Kan jou boerdery jou bekostig?

Gepubliseer: 4 Mei 2020

4436
Dr Philip Theunissen,
rekenmeester en landbou-ekonoom, Computus Bestuursburo

‘n Produsent se lewenskoste het ’n groot invloed op die finansiële lewensvatbaarheid van sy boerdery. Omdat produsente en lede van hulle familie wat by die boerdery betrokke is nie ’n formele salaris vir hulle dienste ontvang nie, word daar hoofsaaklik van onttrekkings uit die boerdery se bankrekening gebruik gemaak om hulle lewenskoste te dek, soos wat dit nodig is.

Hierdie onttrekkings hou nie noodwendig direk verband met die bestuursvlak óf die hoeveelheid werk wat die familie verrig nie. Dit korreleer ook nie altyd met die boerdery se wins vir ’n spesifieke jaar nie.

Boonop is daar deur die loop van die jaar ook nie altyd ’n akkurate aanduiding van hoeveel hierdie onttrekkings beloop het nie. Die volle omvang daarvan word gewoonlik eers duidelik wanneer die finansiële state opgestel word. Gevolglik is daar dan baie vrae oor of die boerdery aan die een kant al hierdie uitgawes kon bekostig en of die produsent en sy familie aan die ander kant regmatig vir hulle bestuur en/of arbeid vergoed is, veral wanneer die boerdery se wins onder druk is.

Onttrekkings versus wins
Grafiek 1 toon die onttrekkings en netto boerdery-inkomste (NBI) van 18 van Computus Bestuursburo se deelnemende produsente in die Oos-Vrystaat aan. Daarvolgens is daar geen verband tussen die onttrekkings en die NBI van hierdie groep produsente oor die afgelope tien jaar nie. Die NBI is baie wisselvallig en was oor die tydperk so laag as R95/ha en so hoog as R2 656/ha. Die onttrekkings toon ’n geleidelike toename oor die tien jaar van R192/ha in 2010 tot R309/ha in 2019.

Grafiek 1: Onttrekkings en netto boerdery-inkomste oor ’n tydperk van tien jaar.
Bron: Computus Bestuursburo

In Tabel 1 word aangetoon dat die totale onttrekkings oor die periode van tien jaar gemiddeld R446 083 per jaar vir hierdie groep produsente beloop het, waarvan die minimum R360 928 en die maksimum R562 623 was. Hierdie groep produsente het gemiddeld drie afhanklikes wat versorg moet word (hulleself ingesluit). Die onttrekkings beloop gemiddeld R146 124 per afhanklike per jaar.

Bron: Computus Bestuursburo

’n Verdere ontleding van die onttrekkings in Tabel 2 toon dat die groter produsente (met gemiddeld 2 806 ha) se onttrekkings R420 853 vir 2019 beloop het, teenoor die kleiner produsente (met gemiddeld 1 945 ha) se onttrekkings wat vir dieselfde jaar R482 327 beloop het. Die gemiddeld van al die produsente was R481 327 vir 2019 gewees. Die NBI vir die grootste produsente was R1 270/ha, teenoor die R673/ha van die kleinste produsente.

Bron: Computus Bestuursburo

Op die meeste kleiner plase word ’n beduidende deel van die arbeid deur die familie self voorsien. Waar groter boerderye dalk ook plaasbestuurders in diens het en daarmee saam aan hulself ook ’n meer formele salaris uitkeer, is dit meestal nie die geval met kleiner boerderye nie. Die afleiding is dus nie noodwendig dat kleiner produsente ’n hoër lewenstandaard as groter produsente geniet nie. In baie van hierdie gevalle is die onttrekkings waarskynlik laer as die ekonomiese waarde wat kleiner produsente tot hulle eie boerderye bydra.

Ekonomiese waarde
Hoeveel is ’n produsent dan regtig vir sy boerdery werd? Tabel 3 bevat inligting oor salarisse van sekere beroepe wat take verrig wat produsente op die plaas ook moet behartig. Die salaris van ’n produsent is aangepas om vir byvoordele soos ’n huis, huisbediende, elektrisiteit en ’n motor, waarvoor die boerdery gewoonlik ook betaal, voorsiening te maak. Dit ingesluit beloop die groep produsente se vergoeding dan gemiddeld R709 169 per jaar.

