April 2016

PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain medewerker

— Graan SA/Syngenta Graanprodusent van die Jaar-finalis

Henk en Riana Michau boer sedert 1995 in die Tuinplaasomgewing – omtrent halfpad tussen Modimolle en Marble Hall, uit en uit in die Springbokvlakte. Hier het Henk dit reggekry om sy aanvanklike 100 ha grond twaalfvoudig te laat groei en hy bedryf tans ‘n pragtige boerderyeenheid. Dit op sigself, is ‘n reuse-prestasie.

Henk het vinnig besef dat, met die beperkende hulpbronne tot sy beskikking, hard en slim gewerk moet word. Omdat be dryfsbefondsing van die begin af beperkend was, moes hy van krediet gebruik maak om te kon produseer.

Kontantvloei

‘n Landboubesigheid het Henk aanvanklik ondersteun deur hom op grond van sy prestasie op die been te help. Sy handelsbank en ouditeur help hom jaarliks om sy finansies te beplan en ‘n kontantvloeibegroting word vir die komende seisoen opgestel. Soms word van die kontantvloeibegroting afgewyk, maar as ‘n reël poog hulle om binne die kontantvloeibegroting en beplanningsnorme te hou.

In die beginjare was die kontantvloei onder druk en dit het Henk gedwing om planne te maak. Hy het gevolglik begin om gewasse te verbou sodat die inkomste- en uitgawestrome regdeur die jaar versprei kon word.

Die besproeiing uit boorgate het ook gehelp dat die inkomsteen uitgawestrome makliker versprei kon word. Verder het die besproeiing dit moontlik gemaak dat Henk hoëwaardegewasse kon begin verbou.

Gewasse

Tans word daar in hierdie boerdery met saadmielies, droëland- en besproeiingsmielies, suikerbone, pampoen, sonneblom, grondbone, broodmanna (millit) en koring geboer. Op ongeveer 70% van die oppervlakte word met droëlandgewasse geboer, waar hoofsaaklik sonneblom met mielies en broodmanna afgewissel word.

Op die ligter gronde word sonneblom en mielies verbou, terwyl die swaarder kleigronde sonneblom en broodmanna lewer. Onder besproeiing word hoofsaaklik saadmielies, suikerbone, mielies, pampoene en koring aangeplant.

Besproeiing

Water is beperk en daarom word by die besproeiing baie klem daarop gelê om die hoogste inkomste per millimeter water besproei te verkry. Henk het ook ‘n slim plan gemaak om te sorg dat die beperkte water se gebruik geoptimaliseer word. Twee besproeiingsirkels per spilpunt maak dit moontlik om die besproeiing met reën aan te help. Só word die besproeiingswater aangewend waar dit regtig ‘n verskil kan maak.

Saadmielies sal byvoorbeeld vroeg in die seisoen geplant word en sodra die mielies fisiologies ryp is, sal die spilpunt na die volgende sirkel geskuif word waar daar dan suikerbone aangeplant word. Hierdie suikerboonsirkel se primêre bewerking is gewoonlik met die reën se vog gedoen en die reën het dan reeds die grond benat. Ten einde die boorgate se lewering te beskerm, word daar op die plaas net 60% van ‘n gat se lewering gebruik. Dié praktyk behoort te sorg dat die kleinseuns ook eendag sal kan besproei.

HENK MICHAU: Om bo uit te kom, is harde en slim werk, maar grootliks genade

Direkte plant

Beleggings in masjinerie en toerusting is hoog en daarom het Henk na alternatiewe maniere gesoek om sy gewasse te verbou en minder geld in trekkers en masjinerie te belê. Direkte plant of no till het die oplossing gebring. Dit is volgens Henk ‘n goeie manier om gewasse volhoubaar te verbou en om die kostes te verminder. Buiten vir die laer masjineriekostes, het die direkte plantpraktyk ook die opbrengste laat styg.

Tydigheid, effektiwiteit en doeltreffendheid is die hoofboublokke vir winsgewendheid. Deur die regte aksie tydig en reg te doen, word kostes in toom gehou. Beplanning is van kardinale belang as soveel verskillende gewasse gelyktydig verbou word. Beplanning begin by die hulpbron en veral grondsamestelling en die bestuur van elke grondsoort sodat optimale produksie verkry kan word.

Henk is daarom besig om totaal na presisieboerdery en direkte plant oor te skakel. Dit is egter ‘n proses om die hulpbronne te laat karteer en chemiese regstellings te maak. Op die gedeeltes wat reeds gedoen is, lyk die resultaat belowend.

Bestuurspraktyke

Wisselboupraktyke en gewasse word aangewend om die risiko te versprei asook om die sinergistiese en komplimentêre voordele van die stelsel optimaal te benut. Die suikerbone bind stikstof wat weer in die volgende gewas se opbrengs weerspieël word. Só sal die stoppels van die mielies en broodmanna weer help dat die reënvaldoeltreffendheid verhoog word en dat die sonneblomproduksie daarom dalk matig hoër kan wees.

