Wees voorbereid en bestuur self jou finansiële krisis

1979

Pietman Botha,
SA Graan/Grain
redaksiespan

Weens die skommelende klimaat waarin produsente in Suid-Afrika boer, is misoeste nie ongewoon nie. Die betaal van belasting is ook ’n werklikheid: Onthou net om alles binne die wet te gebruik om die bedrag so klein as moontlik te maak.

Finansies gaan altyd gepaard met spanning. Gaan dit sleg, moet die moeilike tye wat voorlê, bestuur word. Gaan dit goed, moet die belastingbetaling wat kom, bestuur word. Hoe dit ook al sy: Aandag moet aan die finansies gegee word. Die vooruitbestuur en beplanning van finansies is vandag van kritieke belang – sonder ontledings en beplannings is die voorkoming van probleme bykans onmoontlik.

Ontleed jou boerdery
Voor die belastingjaar afsluit, is dit belangrik dat elke produsent gaan sit en bepaal of daar ’n wins gemaak is of nie. Indien daar ’n wins is, moet produsente vir hulself fondse allokeer om voorsiening te maak vir aftrede. Daar moet ook besluit word waar hierdie surplusfondse belê gaan word. Moet hierdie surplusfondse in die boerdery geïnvesteer word of moet dit buite die boerdery belê word?

Dit is hier waar langtermyndoelwitte inkom. As die produsent ’n doelwit het om so vinnig as moontlik kontant te boer, moet die fondse binne die boerdery aangewend word. Indien daar ander doelwitte is, moet produsente bepaal waar die meeste rente met hierdie geld verdien gaan word.

Moet die geld miskien buite die landbou belê word? In swak landboujare kan hierdie bate ’n goeie bron van inkomste wees. In goeie finansiële jare is dit nie noodwendig die beste tyd om uit te brei of nuwe masjiene aan te koop nie – in sulke tye wil almal koop. Dit dryf die vraag na bates op en daarmee saam die prys. Dit mag beteken dat die bate teen ’n te hoë prys aangeskaf word – wat ’n mens dalk later duur te staan kan kom.

Dit maak sin om terug te sit en te koop as almal wil verkoop. Op dié manier kan die beter bates dalk teen laer pryse bekom word.

Soms moet die vraag gevra word: Is die belegging in nuwe toerusting en tegnologie die moeite werd? Dit lyk baie mooi as die nuutste trekkers in die land loop, maar kan ’n goeie tweedehandse trekker nie net so goed werk nie? Is die brandstofverbruik van hierdie nuwe trekker soveel beter as van dié ou trekker?

Oorsaak van probleme
Vele produsente is egter nie in die situasie dat wins gemaak word nie. Dit gee aanleiding tot spanning. Hier moet produsente krities na hul besigheid kyk en eerlik wees oor die oorsake van die probleme.

Baie keer is die oorsaak van die probleme bestuurbaar. Sommige produsente spandeer net meer as wat hul produksiekapasiteit is. Die produksiepotensiaal van die plaas is byvoorbeeld 4 t/ha en nou word daar bemes vir ’n opbrengs van 5 t/ha. Die gevolg hiervan is ongelukkig moeilikheid.

Produsente weet gewoonlik wat die oorsaak van die probleme is en dit is die winsgewendheid en risiko van die huidige gewasse wat verbou word. Deur aan te gaan met die bestaande praktyke gaan hulle net verder in die moeilikheid bring.

Dit laat ’n mens byvoorbeeld dink aan wat in die Noordwes-Vrystaat op die watertafelgronde gebeur het. Die produsente het hierdie gronde geploeg tot op ’n stadium wat dit net nie meer winsgewend was nie en bankrotskap hulle gedwing het om te verander. Dié wat nuwe, aangepaste produksiepraktyke toegepas het, was vinnig in die posisie om die ander produsente se gronde te koop en só is die hele omgewing se produksiepraktyke en ekonomie dramaties verander.

Pas bestaande praktyke aan
Dalk is ons nou weer in ’n tydperk waar die bestaande praktyke aangepas moet word om die winsgewendheid van die stelsel te verhoog. Produsente moet die realiteit aanvaar. As die binnelandse aanbod van watter produk ook al die binnelandse vraag oorskry, gaan daar teen uitvoerpariteitspryse geproduseer moet word.

Hierdie pryse laat gewoonlik nie volhoubare produksie toe nie. So wat nou? Moet die aanbod verminder word of moet die koste van produksie verlaag word? Dit is sekerlik die beste om albei te doen.

