Sonneblom steeds ’n staatmaker op die Springbokvlakte

Carlo Pelster en Andrea Grimsell, Agricol
Gepubliseer: 4 Oktober 2021

1373

Seisoenale droogtes is in geen area in Suid-Afrika se somerreënvalstreek ’n vreemde verskynsel nie. Alhoewel daar in die afgelope twee seisoene in gedeeltes van dié reënval­streek bogemiddelde reënval was, bly die Springbokvlakte ’n area wat deur seisoenale droogtes geteister word.

Ten spyte van die moeilike produksietoestande is sonneblom steeds die kontantgewas met die stabielste opbrengste wat in hierdie taai omgewing geplant kan word.

Johan van Zyl boer op die plaas Assen in die Roedtan-omgewing en plant al vir jare lank sonneblom as hoofgewas. Hy sê dat sonneblom met groot welslae in hierdie area verbou kan word en deel meer oor sy produksiepraktyke en die rede vir sy sukses.

“Omdat ons in so ’n strawwe omgewing boer, is vogbewaring van uiterste belang. Ek begin my lande direk na stroop bewerk om te verseker dat hulle onkruidvry is en dat daar nie onnodige vogverliese voorkom nie. Na die bewerkingsaksie word glifosaat gespuit om seker te maak dat die saadbed onkruidvry bly. Ons maak seker dat ons saadbed egalig en ferm is aangesien dit die plantproses vergemaklik.”

Johan boer op marginale gronde met ’n hoë klei-inhoud en daar word nie met kunsmis geplant nie om sodoende die insetkoste so laag as moontlik te hou. “Met die plantaksie sorg ek dat die sonneblom se plantdiepte konstant bly en dit word op gereelde intervalle gemonitor. Eweredige plantdiepte het ’ndirekte invloed op die egalige opkoms van sonneblom – wat op die ou einde die boublokke is vir ’n goeie oes. Vir ons area plant ons ’n sonneblompopulasie van 36 000 plante/ha en beoog om 34 000 plante/ha te realiseer.”

Na die plantaksie word daar slegs ’n ryskoffelbewerking gedoen indien dit nodig is vir onkruidbeheer. “Ons doen geen bespuitings vir swamme op die sonneblom nie, aangesien die area waarin ons boer baie warm en droog is. Die regte kultivarkeuse is dus belangrik.”

Johan skryf sy sukses grotendeels toe aan een van die sonneblomkultivars wat hy die afgelope paar seisoene aangeplant het. Volgens hom is Agsun 5278 die stabielste kultivar vir hulle harde omgewing. Hy het vanjaar sy beste opbrengs hiermee gestroop – ’n tonnemaat van 1,7 t/ha op 240 ha. Johan voeg by: “Die vorige paar seisoene was baie droog en die kultivar het bo ander kultivars uitgestaan. Agsun 5278 se opkoms is baie goed en die feit dat dit ’n enkelkruisbaster is, sorg dat my aanplantings mooi egalig vertoon wat die stroopproses verder vergemaklik. Nog ’n voordeel van die kultivar is dat dit baie goed bestuif in die moeilike, droë omgewing.

“Wanneer dit by siekteweerstand kom, is Agsun 5278 in ’n klas van sy eie. Die kultivar bied goeie weerstand teen sonneblomsiektes soos Alternaria asook witroes en die stay green-eienskap help teen siektes wat tot omval kan lei.”

Johan sê plantdatums kan ’n baie groot rol in die finale oes speel. “Om plantdatums op te deel vir risikoverspreiding is ’n moet, veral omdat die reën so wisselvallig is. Dit is net daardie een reënbui wat jy op ’n kritieke stadium kort wat jou opbrengspotensiaal kan verhoog.”

Sonneblom is sonder twyfel die gewas vir die Springbokvlakte. Skakel vandag jou naaste Agricol-agent vir ’n aanbeveling in jou area.

Wat sê die landbou-ekonoom?
Die internasionale mark is op koers om ’n goeie 2021/2022-seisoen te hê, met Rusland wat hoër sonne­blomaanplantings behaal het. Die Swartsee-lande het dié seisoen gunstige weer ervaar na afloop van ’n erge droogte in die 2020/2021-seisoen. Alhoewel internasionale opbrengste dié seisoen aansienlik beter lyk, heers daar steeds kommer oor lae wêreldvoorrade wat nie noodwendig reggestel sal word met die huidige seisoen se belowende oeste nie. Op plaaslike vlak blyk dit asof voorrade ook redelik knap is, met laer aanplantings van sonneblom vir die huidige seisoen. Daar kan dus goeie potensiaal vir sonneblom wees in die 2021/2022-seisoen.

Johan van Zyl (links) staan trots saam met Carlo Pelster (Agricol-landboukundige) by een van sy Agsun 5278-aanplantings.