May 2018

Beste Grootneef

Dat ‘n stukkie skuurpapier kleiner as ‘n posseël sóveel klokke kon laat lui! Van Kaapstad tot in Queensland beier dit oor die gepeuter deur die span van Oz. Buurman sê die klomp lyk almal so jammer in dié Volk se blad – nie oor die gepeuter aan die bal nie, maar omdat hulle uitgevang is. Knapgedaan, baasspeurder Fanie!

Ou Neef, so draai die wiel. In Holland praat hulle van “de kleine man”. Dis nou die gewone Piet en Klaas soos ek en jy. De kleine man word meestal maar tot stof gemaal deur die ratte van die lewe. Maar so nou en dan is daar ‘n skuurpapier-oomblik wat de kleine man laat voel dat geregtigheid geseëvier het.

Ou Neef, al wat beter as ‘n skuurpapier-oomblik is, is ‘n lekker ou bustoer. Askies, Buurman sê mens noem dit ‘n studietoer.

Só ‘n uitnodiging land een aand in my “wat is op”-toep: “Alle studiegroeplede: Gratis vervoer in 22-sitplek bus wat Dinsdag na Donderdag se veiling vertrek. Sou iemand iets koop, het ek plek vir 40 diere op die sleepwa. Braai en akkommodasie vir elke lid se eie rekening. Antwoord so gou moontlik, daar is net plek vir 16 persone. Die ander sitplekke word uitgehou vir die koelbokse. Vriendelike groete.” Die volgende boodskap pieng bykans onmiddellik met ‘n nota dat Van der Merwe Prokureurs 25% afslag op egskeidings gee wat uit die studietoer voortspruit…Maar jy moet bewys lewer dat jy op die bus was. Die volgende pieng het almal laat weet dat ‘n sekere lid se vrou nie van hom wil skei nie, want sy wil hom nie gelukkig sien nie.

En so voorts, tot in die laatnag. Toe die son die volgende oggend opkom, was die 16 sitplekke op die bus volbespreek. Ou Neef, met die bus se vertrek die volgende Dinsdag, het ‘n feestelike atmosfeer geheers – beide by die busgangers, maar veral by die wederhelftes wat moes agterbly. Enige iets vir ‘n paar dae se rus en vrede.

Die bus het nie ver gevorder nie. Die eerste stop was op Kroonstad. Die manne wou bene rek en braai. Dis toé dat Buurman die mooi kapokkies wat daar rondstap, gewaar. Hy begin toe dadelik met die petroljoggies onderhandel vir ‘n halfdosyn kapokkies. Die joggies het laat weet dat die verhandeling van hoenders buite hul jurisdiksie val en dat Buurman verdere navrae aan die manager moet rig.

Dié se nommer, rang en naam is met groot huiwering aan Buurman gegee. Buurman het die manager se nommer met groot vertoon op sy selfoon ingesleutel en toe hartlik met homself begin gesels. Die “gesprek” het min of meer só verloop: “Meneer Wessels, pragtige garage wat jy hier het. Ons is ‘n studiegroep op pad noorde toe en wil graag ‘n kapokkie koop. O, u sê dis nie nodig om te koop nie, ons kan sommer een verniet kry? En die mense by die pompe sal ons help vang ook! Dis nou gaaf. Baie dankie mnr Wessels. ‘n Lekker dag vir u ook!”

Na die monoloog op ‘n dooie foon, het ‘n kring petroljoggies Buurman ongelowig aangekyk. Buurman laat waai toe met ‘n: “Toe toe, julle het die manager gehoor – kom ons vang die hoenôr!” En toe spat die oggend se rus en vrede op daardie petrolstasie uitmekaar soos die joggies op die kapokkies toesak.

Ou Neef, het jy al probeer om ‘n boerbok alleen aan te jaag? Nes jy dink die rigting is bepaal, swenk die bok na links of regs met so ‘n langsame draffie en ‘n stert na bo. Jy sal verniet probeer om bok se kind op jou eie deur ‘n hek te jaag. ‘n Kapokkie is veel erger – nes jy vat-vat aan sy stertvere, maak hy ‘n draai of vlieg al kekkelende voor jou uit. Ou Neef, dít was nou vir jou ‘n konsternasie op die stasie. Die kapokkies totaal ontstig en die petroljoggies wat alkant toe ‘n vangs probeer maak. Einde ten laaste is ‘n jong haantjie ingehardloop, en onder luide toejuiging aan Buurman oorhandig. Maar dit was tyd om ons ry te kry voor die manager opdaag.

Buurman het by almal in die bus loop en spog met die studiegroep se nuutste aanwins. Dit het gelyk of dit ‘n jong haan is en die kapokkie is toe terstond “Haanis” gedoop. So het Haanis die hele toer meegemaak: Saam met die manne geëet én gekuier. Maar kan so ‘n hoender vir jou suip! Na ‘n doppie klippies en Coke, loop daai hoender twee rye spore! Skoon hoenderkop.

Toe die bus drie dae later met ‘n sleepwa vol bokke op Wesselsbron stop, is Haanis eenparig as erelid van die studiegroep aangewys! ‘n Maand later met die studiegroep se afskeid, is Haanis soos ‘n ou vriend by die vergadering verwelkom: Om opgeveil te word. Die aand se afslaer het Haanis se lof as ‘n stoethaan met ‘n stamboek tot in Kroonstad besing. Die laaste bod op Haanis is op R21 000 aan Buurman toegeslaan!

So twee maande later het Buurman gerapporteer dat Haanis heel vreemd vir ‘n haan opgetree het. Haanis het eers begin eiers lê, daarna broeis geraak en toe sewe kuikens uitgebroei. Haanis was toe al die tyd Haanetjie. Maar kan so ‘n Haanetjie vir jou suip! Buurman sê as Haanetjie ys in ‘n glas hoor val, kom sy met sulke wye vlerke oor die werf aangehardloop!

Groete op die Oosgrens.

Publication: May 2018

Section: Features