Liggingsdifferensiaal – ’n nuwe benadering

Gepubliseer: 7 September 2020

70
Johann Strauss,
Departement Landbou­ekonomie, Universiteit van die Vrystaat

September 2020 – Waarom is daar iets soos die liggingsdifferensiaal? Sommige rolspelers in die graan- en oliesadebedryf is van mening dat dit net ’n truuk van die Johannesburgse Aandelebeurs (JSE) is om die prys wat die produsent kry, af te druk, sodat die meulenaars en ander verwerkers goedkoper grondstowwe in die hande kan kry.

Mielies, ander grane en oliesade word op verskillende plekke in die land geproduseer en geberg. Hierdie produkte word ook op verskillende plekke verwerk en uitgevoer. Dit veroorsaak dat byvoorbeeld sojabone nie orals ewe veel werd is nie. ’n Honderdduisend ton sojabone in Standerton (waar die grootste oliepers in Suid-Afrika geleë is) is sekerlik meer werd as dieselfde hoeveelheid in die middel van die Kalahari.

Graan SA/Sasol fotokompetisie

Meulenaars, olieperse en ander verwerkers probeer om die produk wat hulle verwerk so na as moontlik aan die verwerkingspunt in die hande te kry, want dit is die goedkoopste. Wanneer sojabone (as voorbeeld) orals dieselfde kos, gaan daar op die ou end ongebruikte sojabone in silo’s agterbly – veral as die aanbod die vraag oorskry. Indien alle sojaboonsilo’s as verkooppunte geregistreer is, waarborg die JSE die verkoopsprys by elke verkooppunt. As twee produsente, een in Standerton en een in Petrusburg, albei sojabone vir R7 000/ton op die JSE verkoop, waarborg die JSE R7 000 vir elkeen. Die produsent in Petrusburg het ’n vloerprys en gevolglik geen aansporing om dit vir minder aan ’n verwerker te verkoop nie. Die sojabone wat teen ’n hoër prys verkoop is as wat dit in Petrusburg werd is, word nou die JSE se probleem.

Die JSE probeer dit “verkoop” deur die silo­sertifikaat aan ’n koper te gee wat dit ook nie wil hê nie en dan weer aan die JSE terugverkoop. Hierdie proses vind oor en oor plaas. So ’n probleem word deur middel van ’n liggingsdifferensiaal opgelos – dit maak Petrusburg-sojabone goedkoper sodat dit met sojabone in Standerton kan meeding. Neem kennis dat dit slegs met die fisiese verhandeling is en nie noodwendig met prysbepaling op die termynmark nie.

Niemand behoort ’n probleem met hierdie beginsel te hê nie, maar die grootte van die aftrekking veroorsaak wel probleme. In Suid-Afrika is die aftrekking die maatstaf waarmee alle ander transaksies, insluitend fisiese kontanttransaksies (selfs al hou dit nie met Safex verband nie) gemeet word.

Met die huidige stelsel word Randfontein gesien as die enigste plek in Suid-Afrika waar mielies, koring, sonneblom, sorghum en sojabone verwerk word (standaard enkelpunt).

In die begin, met enkelkanaalbemarking, het dit sin gemaak. Volgens hierdie metode moet daar R254/ton van sojabone in die Standerton-silo afgetrek word om dit goedkoop genoeg te kry sodat die oliepers in Standerton dit kan koop. Dit is daarom te verstane dat daar ’n persepsie bestaan dat hierdie differensiaalaftrekkings niks anders as ’n poging van die JSE is om produsente aan die kortste ent te laat trek nie.

Figuur 1: Ligging het waarde.
Bron: Graan SA
Figuur 2: Die doel van die liggingsdiffe­rensiaal is om seker te maak dat graan of oliesade nie in ’n silo ophoop nie.
Bron: Graan SA
Figuur 3: Verwerking het met tyd gedesentraliseer.
Bron: Graan SA

’n Alternatiewe benadering
Daar is ander maniere om die “afslag” wat ’n silo nodig het, te bereken. Die belangrikste beginsel in hierdie verband is dat die vraag na – oftewel verwerkingsfasiliteite van – graan en oliesade reg oor Suid-Afrika versprei het soos die mark meer volwassenheid bereik het.

