Chemiepryse: Nog ’n inset wat kopseer veroorsaak

Gepubliseer: 6 September 2022

821
Christiaan Vercueil, junior landbou-ekonoom, Graan SA, christiaan@grainsa.co.za

6 September 2022 – Suid-Afrika se landbouchemiebedryf is 100% afhanklik van invoere om in die plaaslike vraag te voorsien. Die wêreld se waardekettings is omvergegooi deur die COVID-pandemie – en net toe die situasie aan die verbeter was, het Rusland se inval in die Oekraïne die kaarte weer geskommel. Genoegsame landbouchemiese middels is noodsaaklik vir voedselsekerheid en om te verseker dat produsente optimaal en winsgewend kan produseer.

Met die situasie in Suid-Afrika betreffende stygende insetpryse oor die afgelope twee jaar, word daar regmatig meer en meer gefokus op produ­sente en hul winsgewendheid. Chemiekoste kan ongeveer tussen 10% en 15% van ’n produsent se totale insetkoste uitmaak en dit kan dus ’n definitiewe impak op winsgewendheid hê.

Grafiek 1: Internasionale glifosaatpryse.

Hoogtepunte in die landbouchemiemark
Soos voorheen genoem, is waardekettings sedert die COVID-pandemie onder druk. In die geval van glifosaat is China een van die grootste produseerders van dié bestanddeel, met sowat 80% wat daar vir die uitvoer­mark geproduseer word. Die hoof­drywers vir die glifosaatmark is die kommersialisering van geneties gemodifiseerde, onkruiddoderbestande gewasse asook verhoogde landbou- en nielandboutoepassings van glifosaat.

Pryse van internasionale landbouchemiese middels
Tabel 1 toon internasionale onkruiddoderpryse (in ’n Chinese hawe) per aktiewe bestanddeel. Die eerste gedeelte van die tabel toon ’n jaar-op-jaar verandering van hierdie pryse aan. Prysbewegings op ’n jaarlikse basis wys dat die meeste van die belangrike aktiewe bestanddele prysstygings ervaar het, behalwe vir trifluralien, wat ’n afname van 19,6% aandui. Die ander gelyste bestanddele se pryse het met tussen 25% en 90% toegeneem. Hierdie prysstygings is verder vererger deur ’n wisselkoers wat in dieselfde tydperk met 15,7% verswak het.

Tabel 2 toon hoe internasionale prysbewegings oorspoel na die plaaslike mark. Dit toon dieselfde data as in Tabel 1, maar net in randwaarde. Omdat Suid-Afrika totaal afhanklik is van invoere, het die verswakkende wisselkoers ’n effek op elke skakel in die waardeketting. Die hoër persentasiestyging in rand was dus ’n kombinasie van die internasionale styging en die invloed van die wisselkoers.

Dit blyk uit Tabel 3 dat insekdoders se pryse effens minder deur internasionale gebeure beïnvloed is. Alhoewel ’n styging van 27,7% vir chloorpirifos steeds groot is, is dit in vergelyking met ander produkte en insette aan die laer kant.

Tabel 4 toon weer eens die effek van die swakker wisselkoers duidelik aan en hoe dit pryse buite verhouding laat toeneem.

Wat internasionale swamdoderpryse betref, soos in Tabel 5 voorgestel, is dit slegs trifloksistrobien wat ’n afname van 18,2% getoon het. Wat die ander aktiewe bestanddele betref, het pryse met tussen 2% en 22% gestyg. Die prysbewegings in randterme word in Tabel 6 uitgebeeld. In rand is die afname vir trifloksistrobien slegs 5,4% in vergelyking met 18,2% in die internasionale mark. Die ander aktiewe bestanddele se stygings beloop in randterme tussen 18% en 41%.

Plaaslike mark
Uit data ontvang van verskillende plaaslike maatskappye lyk chemieprysstygings hoog, maar wel in lyn met ander insette. Tabel 7 toon hierdie plaaslike prysstygings. Een bestanddeel om wel dop te hou, is glifosaat, wat tussen die onderskeie maatskappye met ge­middeld 147% kan toeneem in prys. Die ander produkte se pryse kan in die komende seisoen met tussen 7% en 26% styg.

Plaaslike chemieverskaffers word verantwoordelik gehou vir die effek van hul produkte op die omgewing. Verskeie projekte word tans deur CropLife geïmplementeer om die effek van die verbruik van chemiese middels op die omgewing te verlig en verminder.

Ten slotte: Glifosaatpryse
Volgens chemieverskaffers is daar ’n moontlikheid dat glifosaatpryse verder kan styg. Glifosaat is ’n baie kontroversiële middel, maar dit speel ’n uiters belangrike rol in onkruidbeheer in Suid-Afrika. Hierdie produk vergemaklik produksie en vogbewaring vir produsente om te help om voedselsekerheid te verseker. Volgens inligting ontvang van verskeie chemiemaatskappye, lyk dit nie of daar in die komende seisoen ’n tekort aan landbouchemiese middels gaan wees nie. Markte bly egter wisselvallig met probleme wat in ’n oogwink kan opduik en die situasie kan verander.