Ten einde die kwaliteit van die eindproduk te verhoog, het Henk ook in ‘n groot selfloopspuit belê. Hierdie spuit maak dit moontlik om tydig, doeltreffend en goedkoop bespuitings te kan doen. Veral die suikerboonproduksie het as gevolg hiervan dramaties verhoog. Henk glo dat die tydige beheer van vroeë onkruid baie vog bewaar, maar dat ook heelwat op onkruiddoder gespaar kan word. ‘n Klomp klein besparings maak op die ou end ‘n baie groot besparing en as dit opbrengste boonop verhoog, is dit twee vlieë met een klap.

In die toekoms sal al die gewasse waar moontlik in ‘n direkte plantpresisiestelsel verbou word. Henk glo dat dit die manier is om langtermyn-volhoubare produksie vir die boerdery te verseker.

Bemarking is natuurlik die ander kant van volhoubaarheid. Dit is waarom dit vir Henk belangrik is om te weet wat die verbruiker van sy produkte vereis, asook wat gedoen moet word om aan hulle behoeftes te kan voldoen.

Omdat Henk ‘n groot gedeelte van sy produkte direk aan verbruikers lewer, moet hy klem lê op gehalte en voorkoms. Bone word eers skoongemaak voor dit verpak en bemark word en pampoene word op gronde geplant wat dit nie dalk sal vlek nie.

Die eindverbruiker is koning en sy oog soek altyd die mooiste een uit. Henk noem dan ook dat bemarking baie opgeskerp kan en moet word en dat sodra die seuns plaas toe kom, baie meer aandag saam met hulle hieraan gegee sal word.

‘n Gevoel vir die bedryf en die boerdery help Henk om strategiese besluite te neem. ‘n Mens voel soms aan wat gaan gebeur en daarom was dit belangrik dat Henk vroeg al self sy eie besluite moes neem.

HENK MICHAU: Om bo uit te kom, is harde en slim werk, maar grootliks genade

Dink uit die boks

Dit het vir hom die geleentheid gebied om self buite die boks te dink – iets wat hy suksesvol in sy besigheid toepas. Sy gawe en vaardigheid met ysters maak dit vir hom moontlik om implemente aan te pas om aan sy streek se unieke vereistes te voldoen. Tog is dit nie net die ysters wat aangepas word nie, maar met sy produksiestelsels moes ook buite die boks gedink word om ‘n stelsel te kry wat vir hom in sy eie omstandighede kan en moet werk.

Arbeid is belangrik en moet ten alle tye optimaal produseer. Henk glo daarin dat werkers hul gedeelte van die verantwoordelikheid moet dra, maar sorg dat streng kontrole oor hul produksie gehou word. Henk is gereeld by hulle terwyl hulle werk, maar terselfdertyd kyk hy vir plekke om die produksie te verbeter of om siektes vroeg genoeg te identifiseer sodat dit tydig aangespreek kan word.

Henk het homself omring met goeie insetverskaffers wat verstaan waarheen hy op pad is en sy siening van sake deel. Die rol wat verskaffers speel, is van onskatbare waarde.

“Hierdie mense help om alles te laat vloei en help om te sorg dat die regte aksies reg en tydig uitgevoer word – en die belangrikste, om risiko te verlaag,” sê hy. Tog doen Henk op sy eie ook ‘n klompie navorsing. Tans is hy besig om te kyk hoe sonneblom presteer wat direk na vroeë mielies in die stoppels geplant word.

Die bemesting vir die gewasse word op realistiese opbrengsnorme gedoen en die gebruik van chemiese bemesting op die turfgronde het ook daartoe bygedra dat die droëlandproduksie gestyg het.  Die rendement op hierdie belegging is net ongelooflik, maar Henk dink dat dit dalk ook sal bydra om produksie volhoubaar te maak.

HENK MICHAU: Om bo uit te kom, is harde en slim werk, maar grootliks genade

Glo in die toekoms

Henk glo in die toekoms van die landbousektor. Daar is vir seker sekere probleme, maar as verby dit gekyk word, is daar ‘n groot toekoms. Hy wil nog aanhou uitbrei, maar weet dat sy groei eerder in “dinge beter doen” sal lê.

“Ons moet tegnologie inspan om ons effektiwiteit en doeltreffendheid te verhoog, wat weer op die ou end produksie en winsgewendheid sal verhoog,” sê Henk.

Hy noem ook dat as daar geleenthede kom, jy wakker genoeg moet wees om dit te kan benut. Hy vertel hoe hulle vee in ‘n voerkraaltjie op uitvalgrond vetgemaak het. Hier is byhou van rekords belangrik, want ‘n geleentheid is teen ‘n sekere tyd verby en dan kan dit jou begin geld kos, noem Henk – wat dit op die harde manier geleer het.

Vir Henk bly harde werk, slim werk en die regte bemarking van kardinale belang. Tog is hy net ‘n rentmeester wat alles uit genade en in afhanklikheid aanpak en doen.

Rig enige vrae aan Henk Michau by 082 376 6753 of Pietman Botha by 082 759 2991.

Publication: April 2016

Section: On farm level