As ’n kaart van al die plekke waar sojabone (of ander produkte) verwerk en opgeberg word, saamgestel word, is dit moontlik om ’n prentjie te kry van silo’s wat baie gewild is (en dus geen aftrekking benodig nie – nulbasis-silo’s) en silo’s wat ver van verwerkingspunte af is en ’n oorskot beleef (aftrekking dus nodig). Met so ’n model is Randfontein een van baie verwerkingspunte, nie die enigste een nie. Prieska is nie meer ’n swak mieliesilo (R481-aftrekking) net omdat sy ligging ver van Randfontein af is nie. Dit is een van die naaste silo’s aan die Kaap en sal werk sonder enige aftrekking.

In so ’n differensiaalbepalingsmodel is afstande tussen silo’s en verwerkingspunte bekend en die vervoerkoste tussen die punte kan gevolglik bereken word. Daar kan, met die verskillende koste as riglyn, nou op ’n meer wetenskaplike en deursigtige manier bepaal word waarheen die produk in die silo gaan (gebaseer op die beginsel van goedkoopste en mededingende lokaliteit). Silo’s wat as gevolg van ’n “slegte” of “duur” ligging nie gebruik word nie, word ook uitgewys. Dit is verder moontlik om te bepaal of ’n ongebruikte silo ’n aftrekking van R10 of R50 per ton moet kry om mededingend te wees en sodoende “indifferent teenoor ander silo’s te wees”.

Randfontein is lankal nie meer die groot koper van byvoorbeeld Odendaalsrus-mielies nie. Die Kroonstad-verwerker (as voorbeeld) koop mielies van die Odendaalsrus-silo. Die Kroonstad-verwerker koop by Odendaalsrus-silo, want die mielies is R27 goedkoper as in die Kroonstad-silo (R254-differensiaal vir Odendaalsrus versus R227 vir Kroonstad). Die R254-aftrekking is irrelevant vir die Kroonstad-verwerker. Dis die verskil tussen die twee silo’s wat van belang is, nie die absolute grootte van elke differensiaal nie. ’n Kroonstad-silo met ’n R0-aftrekking en R27 vir Odendaalsrus is al wat nodig is. In teenstelling met die algemene persepsie dat verwerkers slegter af sal wees, sal ’n stelsel met baie kleiner differensiale geen verwerker nadelig beïnvloed nie.

Desentralisering van verwerkingsfasiliteite
Dit is duidelik dat hierdie manier van liggingsdifferensiaalbepaling baie meer in ooreenstemming met die desentralisasie van verwerkingsfasiliteite is en meer strook met die werklike werking van die mark. Sojabone in ’n silo langs ’n oliepers sal geen aftrekking kry nie, laat staan nog R254. Dit is baie makliker om te verduidelik, maar nog belangriker, om die grootte van die aftrekking te regverdig. Geen rolspeler sal enige rede hê – werklik of ongegrond – om die JSE van differensiaalvuilspel te verdink nie.

Die belangrikste voordeel van so ’n stelsel van differensiaalbepaling is dat liggingsdifferensiale doen wat eintlik die enigste rede vir die bestaan van so ’n stelsel is, naamlik om seker te maak dat graan of oliesade nie in ’n silo ophoop en sodoende kwaliteit verloor nie. Indien na herlewering van mielies gekyk word, is die huidige stelsel in elke geval nie meer in staat om dit te doen nie.

In opsomming kan die nuwe stelsel die volgende regkry:

  • Die termynmark sal nader aan die werklike werking van die fisiese mark kom.
  • Meer verwerkings- en uitvoerpunte sal in ag geneem word.
  • Differensiale sal slegs van toepassing wees op silo’s waar opbou van voorrade kan plaasvind.
  • Silo’s met nuldifferensiale kan vir arbitrage-doeleindes benut word.

Graan SA het op 12 Augustus 2020 ’n webinaar oor alternatiewe voorstelle vir die liggingsdifferensiaal aangebied. Skandeer of klik op die QR-kode om na ’n opname van die webinaar te kyk.