July 2017

CATHY DE VILLIERS, LNR-Kleingraan, Bethlehem

Een van die mees beperkende faktore in koringverbouing is die teenwoordigheid van siektes. Siektes veroorsaak ʼn verlaging in opbrengs, kwaliteit en ook winsgewendheid. Een van die siektes wat wêreldwyd onder besproeiingskoring voorkom, is aarskroei.

Aarskroei kom nie net op koring voor nie, maar ook op hawer en gars. Die siekte is vir die eerste keer in 1988 in die Prieska-omgewing aangemeld. Dit word hoofsaaklik deur die swam Fusarium graminearum veroorsaak, maar daar is ook ander spesies wat op koring kan voorkom.

Primêre bronne van inokulum op en in die grond, sluit in geïnfekteerde oesreste soos plantmateriaal en saad. Oesreste is die grootste bron van inokulum, want hierop oorleef die swam totdat die toestande weer gunstig is om te ontkiem.

Daar is ‘n korrelasie tussen die hoeveelheid geïnfekteerde stoppels wat voorkom en die hoeveelheid geïnfekteerde are in daardie seisoen.

Dit is ook belangrik om te weet dat wanneer besmette sade geplant word, dit saailingverwelk, wat ook ‘n invloed op opbrengs en winsgewendheid het, veroorsaak. Saadbehandeling kan die kiemkragtigheid van die saad verhoog, maar dit sal ‘n minimale, indien enige, beskermende effek op die are van die plant hê (later in die groeiseisoen), omdat saadbehandeling die plant net vir ʼn sekere periode aan die begin van die seisoen beskerm.

Dit is belangrik om te weet dat dieselfde swam wat kleingrane aanval, ook verantwoordelik is vir die voorkoms van kopvrot by mielies. Daarom word koring/mielies nie aanbeveel vir gewasrotasie nie.

Aarskroei kom hoofsaaklik onder besproeiing voor, omdat die omgewingstemperatuur, humiditeit (van meer as 90%), lugtemperatuur, die hoeveelheid inokulum teenwoordig en gewasrotasie, van die belangrikste faktore is wat ‘n gunstige rol in die voorkoms van aarskroei speel.

Oorhoofse besproeiing sal die swam help om verder te versprei deur spattende water, wind en insekte. Dit is dus moontlik dat aangrensende lande ook deur die swamspore geïnfekteer kan word.

Die eerste tekens van aarskroei-infeksie kan gewoonlik in die middel van die spilpunt, wanneer die koringare begin blom, gesien word. Infeksie vind hoofsaaklik plaas vanaf blomstadium tot sagte deegstadium, waarna die tempo van infeksie heelwat afneem soos die aar fisiologies ontwikkel. Tydens die vatbare periode – veral by temperature tussen 15°C tot 31°C – moet genoeg vog beskikbaar wees om swamgroei te ondersteun.

Die optimale temperatuur vir Fusarium infeksie is 28°C. Die swam spore infekteer die korrels en ander dele van die aar met ʼn inkubasieperiode wat wissel na gelang van omgewingstoestande soos temperatuur en vog. Tekens en/of simptome kan binne drie dae na infeksie waargeneem word, maar die proses kan tot so lank soos sewe dae neem.

Tipiese tekens van aarskroei is ‘n donkerbruin letsel, wat die punt van infeksie aantoon. Alle voedingstowwe en water word afgesny in die ragis en bokant die punt van infeksie en die geïnfekteerde blompakkies sal dan ‘n strooikleur aanneem. Soos die infeksie in die aar versprei, word die boonste en/of die onderste gedeelte van die aar ook strooikleurig (Foto 1).

Die ragis verkleur ook na ‘n donkerbruin kleur, wat kenmerkend van infeksie is. In erge gevalle, kan daar ook swamgroei aan die buitekant van die besmette aar gesien word en die hele aar kan afsterf. Hierdie swamgroei kan voorts aanleiding gee tot verdere infeksie indien gesonde are, tydens blom, daaraan sou raak.

In Suid-Afrika is daar al oesverliese van tot 40% aangeteken wanneer die klimaatstoestande gunstig vir die swam was om te ontwikkel. Besmette Fusarium sade is gewoonlik verkrimp, dof in kleur en het soms swamgroei op die saad (Foto 2).

Sade wat gesond lyk, mag ook mikotoksiene bevat wat skadelik is vir die mens en dier. Indien erg-besmette sade vir diere gevoer word, kan dit gebeur dat hulle die voer weier. Die voortplanting van diere kan ook beïnvloed word. As mense dit inneem, kan dit naarheid, maagpyn en koors veroorsaak. Wanneer besmette gars gebruik word om bier te produseer, kan die mikotoksiene veroorsaak dat die bier onbeheersd skuim wanneer dit oopgemaak word.

Dit is daarom belangrik om aarskroei te beheer. Beheermetodes is egter moeilik omdat daar geen kultivars is wat bestand is teen die siekte nie en geen chemiese middels vir die beheer daarvan in Suid-Afrika geregistreer is nie. Daar is wel middels geregistreer vir die beheer van saailingverwelk, maar hierdie produkte is nie geregistreer vir die beheer van aarskroei nie.

Al word ongeregistreerde chemiese middels vir die beheer van aarskroei gebruik, is die tyd van toediening, die hoeveelheid van die swamdoder en ‘n opvolgbespuiting baie belangrik.

Hierdie faktore maak die beheer van die siekte ‘n groot uitdaging, omdat al die are (al is dit een kultivar) nie op dieselfde tyd blom nie. Vir eers bly die beste beheeropsie om die hoeveelheid inokulum, wat in/op die land teenwoordig is, so ver moontlik te verminder.

Fusarium oorleef op dooie plantmateriaal en dié moet gebaal, ingeploeg en/of verbrand word om die hoeveelheid inokulum te verminder. Dit is belangrik om te weet dat verbranding van stoppels tot erosie, lae stikstofvlakke en die verlies aan grondvog kan lei en dit is ook nie altyd ekonomies nie.

Alles is nie verlore nie…die LNR-Kleingraan het befondsing vanaf die Wintergraantrust gekry om navorsing uit te voer om die huidige kultivars se weerstandbiedendheid teen Fusarium te verbeter, aangesien dit die mees koste-effektiewe beheermetode is. Fusarium weerstandsbronne word ingevoer en omdat hierdie bronne nie aangepas is by ons Suid-Afrikaanse toestande nie, word dit hier aangeplant, geïnokuleer, geëvalueer en geselekteer vir Fusarium weerstand.

Met behulp van molekulêre merkers word weerstandsbronne bevestig en dan word die weerstandsmateriaal in ‘n kruisingsblok gebruik. Sodoende word die weerstand oorgedra na plante met goeie agronomiese eienskappe. Die weerstandbiedende lyne word aan alle belanghebbende partye beskikbaar gestel.

Indien jy enige verdere inligting verlang, kontak LNR-Kleingraan by 058 307 3400 of DeVilliersC@arc.agric.za.

Publication: July 2017

Section: On farm level