November 2017

PROF ATTIE GERBER, dosent: Dokumentêre video, Noordwes-Universiteit

“Wa’sie dome?” vra ‘n man in ‘n moulose, gebleikte pers frokkie. Hy hang by die venster van sy klein Chinese motortjie uit.

Ek laat sak my kamera en kyk na die granietheuwel skuins voor ons. Voor ek kan antwoord, skree een van die meisies op die agterste sitplek: “Wat’s ‘n dome, Dad?”

Die kinders is om en by tien jaar oud en hulle is net soos die pa aangetrek. Net die kleure van die frokkies verskil, die een is blou en die ander een pienk.

“Dis ‘n dome.” Die pa draai om, maak ‘n boog met sy hande.

“Soos die dome in Jo’burg waar ons daai bike show gaan kyk het,” sê die seun.

Die trotse pa kyk na die heuwel en toe na my. Ek skud my kop. Nee. Ek oorweeg ‘n kort opvoedkundige lessie, maar volstaan met “Die koepel is orals, van hier tot die heuwels doer.” Ek wys na die koppies noord van ons.

“Ok, maar wa’sie gat?” Die teleurstelling is duidelik op sy gesig.

“Daar is ook nie ‘n gat nie,” antwoord ek. “Na miljoene jare se wind en weer is daar ook nie meer ‘n krater nie.”

“Nou hoekom maak hulle dan so ‘n fuss van die plek?” wil die man weet. Hy trek weg en skop klippe op soos die karretjie oor die sinkplaatpad bokspring.

Die leek se koepel
Daar is verskeie koepels. Eerstens is daar die leek se koepel. Dit is die granietheuwel net buite Vredefort op pad Parys toe. In die ou dae het daar blykbaar buite Vredefort ‘n bordjie gestaan: Vredefort se Koepel. Kyk uit vir die spreekwoordelike groot wit olifant heelbo, ‘n mislukte inligtingsentrum van die Vrystaatse regering wat miljoene gekos het en nou onveilig verklaar is. Eina!

Die sigbare koepel
Die tweede koepel verwys na die gebied wat al hoe meer toeriste trek. Dit is die koppies, klowe en valleie waardeur die Vaalrivier kronkel. Aan weerskante lê die Noordwes Provinsie en die Vrystaat.

‘n Mens kan dit ook die sigbare koepel noem – daardie heuwels as ‘n mens tussen Parys en Vredefort op die R59 ry, of tussen Parys en Potchefstroom op die R53. In die hartjie van hierdie koepel lê Venterskroon en naamborde soos Leeuwfontein, Tygerfontein, Schoemansdrif en Kopjeskraal sal knaend opduik.

In hierdie koepel is daar verskeie oorde wat wissel van baie basies (veld- en hengelkampe) tot uiters luuks. Sommige trek besoekers met die belofte van groot visse – veral vlieghengelaars. Ander wentel om witwatervaarte en bergklim, terwyl die stigting van private wildreservate aan die toeneem is. In hierdie koepel is iets vir almal.

Die sigbare koepel is minder as 50 000 ha groot (vergelyk dit met die 2 miljoen ha van die Krugerwildtuin) en dit kom min of meer oor­een met die gebied wat deur Unesco in 2005 tot ‘n wêrelderfenis­gebied verklaar is.

Die wetenskaplike koepel
Die derde koepel is die wetenskaplike een. Hom sien jy nie eens uit ‘n vliegtuig nie en om ‘n satellietfoto vanaf bykans 40 000 km bo die aarde reg te vertolk, is gespesialiseerde kennis nodig. Hierdie koepel dek die hele invloedsfeer of voetspoor van die meteoriet, met ander woorde ‘n straal van net onder 200 km om Vredefort.

Die wetenskaplike koepel strek dus verby Johannesburg in die noorde en Kroonstad in die suide. Die deursnee van die gebied is min of meer 380 km.

Al hoe meer besoekers stel belang in die geologiese uniekheid van die area en die rede waarom dit tot wêrelderfenisgebied verklaar is. Die meeste van hulle het slegs ‘n basiese kennis van geologie. Daar is nietemin hulp beskikbaar.

Geologiese speurwerk
Myns insiens word die koepel die meeste geniet as jy na tipiese meteorietbewyse soek. My boek Vredefort Dome – A stone from heaven is juis met hierdie doel in drie tale geskryf – Engels, Afrikaans en Frans. Ek het ook ‘n inligtingsvideo in vyf tale gemaak wat by die inligtingsentrum op Venterskroon gesien kan word.

In die sentrale deel van die koepel in die koppe bo Thwane Boskamp is ‘n pragtige uitsig oor rotslae, wat deur die impak van die meteoriet opgedruk en selfs omgekeer is. Hier ervaar jy een van die mooiste panoramas in die koepel.

Die mooiste geologiese muurpapier sien ’n mens by ‘n uitgediende granietmyn naby Kopjeskraal nie ver van Stonehenge in Afrika nie. Die swart dele word pseudotagiliet genoem. Die skok van die meteoriet het die rotse verpoeier, waarna dit met die gesmelte rots gemeng het. Dit het in die krake gevloei en in ‘n swart vorm gestol.

Met ‘n besoek aan uitgediende goudmyntonnels (byvoorbeeld Thabela Thabeng) sien ‘n mens baie mooi voorbeelde van kon­glomeraat (ronde klippe wat die teenwoordigheid van goud verklap). Die impak van die meteoriet het die verskillende geologiese lae omgekeer en graniet en goud van onder af boontoe gebring.

Oral in die koepel op staptogte sien ‘n mens skokkegels. Dit is klippe wat so hard deur die meteoriet getref is dat dit in kegels versplinter het.

Beplan jou besoek
Dit is lekker om deur die koepel te ry, al is die grondpaaie soms sleg, maar die beste manier om die meeste in die kortste tyd te ervaar, is om ‘n toergids te gebruik. Inligtingsentra op Parys, Venterskroon en Potchefstroom sal hul besonderhede verskaf. Die meeste toergidse ken die geologie van die koepel baie goed.

Ek en my studente se video’s oor die koepel is op YouTube beskik­baar. Tik atgerber1 op YouTube in en kyk onder meer na video’s oor die geologie, geskiedenis, biodiversiteit en ekotoerisme oor hierdie wonderlike plek. Met sulke voorafkennis gaan ‘n besoek aan die koepel soveel meer werd – en genotvol! – wees.

Publication: November 2017

Section: Focus on