Om die koste van produksie te verlaag, moet aandag aan bemesting, brandstof en herstelwerk gegee word. Bemesting verteenwoordig tussen 20% en 30% van die kostes van die huidige algemene praktyke en brandstof en herstelwerk verteenwoordig tussen 20% en 27% van die kostes.

As hierdie kostes gespaar word, gaan dit verseker die produksie in die huidige stelsel benadeel. Die enigste manier om die kostes te verlaag, is om die effektiwiteit binne die stelsel te verhoog of om die produksiestelsel te verander. Dit sal beteken dat ander wisselbougewasse wat die opbrengste van die gewasse verhoog teen dieselfde koste verbou moet word. Dalk kan die inbring van bewa­ringsboerdery die skaal weer swaai? Produsente sal self oplossings vir hulle eie boerderye moet soek.

Omskakeling
Indien die stelselverandering nog nie winsgewend is nie, sal daar verseker baie meer intense veranderinge gedoen moet word. Dalk moet die area omgeskakel word sodat daar met vee geboer kan word? Maak weer eens seker dat hierdie nuwe laekostestelsel winsgewend gaan wees.

Ontleed finansies gereeld
Een manier om hierdie onnodige spanning hok te slaan, is om gereeld die finansies te ontleed en die beplanning op te gradeer om sodoende die probleme vroegtydig te identifiseer. Deur net te weet probleme is op pad, help nie veel nie: Reageer daarop en maak planne om dit te bestuur.

Dit is beter om self die probleme te bestuur, eerder as om deur die probleme bestuur te word. Ruim tyd in om die boerdery ordentlik te ontleed of te laat ontleed. Kyk veral na solvabiliteit, likiditeit en rentabiliteit en moet nie die toekomstige kontantvloei en doelwitte vergeet nie.

Solvabiliteit
Solvabiliteit gee ’n aanduiding van hoe solvent die besigheid is. Indien die boerdery nog solvent is, sal daar altyd ’n kans wees dat dit kan voortgaan, mits die beplande berekende solvabiliteit binne die norme bly. Gewoonlik word daar ook na die boerdery se skuldlas verwys as solvabiliteit ontleed word. Hierdie verhoudings word hoofsaaklik met inligting uit die balansstaat opgestel. Maak seker dat die balansstaat volledig en in tyd opgestel is.

In moeilike tye moet die balansstaat behoorlik ontleed word. Ondersoek die rente wat elke bate in die balansstaat verdien. As daar bates is wat minder rente verdien as die rente wat tans betaal word, moet die bate in kontant omgesit word en skuld betaal word. Soms maak dit sin om van die vaste bates soos grond te verkoop. Kyk net hoeveel rente die bate inbring asook wanneer dit verkoop moet word.

Likiditeit
Likiditeit is ’n aanduiding van hoe maklik korttermynskuld met korttermynbates afgelos kan word. Gewoonlik is dit hier waar boerderye se probleme lê. Onbeplande belasting wat betaal moet word in ’n tyd wanneer die meeste boerderye nie ’n inkomste verwag nie, kan baie ekstra druk op die kontantvloei plaas. Weens die koste van masjinerie en toerusting, word mediumtermynbates gewoonlik op krediet aangekoop en na ’n swak jaar kan die paaiemente ’n probleem wees. Praat met die finansiële instansies en reël vir uitstel.

Rentabiliteit
’n Verdere ontleding wat gemaak moet word, is om die toekomstige winsgewendheid of rentabiliteit van die besigheid te ondersoek. Hier gaan dit oor hoeveel wins die afgelope jaar gemaak is, hoeveel winste in ’n normale jaar gemaak kan word asook watter kombinasie van gewasse verbou moet word.

Om hierdie ontledings te kan doen, moet die produsent ’n volledige balansstaat, gewasbegrotings asook ’n toekomstige inkomste- en uitgawestaat en ’n toekomstige balansstaat opstel. Met hierdie berekeninge is ’n tydige kontantvloei beslis ’n vereiste. Hierdie state kan ’n produsent of konsultant help om akkuraat te bepaal hoe groot die probleem is en om die regte moontlike oplossings voor te stel.

Langtermynbeplanning
Ongelukkig bly die effek van misoeste of lae produkpryse nie net ’n probleem vir een jaar nie, maar ook vir die volgende paar jare. ’n Volledige langtermyndetailbeplanning en kontantvloei vir die volgende paar jaar moet hieroor opgestel word sodat ’n volledige, tydige geheelbeeld verkry kan word.

