag toegang tot ’n baie groot databasis van inligting, maar nie almal gebruik al die data wat hulle het in al hulle bestuursbesluitneming nie. “Data beteken nie veel as dit nie omgeskakel word in praktiese inligting nie. Die data wat deur presisieboerdery gegenereer word, moet doeltreffend benut en toegepas word. Dit is al manier waarop ’n boer sy winsgrens kan opskuif,” meen Jaco Minnaar, Agri SA-president en produsent van Hennenman.

Dit is belangrik dat produsente wat in tegnologie belê, behoorlike opleiding ontvang sodat hulle die volle waarde uit die praktiese implementering daarvan kan ontgin.