May 2018

DR WILLEM HOFFMANN, lektor: Landbou-ekonomie, Universiteit Stellenbosch en PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain redaksiespan

​​​​​​Winsmarges, veral in graanproduksiestelsels in die winter­reëngebiede, is onder druk. Hoewel dit nie ‘n nuwe situasie is waarin produsente verkeer nie, was dit voorheen dalk erger en dit sal heel moontlik in die toekoms weer verswak.

Die opwaartse prysbeweging van insette, soos in Grafiek 1 aangedui, wat die groei op produsentepryse vir kommoditeite navolg, is redelik bekend. ’n Styging in produkpryse is juis wat insetprysinflasie veroorsaak. Let egter daarop dat die beweging tussen insetpryse en produkprys nie winsgewendheid bepaal nie. Wins is, uiters belangrik, ‘n faktor van produkprys x hoeveelheid produk – insetprys x hoeveelheid inset.

Die teenvoeter vir die prystendense is juis dat produsente oor tyd meer produktief raak en met minder insette uitset handhaaf, of met dieselfde hoeveelheid insette hoër uitsette lewer. Met ander woorde: Produsente is tegnies genoodsaak om oor tyd meer produktief te raak.

Grafiek 2 illustreer die indekse vir verskillende groepe insette in die landbousektor vir die periode 1990 tot 2015. Die indeks vir vaste verbeterings is oor die afgelope paar jaar besig om af te wyk van dié van die ander insette. Dit dui moontlik daarop dat produsente besig is om nie in landbou te herinvesteer nie. Dit is heel moontlik weens ‘n groot aantal eksterne onsekerhede soos klimaat, politieke beleidsonsekerheid rakende grondhervorming en buitelandse beleid, maar die rol van laer winsgewendheid van gewasproduksie kan nie onderskat word nie.

Grafiek 3 toon die tendens tussen boerdery-inkomste (omset), produksiekoste en netto boerdery-inkomste. Uit Grafiek 3 wil dit voorkom asof landbou redelik winsgewend is en asof winsgewendheid styg. Dit is belangrik om daarop te let dat deel van die groei in netto boerdery-inkomste die gevolg kan wees van die tendens uitgewys in Grafiek 2.

Dit beteken dat produsente hul wins nie in landbou herinvesteer nie, maar eerder fondse vanuit landbou diversifiseer. Dit is verder opvallend dat die kostelyn in Grafiek 3 redelik glad is en die omset en netto boerdery-inkomstelyne redelik wisselvallig is. Dit dui bloot op een van die realiteite van landbou: Dat inkomste onseker en koste seker is.

Vir graanprodusente in die droëlandsaaigebiede van die Wes-Kaap is die probleem nie onbekend nie. Tipies sal diversifisering as moontlike oplossing aangebied word. Dit is egter presies hier waar die probleem van beperking in alternatiewe opsies ‘n uitdaging word. Daar is slegs ‘n paar bekende graan-, oliesaad- en weidingsgewasse wat vir dié unieke klimaat aangepas is.

Geheelboerderybegrotings
‘n Mediterreense klimaat word gekenmerk aan winterreënval en warm, droë somers. Die risiko verbonde aan droogtes kan met behulp van geheelboerderybegrotings geillustreer word.

‘n Tipiese plaasmodel wat oor ‘n 20 jaar-periode strek, sodat ‘n volle meganisasievervangingsiklus toegelaat kan word, is gebruik as platform om die impak van verskillende risikodraende faktore te meet en om die impak van boerderystrategie te toets.

Die modelle meet die verwagte interne opbrengskoers op kapitaalinvestering (IOK). Die modelle is ontwikkel vir boerderygebiede in die Swartland om die impak van byvoorbeeld droogte op ‘n boerdery te meet. In die model is ‘n tipiese verspreiding van reënval – ingedeel in goeie, gemiddelde en swak jare – getoets.

‘n “Droogte” kan dus gesimuleer word deur aan die begin van die tydperk een of meer swak jare in te sluit. Tabel 1 wys die verwagte interne opbrengskoers op kapitaalinvestering vir elke area met normale reënvalverspreiding en die interne opbrengskoers op kapitaalinvestering met ‘n droogte aan die begin van die periode.

Die interne opbrengskoers op kapitaal­investeringresultate in Tabel 1 is op investerings van ongeveer R94 miljoen in die geval van die Koeberg/Klipheuwel-plaas en R36 miljoen in die geval van die Rooi Karoo-plaas bepaal. Alles werk op aannames en hier is die aanname dat die “normale” reënvaltendens na die eerste drie jaar weer herstel, gebruik.