Betalingsprobleme moet dadelik aangespreek word: Moenie wag tot op nommer 99 nie, gaan sien die krediteure of die rekenmeester en begin met planne om die probleem aan te spreek en op te los. As daar ’n belastingprobleem verwag word, kan produsente ook planne daarstel om dalk met ’n verhoogde oortrokke fasiliteit vroegtydige belastingaankope te doen.

Ontleed die skuldprobleem asook die oorsake van die situasie
Enige aksie het ’n reaksie: Dit geld ook vir die besigheid se finansies. Indien die probleme geïdentifiseer is, moet die oorsaak van die probleem gesoek en reggestel word. Indien die winsgewendheid van die besigheid al vir ’n geruime tyd onder druk is, mag die eenheid dalk te klein geraak het om die vaste kostes te diens. Indien dit nie die geval is nie, moet daar ’n produksieprobleem wees.

Die fisiese hulpbronne kan ook ’n probleem wees. Dalk is die potensiaal net nie daar om die gewasse winsgewend te verbou nie? Ontleed die winsgewendheid van die verskillende bedryfstakke, insluitende vaste koste, en vergelyk dit met ander rolspelers in die bedryf. Hierdie ontleding sal ook aandui wat vir die spesifieke boerdery moontlik is en hoeveel skuld betaal kan word.

In enige bedryf is daar altyd sekere norme. Reeds direk na die oes is daar norme waaraan voldoen moet word. Een van die eerste aanduiders van probleme is die skuldlasverhoudings. Tabel 1 gee ’n aanduiding van wat die maksimum skuldlas van verskillende tipes boerderye behoort te wees. Hierdie is egter net norme en dit moet altyd saam met rentabiliteit, likiditeit en terugbetaalvermoë gesien word.

Indien ’n gedetailleerde begroting jaarliks opgestel is, vergelyk die resultate gerealiseer met die begroting en soek antwoorde vir die afwykings. Maak seker hoekom produksie nie met die grondpotensiaal korrespondeer nie, wat die rede daarvoor is en hoe dit reggestel kan word. ’n Ooroptimistiese begroting kan ook tot probleme lei.

As die rede vir die finansiële krisis meer langtermyn van aard is, byvoorbeeld ’n langtermyndroogte, ’n lang tydperk van swakker pryse of verkeerde finansiële besluite wat in die verlede geneem is, mag ’n ander benadering soos bateverkope nodig wees. Die produsent sal weer nuut na die boerdery moet kyk en alles moet herbeplan.

Optimaliseer die boerdery
Elke besigheid het plekke waar die effektiwiteit en doeltreffendheid verhoog kan word. Indien die boerdery se beperkings bekend is, kan dit bestuur word. Indien finansies die beperking is, moet die rentabiliteit van elke vertakking bereken word.

Die vertakking met die hoogste rentabiliteit moet verbou word tot ander beperkinge die produksie stop of tot die fondse beperkend raak. Indien daar ’n oppervlaktebeperking in die boerdery is, moet die vertakking met die hoogste bruto marge per hektaar verbou word tot óf al die lande beplant is óf tot ander beperkinge produksie stop.

Onthou net om ook die risiko van elke vertakking in aanmerking te neem.

Ondersoek ook tegnologie se effek om wins te verhoog en risiko te verlaag. Presisieboerdery is ’n bekende metode om wins mee te verhoog. Probeer om die lande te laat karteer en skakel die gedeeltes met laer potensiaal uit of om en pas ander praktyke toe.

Bemarking
Die gebruik van die termynmark maak dit ook moontlik om die pryse beter te bestuur en inkomste te verhoog – weer eens gaan dit tyd van die produsent vereis. Kundige personeel moet deel raak van die span om produkte beter te bemark.

Dit kan ook help om risiko’s te verskans. Insetversekering en haelversekering moet oorweeg word om die kapitaal in die boerdery te verskans.

Gaan praat met kundiges
Dit is nie ’n skande om hulp te soek nie. Gaan praat met finansiers, voorligters en konsultante om raad in te win en te help om die spesifieke probleem aan te spreek. Hierdie objektiewe buitestaanders sien dalk geleenthede en bedreigings in die besigheid raak wat telkemale misgekyk is.

Hierdie persone het dalk ook ’n model wat gebruik kan word om die berekeninge in detail te doen – iets wat sommer baie kan help.

Navrae kan aan Pietman Botha by 082 759 2991 gerig word.