Bron: Michael Page Recruitment

Volgens die personeelagentskap, Michael Page Recruitment, verdien ’n finansiële bestuurder gemiddeld R846 050 per jaar en kan so ’n salaris tussen R343 000 en R1 567 000 per jaar beloop. ’n Menslikehulpbronbestuurder verdien gemiddeld R595 259 per jaar, teenoor ’n produksiebestuurder se R757 592. ’n Bemarkingsbestuurder kan van R802 261 tot R1 751 000 per jaar verdien. Die groep produsente in die Oos-Vrystaat verdien jaarliks gemiddeld meer as ’n produksiebestuurder en ’n menslikehulpbronbestuurder, maar minder as ’n finansiële bestuurder, ’n bemarkingsbestuurder en ’n vervoerbestuurder.

Bekostigbaar
Met inagneming van die produsent se vaardighede, markverwantheid en ondervinding wat sy vergoeding behoort te bepaal, is sy lewenskoste ’n uitgawe vir die boerdery. Die finale vraag sal dus wees of die boerdery sy persoonlike onttrekkings kan bekostig.

Grafiek 2 toon dat die groei in netto waarde, met ander woorde NBI minus vergoeding van vreemde kapitaal en plus of minus nieboerdery-inkomste en -uitgawes, met die uitsondering van 2011 en 2016, oor die tydperk van tien jaar steeds positief was. Dit beloop gemiddeld R563/ha oor hierdie tydperk teenoor die R215/ha van privaat onttrekkings, wat beteken dat daar steeds waarde tot die balansstaat toegevoeg kon word nadat die produsent en sy familielede se lewenskoste gedek is.

Grafiek 2: Onttrekkings en die groei in netto waarde oor ’n tydperk van tien jaar.
Bron: Computus Bestuursburo.

Werksbevrediging
Die Britse publikasie, The Guardian, het op grond van navorsing wat in 2014 gedoen is, 274 beroepe in rangorde geplaas van hoe bevredigend die mense in hierdie beroepe hulle werk ervaar. Die tien bevredigendste en ook die tien onbevredigendste beroepe verskyn in Tabel 4.

Volgens Tabel 4 was geestelike werkers (predikante, pastore en priesters) met ’n mediaanvergoeding van £20 568 per jaar die gelukkigste mense in hulle beroep, gevolg deur korporatiewe bestuurders met ’n mediaanvergoeding van £117 700 per jaar. Bestuurders in landbou, met ’n mediaanvergoeding van £31 721 per jaar, was derde en produsente was in die agste plek, terwyl hulle met ’n mediaanvergoeding van £24 520 tevrede was. Onder die tien onbevredigendste beroepe tel bestuurders van persele met dranklisensies, telebemarkers en skuldinvorderaars met mediaanvergoedings van onderskeidelik £25 222, £17 362 en £17 371. Teen ’n rand/pond-wisselkoers van R20 beloop die Britse produsente se inkomste ’n baie vergelykbare R490 400 in Suid-Afrikaanse terme.

Bron: The Guardian, 2014

Daar is duidelik nie ’n verwantskap tussen vergoeding en werksbevrediging nie. Die navorsers kom tot die gevolgtrekking dat werksbevrediging veel eerder verband hou met hoe betekenisvol die beroep is en veral of dit ander mense in die uitoefening daarvan beter kan laat voel. Werksbevrediging hang dus grootliks daarvan af of die beroep tot voordeel van iemand anders beoefen kan word. Dit is waarskynlik hoekom die meerderheid produsente steeds verbind tot hulle beroep bly. Dit is ten spyte van beserings, weerstoestande, politieke inmenging en die gevolglike onvoorspelbare finansiële vergoeding wat daarmee gepaard gaan en ongeag of hulle regmatig vir hulle ekonomiese waarde vergoed word of nie.

Bronne

  1. Financial guidelines for agricultural producers. Recommendations of the Farm Financial Standards Council.
  2. Resultate van die produksiejaar 1 September 2018 tot 31 Augustus 2019: Oos-Vry­staat-groep. Computus Bestuursburo, BK.