Spoorverkeerstelsel verminder koste in graanverbouingstelsels

Gepubliseer: 6 Februarie 2020

1165
Pietman Botha,
SA Graan/Grain
redaksiespan

Produsente kan verskeie boerderystelsels aanwend om hul gewasse te verbou – elk met sy eie sterk en swak punte. Wat egter onveranderd bly, is dat trekkers, implemente en masjiene oor die land moet beweeg en dat hierdie aksie tot grondkompaksie aanleiding gee.

Grondkompaksie veroorsaak ’n beperking op wortelgroei wat weer tot opbrengsverliese lei. Behalwe vir opbrengsverliese word ekstra energie benodig om die kompaksie weer op te hef. Onnodige koste word verder aangegaan deurdat daar op ’n groot deel van die land dubbel gewerk word of omdat insette oorvleuelend toegedien word. Alles kos geld en verminder die wins.

In die sewentigerjare het die beginsel van spoorverkeer in Suid-Afrika – veral in die Noordwes en die Vrystaat – posgevat. Baie werk is gedoen om ’n stelsel te ontwikkel waar ’n trekker effektief ’n hele seisoen op dieselfde spore kon bly en waar grondkompaksie tot die minimum beperk is. Hierdie stelsel werk vandag nog uitstekend. ’n Spoorverkeerstelsel verseker dat die dieselgebruik per hektaar verlaag en die opbrengs per hektaar verhoog.

Die stelsel het ook gelei tot die ontwikkeling van die rip-op-ry-stelsels wat algemeen op watertafelsandgronde toegepas word. Hierdie stelsel verlaag koste en het ’n positiewe effek op opbrengs. Daar is egter nog heelwat werk wat gedoen kan word om die stelsel te verbeter. In die winterreënval-saaigebiede begin spoorverkeerstelsels ook gewild raak en produsente behaal reeds sukses daarmee.

As ’n spoorverkeerstelsel tot op die letter uitgevoer word, beteken dit dat alle trekker-, stroper- en implementwiele wat gewig dra, permanent op vasgetrapte spore moet loop. Dit is hier waar die stelsel ingewikkeld raak. Deesdae probeer alle produsente op arbeid spaar en sodoende word al hoe groter trekkers en stropers aangeskaf – wat nie noodwendig in dieselfde spore ry nie. Deur slim beplanning en sorgvuldige aankope van trekkers en toerusting, kan hierdie probleem egter tot ’n groot mate uitgeskakel word.

Jong mielies toon reeds stressimptome waar daar op die spoorverkeer se spoor geplant is, terwyl die mielies langs die spore weelderig groei.

Daar is wel ook ander probleme wat met ’n spoorverkeerstelsel gepaard gaan. Produsente moet soms bestaande trekkers, stropers en toerusting aanpas om binne die spore te kan loop. Hierdie aanpassings kan tot verhoogde herstelwerk aanleiding gee, aangesien die veranderings nie noodwendig deur die masjiene se waarborge gedek word nie. Die stropers strooi ook die kaf oor tyd op dieselfde plek, wat die bewerking van lande kan bemoeilik. As die aangepaste implemente weer verkoop of vervang word, kan ’n verlaging in die waarde van die toerusting verwag word omdat moontlike kopers nie noodwendig die aangepaste toerusting kan gebruik nie.

Hier kan die spore van die stelsel mooi gesien word. Twee rye aan weerskante van die spore en twee rye onder die trekker. Hierdie produsent werk al ’n geruime tyd op presies dieselfde spore.

Vassit is definitief ’n groot moontlikheid as daar tydens nat weersomstandighede van die spore afgewyk word. Die vasgetrapte spore kan verder tot watererosie lei en daarom is waterafloopbeplanning so belangrik. Kyk altyd na die geheelprentjie wanneer ’n nuwe stelsel geïmplementeer word.

Tydens die beplanning van die spoorverkeerstelsel is dit belangrik om die regte spoorwydte te kies. Die stroper bepaal hoe wyd asook waar die spore moet wees. Dit is makliker om trekkers en implemente aan te pas as om die stroper aan te pas. Die res van die aksies moet binne die stroper se spore kan loop. Deur ’n kombinasie van implementwydtes te gebruik, kan daar moontlik op elke tweede of derde stroperspoor gery word. Maak seker dat die spore duidelik gemerk is of dat die spore in die geografiese inligtingstelsel wat gebruik word, geberg is. Toerusting wat toegerus is met Auto Steer-stelsels werk besonder doeltreffend, maar dit is nie ’n voorvereiste nie. Deur die aanbring van merkerskare op implemente kan die spore effektief gemerk word.

