Nuwe seisoene lê voor

Gepubliseer: 31 Augustus 2021

1320
Pieter Taljaard
HUB, Graan SA pieter@grainsa.co.za

Wat ’n aangename voorreg om in Septembermaand amptelik hierdie spesiale nuwe paadjie te begin stap. Simbolies beteken September om ons energie te herfokus – September 2021 is dus die begin van vele nuwe seisoene wat ons in Suid-Afrika en spesifiek in die Suid-Afrikaanse landbou binnegaan.

Die afgelope 18 maande was besonder stormagtig, maar ten spyte hiervan was ons baie geseënd dat die landbouskip ongelooflik goed bly vaar het. Om ’n verskeidenheid van redes is daar heelwat nuwe landbouleiers wat reeds besig is of in die nabye toekoms die aflosstokkie gaan oorneem. Ons sien daagliks soveel dinge verander en beleef soveel meer en vinniger verandering as vorige geslagte. Dit kom ongelukkig nie sonder addisionele verantwoordelikhede en druk nie.

Wanneer ‘n mens na vroeëre waarskuwings van risiko’s luister, klink dit dikwels so onwerklik en soms vergesog. Kyk ons egter na net twee onlangse enorme risiko’s, laat dit ons duidelik herbesin. Reeds in 2006 het die Wêreld- Ekonomiese Forum (www.weforum.org) alarm gemaak oor pandemies en gesondheidsverwante risiko’s. Was dit bietjie te lank terug of het ons dit maar net as ’n vals alarm beskou? Hoe dit ook al sy, ek weet vir seker ons het sommer net die alarm gekanselleer en die wagwoord weggegee. Die afgelope 18 maande het ons duidelik gesien dat die wêreld nie werklik genoegsaam voorbereid hiervoor was nie. ’n Meer onlangse voorbeeld is die kuberaanval op Transnet. In verskeie vorige verslae is kuberaanvalle as risiko gelys. Alhoewel Transnet redelik vinnig weer aan die gang gekom het, wonder ek hoeveel besighede vandag daadwerklike planne in plek het om sulke aanvalle te oorkom – om nie eers van voorkoming te praat nie.

Dié voorbeelde bring my by wat ons hieruit leer en hoe ons die waarskuwings in die toekoms gaan benader of hanteer. In die mees onlangse verslag word die risiko en gevolge van groter wordende ongelykhede en sosiale fragmentasie uitgelig. Hier kan ons seker ook sê dat ons gewaarsku is, maar die saak is definitief nie iets wat in die toekoms die weermag se probleem gaan bly nie. Ons sal daadwerklik iets hieraan moet doen! Die vraag is: “Hoe gaan ons dit stop? Hoe kan ons dit oplos?” Verder word daar gewaarsku dat waar omge­wingsagteruitgang tesame met die groeiende ongelykhede plaasvind, dit dramatiese of eksponensiële gevolge kan inhou.

Ek wil afsluit deur ’n aanhaling van ’n uitstekende stukkie wat ek onlangs gelees het: “Skepe sink nie as gevolg van die water waarin hulle vaar nie; skepe sink as gevolg van die water wat hulle binnedring.” Ons moet nie toelaat dat die dinge wat rondom ons gebeur ons binnedring en ons laat sink nie. Tog is daar ’n magdom uitdagings waarvoor ons as organisasie in Suid-Afrika en spesifiek binne die landbou­sektor eienaarskap sal moet aanvaar, aangesien dit die enigste manier is hoe daar oplossings gevind kan word.

Ten spyte van alles is ons steeds bevoorreg in die landbou dat ons sekerlik die minste deur die afgelope inperkings geraak is. Ons het ook nou weer met COVID gesien hoe waar dit is dat uitda­gings nuwe geleenthede bring en dit is waarvoor ek pleit: Almal in landbou moet saam dink, saam werk en werklik eienaarskap neem van die enorme sosiale uitdagings waarmee ons sit. Hierdie is ons almal se probleem – of jy nou grond besit of nie, of jy in die landbou is of nie – alle afdelings van die ekonomie word hierdeur bedreig. Daarom is dit ook makliker om die uitdaging te aanvaar – daar is nie plek vir wegkruip nie en daar is nie plek vir rugry nie! Saam trek is die enigste manier wat ons die wa deur die drif gaan kry.