June 2017

CORNÉ LOUW, senior ekonoom: Graan SA

Deurlopende monitering van insetpryse is krities om seker te maak dat die regte prys vir die regte kwaliteit betaal word. Plaaslike graan- en oliesadeprodusente betaal reeds invoerpariteit vir die meeste van hul insette, wat kompetisie met internasionale eweknieë ʼn uitdaging maak.

In die Wes-Kaap maak landbouchemikalieë tussen 16% en 20% van ‘n koringprodusent se lopende produksiekosterekening uit, terwyl dit in sekere dele van die somergewasproduserende dele onder 5% uitmaak. Produksiepraktyke soos geenbewerking, asook die probleem van onkruiddoderweerstand in die Wes-Kaap, het veroorsaak dat koste verbonde aan landbouchemikalieë uitermate styg.

Hoe groter die koste aan landbouchemikalieë, hoe belangriker is dit dat produsente die regte prys vir hul chemikalieë betaal. Suid-Afrika voer basies 100% van sy landbouchemiese behoeftes in, daarom speel internasionale pryse en die wisselkoers ‘n bepalende rol in die samestelling van plaaslike pryse. Nie net dít nie, maar hoe die finale produk vanaf invoere tot by die eindverbruiker, die koringprodusent, beweeg, speel ook ‘n bepalende rol.

In hierdie artikel word tendense in internasionale landbouchemiese pryse uitgewys en ook met gemiddelde plaaslike landbouchemiese pryse vergelyk.

Internasionale landbouchemiese pryse
Tabel 1 
toon internasionale onkruiddoderpryse (in ‘n Chinese hawe) per aktiewe bestanddeel oor ‘n jaartydperk. In die eerste gedeelte van die tabel is die pryse in dollarterme, terwyl dieselfde pryse in die tweede gedeelte in randwaarde aangedui word.

Hieruit kan afgelei word dat die prys van glifosaat skerp gestyg het, terwyl die pryse van ander onkruiddoders tussen 6,8% en 9,2% gedaal het. Omdat die wisselkoers byna met 8% versterk het, kan gesien word dat onkruiddoders (glifosaat uitgesluit) in randterme oor ‘n jaartydperk met meer as 10% gedaal het. Dieselfde tendens word in die plaaslike mark verwag.

Tabel 2 toon internasionale insekdoderpryse per aktiewe bestanddeel oor ‘n jaartydperk. In die eerste gedeelte van die tabel is die pryse in dollarterme terwyl dieselfde pryse in die tweede gedeelte in randwaarde aangedui word. As ons die tabel ontleed, is dit duidelik dat pryse van die meeste insekdoders in dollarterme gestyg het. Dit is veral die prys van imidaklopried wat skerp toegeneem het. Die versterking in die waarde van die rand het egter die styging in die meeste van die onkruiddoders tot ‘n mate geneutraliseer. Dit is duidelik sigbaar in die tweede gedeelte van die tabel.

Plaaslike versus internasionale tendense
Tabel 3 
toon die jaar-op-jaartendense van geselekteerde plaaslike landbouchemikalieë. Dit is belangrik om daarop te let dat dit gemiddelde pryse van ‘n mandjie van produkte van ‘n spesifieke aktiewe bestanddeel bevat, byvoorbeeld ‘n gemiddeld van al die glifosaat 480 g/liter-produkte beskikbaar in die mark.

Grafiek 1 toon die internasionale en plaaslike prysindekse van glifosaat. Uit die grafiek kan ons aflei dat die plaaslike prysindeks heelwat platter is as dié van internasionale glifosaatpryse. Met hierdie tipe inligting probeer ons om die chemiese mark meer deursigtig vir Graan SA-lede te maak. Dit sal interessant wees om van ons lede te hoor wat hulle tans vir landbouchemiese middels betaal vergeleke met verlede jaar dieselfde tyd – gegewe die bostaande tendense. Stuur gerus ‘n e-pos na corne@grainsa.co.zaOns hoor graag van jou.

Publication: June 2017

Section: On farm level