Die tapkar is ’n implement wat dikwels buite rekening gelaat word en wat heelwat kompaksie kan veroorsaak. Die tapkar en sy trekker moet ook op die vasgetrapte spore loop. Dit beteken dat die stroper se uitlaai-awegaar (auger) lank genoeg moet wees om die graan direk van die stroper in die oorlaaiwa te stort.

Daar word deesdae baie meer insette en graan op die implemente gedra. Die gewig van die implemente en toerusting self het ook met verloop van tyd toegeneem. Dit is nie ongehoord om 10 ton kunsmis in die planter te laai nie en ook nie om tapkarre wat
20 ton kan dra in gebruik te sien nie. Hierdie soort gewig kan tot erge grondkompaksie lei. Daar moet dus gesorg word dat die trekkers, toerusting en implemente op dieselfde spore bly.

Stoppels bo-op die oppervlak nadat dit met ’n stoppelskoffel uitgewerk is. Let op hoe die trekkerspore met ’n
addisionele skaar gemerk is. (Foto: Martiens du Plessis)

Die landgroottes en veral kontoere moet verder in aanmerking geneem word en noodsaak soms dat twee stelle implemente gebruik word. ’n Groot stel wat ’n groot aantal hektare per dag kan behartig en dan ’n kleiner stel wat die kort rye kan werk. Dié stap behoort te help om implemente te optimeer. As die spore eers uitgesit en geberg is, kan beide masjiene in dieselfde land werk sonder om mekaar te beïnvloed.

Indien daar na ’n spoorverkeerstelsel oorgeskakel word, moet die implemente in veelvoude van die stroper se wydte werk. Veronderstel die stroper stroop 12 meter en sy wielsporing is 3 meter, dan moet die planter, beitelploeë of wydwerkskoffels 6, 12, 18 of 24 meter wyd werk en die trekker wat die implement trek se wielsporing moet ook 3 meter wees. Die spuit moet ook in veelvoude van die stroper werk. Dit beteken dat die spuit 12, 18, 24 en 36 meter of veelvoude hiervan moet wees, maar die wielsporing moet ook 3 meter wees. Dit is egter belangrik dat die implemente nie die spore wat gemaak is, opbreek nie. Dit sal beteken dat party tande dalk met korter tande vervang moet word. Maak net seker dat die trekkers, stropers en implemente altyd op vaste spore loop. Ten einde erosie te beperk, kan daar gewasse in die spore gevestig word.

As die huidige boerdery reeds ’n groot trekker het en die implement wat hierdie trekker optimaal kan laat werk, maak dit nie moontlik om effektief binne die stroper se spore te loop nie, sal die implement aangepas en kleiner gemaak moet word. Dit kan tot gevolg hê dat die trekker nie meer optimaal benut word nie. Daar is egter verskeie metodes wat produsente kan gebruik om hierdie verlies van effektiwiteit teen te werk. As die trekker met tegnologie toegerus is om self die geskikte ratte te kies, moet dié opsie ingespan word. Die trekker sal self die hoogste rat kies waar die enjinomwentelinge binne die norme bly en die vereiste spoed gehandhaaf word. As die trekker nie hierdie funksie het nie, moet die hoogste rat waar die enjinomwentelinge so laag as moontlik is om die benodigde snelheid te loop, gekies word.

Produsente kan ook die stroper probeer aanpas deur dit op kruipbande te sit en sodoende die grondkompaksie te verminder. Hierdie is net ’n tydelike oplossing, maar dit het baie voordele teenoor konvensionele stropers.

Die tydigheid van die aksie bly belangrik om te verseker dat daar genoeg kapasiteit is om gewasse binne die plantvenster te plant. As die groot trekker ’n kleiner implement moet trek, sal die gewas steeds binne die plantvenster geplant kan word? Indien die antwoord nee is, kan die groot trekker dalk meer ure werk of moontlik vir twee kleiner trekkers ingeruil word. Wat die stroop betref, geld dieselfde reëls. As mielies gestroop word, kan oorweeg word om die stroper op elke draai leeg te maak sodat dit so lig as moontlik bly en sodat die oorlaaiwaens so min as moontlik grond vastrap. Met die stroop van koring of ander gewasse waar tyd essensieel is, moet die stroper so optimaal as moontlik werk. Dit beteken dat ’n oorlaaiwa noodsaaklik is.

Spoorverkeerstelsels werk ook vir die maak van hooi. Pas net die beginsel toe dat implemente op dieselfde spore moet loop en die winste sal verhoog. Daar is veral in Wes-Australië reeds heelwat navorsing oor spoorverkeerstelsels gedoen.

Vir meer inligting kontak Pietman Botha by 082 759 2991.