Dit wil voorkom asof die algemene opvatting dat die tyd wanneer produsente tot die boerdery toetree, water hou en dat dit bepalend kan wees ten opsigte van langertermynwinsgewendheid.

Bewaringsboerdery
Die opsies vir graanprodusente in veral die Wes-Kaap is beperk, maar boerderytegnieke is oor tyd verbeter. Bewaringsboerdery kan tot ‘n mate daartoe bydra om opbrengsverlies weens droogte te beperk. In Tabel 2 word die plase in ‘n droogte gesimuleer, maar met ‘n opbrengs van 100 kg koring per hektaar hoër – gegrond op die aanname dat bewaringsboerderypraktyke ‘n positiewe effek kan meebring.

Bewaringsboerdery, in kort, berus op drie fasette:

  • Minimum grondversteuring (bewerking);
  • wisselbou; en
  • vogbewaring met organiese materiaal (deklaag kan ook hieronder tel).

Die bekende voordele van bewaringsboerdery is verbetering in grondstruktuur, vogbewaring en toenames in die mikro-organismes in grond.

‘n Sentrale punt hiertoe is die invloed van wortels in die grond wat nie net deurlugting verbeter nie, maar ook bydra tot organiese materiaalinhoud (koolstof).

Veekomponent
‘n Ander strategie vir die graanprodusente in die Wes-Kaap kan wees om die veekomponent uit te brei of beter te benut. Dit moet egter nie strydig wees met die beginsels van bewaringslandbou nie – drakrag is dus krities.

Tabel 3 toon die potensiële impak van ‘n uitgebreide veevertakking (Dohne Merino). Let veral daarop dat stelsels wat slegs kontantgewasse insluit (tipies koring en kanola in ‘n drie jaar-koring-en-kanolarotasie) in “normale” toestande beter met die huidige veekomponent vaar, soos wat “tipies” vir elke area is. Indien daar ‘n groter veekomponent sou wees, sou dit wel die impak van ‘n droogte tot ‘n mate kon buffer. Dit is bloot die effek van koringopbrengs op die totale prestasie van die boerdery en dui daarop dat die produsent in “normale” jare sal baat by die normale kombinasie van kontant-tot-weidingsgewasse.

Produsente het ‘n lastige keuse om te maak, gegewe die huidige politieke en winsgewendheidsituasie van landbou. Tog is dit belangrik om te bly fokus op dít wat ‘n verskil kan maak, naamlik verhoogde effektiwiteit en doeltreffendheid. Produsente sal ook die samestelling van hul boerderye moet aanpas om die inkomstestrome van die besigheid te verander om wisselbou en veevertakkings in te sluit.

Oorweeg dit ook om boerderypraktyke, wat die produksie van hulpbronne oor tyd verbeter, in te sluit. Presisieboerdery is hierin van kardinale belang. Presisiegrond- en chemiese kartering kan ‘n belangrike rol speel om produksie te optimaliseer.

Finansiële beplanning
Gegewe die huidige politieke omstandighede moet elke produsent alles binne sy vermoë doen om self die effek van ‘n droogte te kan dra. Belastingaankope bied ‘n opsie om jou te verskans. Dit raak al hoe belangriker om goeie finansiële beplanning en -kontroles te implementeer. Jy moet weet wat die effek van ‘n droogte gaan wees en ‘n plan beraam om daarby verby te kom.

Met grondonteiening op die agenda, is dit belangrik om jou insetfinansieringstrategie te herbesoek. Die belangrikheid van lewensversekering en uitkeerpolisse kan moontlik van groter waarde wees – kredietverskaffers sal hierin ondersteuning moet verleen.

Investering in ‘n boerdery sal belangrik bly en voldoende infrastruktuur sal altyd hul waarde opmaak. Dit maak egter nie sin om ‘n stroper van R5 miljoen in die wind en weer te laat nie. Die effek van kontraktering sal ook ‘n belangriker rol begin speel. Oorweeg dit om masjinerie en toerusting só aan te skaf dat dit ook elders in die land ‘n inkomste kan genereer.

Om net op die negatiewe te fokus, sal jou nêrens bring nie. Fokus op maniere om oplossings te vind en om uitdagings die hoof te bied. Dink nuut – niemand het regtig die antwoorde nie. Kontak dr Willem Hoffmann by 021 808 3411 of Pietman Botha by 082 759 2991 met enige vrae oor hierdie artikel.

Publication: May 2018

Section: Mini-Focus on Money matters & Services