March 2018

BRIAN DE VILLIERS, produkbestuurder: Byvoegmiddels, Villa Crop Protection

Water word algemeen gebruik vir die meng van plaagdoders en die egalige toediening daarvan oor ‘n oppervlakte. Die hoofrede hiervoor is omdat water vryelik beskikbaar is. Plaagdoderformulasies word ontwikkel om met water te meng – daarom die verskillende formulasietipes op die mark, byvoorbeeld oplossings (SL), suspensies (SC), emulsies (EC), benatbare formulasies (WP) en vele ander.

Water het egter verskeie chemiese en fisiese eienskappe wat nadelig vir plaagdodereffektiwiteit kan wees. Die chemiese eienskappe sluit opgeloste antagonistiese ione, wat harde en brak water veroorsaak, asook pH in. Hierdie chemiese eienskappe speel ook ‘n rol, maar in dié artikel word op water se fisiese eienskappe, naamlik oppervlaktespanning, gefokus.

Oppervlaktespanning word gedefinieer as water se vermoë om op te tree asof dit met ‘n elastiese laag omvou is. Die redes vir oppervlaktespanning is kompleks, maar die feit is dat dit veroorsaak dat plaagdoders nie optimaal presteer nie. Dit is derhalwe belangrik om oppervlaktespanning aan te spreek ten einde plaagbeheer te optimaliseer.

Wat gebeur in die lug?
Druppels word deur spuitpunte gevorm. Daarna beweeg dit deur die lug totdat dit die blaar tref. Indien oppervlaktespanning nie aangespreek word nie, sal ‘n gedeelte van die druppels wat die blaar tref, afhop. Indien dit byvoorbeeld ‘n sistemiese of kontak na-opkomsonkruiddoder is, sal hierdie druppels nutteloos vir onkruidbeheer wees. Die eienskap wat hier ter sprake kom, is bedekking.

Met enige plaagdoder gaan dit oor getalle, daarom hoe minder druppels afhop, hoe meer van die onkruiddoder bereik die teiken en hoe effektiewer is die plaagbeheer. Bedekking staan ook as “behoud” bekend: Die hoeveelheid druppels wat op die geteikende blaar behou word.

Wat gebeur op die plant?
Indien die druppels die blaar wel bereik en nie afhop nie, het dit ‘n kans om effektief te wees. Die probleem is egter dat die kontakarea tussen druppels met ‘n hoë oppervlaktespanning en die blaar uiters beperk is.

Hierdie beperkte kontakarea word deur ‘n hoë kontakhoek veroorsaak – daar is min plaagdoder in kontak met die blaar. Dit is dalk vir sekere sistemiese produkte aanvaarbaar, maar totaal onaanvaarbaar vir kontakmiddels wat veronderstel is om aan ‘n groot oppervlakte blootgestel te word. Hierdie verskynsel kan veroorsaak dat die plaagbeheer substandaard is en dat ‘n herbespuiting moet plaasvind – alles omdat die oppervlaktespanning nie aangespreek is nie.

Hoe word oppervlaktespanning aangespreek?
Daar is twee groepe byvoegmiddels, naamlik benatters en olies, wat oppervlaktespanning aanspreek. Benatters is wateroplosbare produkte, terwyl olies gewoonlik emulsies is. Beide hierdie byvoegmiddelgroepe sal oppervlaktespanning tot ‘n mindere of meerdere mate verlaag. Hierdie byvoegmiddels verlaag die kragte op die oppervlak van die druppel en sodoende word bedekking en verspreiding van spuitdruppels op die blaar aangespreek. Die mate waartoe die oppervlaktespanning verlaag word, sal bepaal hoeveel van die druppel op die blaar versprei.

Sekere benatters en olies sal dit matig verander om sodoende beter bedekking en ‘n matige verhoging in verspreiding te bewerkstellig. Ander benatters, soos die sogenaamde superbenatters, sal die oppervlaktespanning drasties verlaag, wat tot ongelooflike verspreiding van individuele druppels sal lei.

Is uitermatige verspreiding altyd voordelig?
Die antwoord hierop is nee. Dit is belangrik om te besef dat elke plaagdoder sekere vereistes ten opsigte van druppelverspreiding het. Sekere kontakdoders sal beslis deur uitermatige verspreiding bevoordeel word – tensy daar afloop vanaf die blaar is. Ander produkte vereis egter beperkte benatting en superverspreiding is nie altyd voordelig nie.

‘n Goeie voorbeeld hiervan is die ou bekende onkruiddoder, naamlik glifosaat. Glifosaat word vinniger en effektiewer opgeneem indien die konsentrasiegradiënt groot is: In ‘n druppel wat nie te veel versprei nie. Oor die algemeen vaar glifosaat dus beter met benatters wat nie die oppervlaktespanning te veel verlaag nie. Die benatter moet van so ‘n aard wees dat dit die bedekking verhoog, sonder om die druppels te veel te laat versprei.

Daar is altyd uitsonderings op elke reël en die etiket behoort altyd getrou nagevolg te word.

Hoe kies ek ‘n benatter of oliebyvoegmiddel?
Reël 1 is om die riglyne op die etiket van die plaagdoder te volg. Die plaagdodermaatskappy het uitgebreide navorsing gedoen om die betrokke byvoegmiddel op die etiket aan te beveel. Indien die geregistreerde byvoegmiddel met ‘n ander produk vervang word, kan daar ‘n paar dinge skeefloop:

  • Eerstens kan daar meer druppels van die teiken afhop. Hoe minder druppels op die teiken, hoe minder is die effektiwiteit.
  • Tweedens kan daar te min of te veel verspreiding van druppels wees. Te min verspreiding kan die effektiwiteit van byvoorbeeld kontakdoders ernstig benadeel. Te veel verspreiding van druppels kan die konsentrasie van die plaagdoder verlaag en sodoende opname van sekere sistemiese produkte benadeel.
  • Derdens kan daar ook afloop van spuitdruppels plaasvind.
  • Vierdens kan die verkeerde benatter gewasskade fasiliteer. Dit kan gebeur met ‘n ondoeltreffende benatter wat die opname en opnamespoed van sistemiese plaagdoders verlaag. Hoe swakker en stadiger die opname, hoe langer bly die sistemiese plaagdoder op die blaar en hoe groter is die kans vir skroei.

Dit is onmoontlik om al die aspekte van oppervlaktespanning in een artikel aan te spreek. Gevolglik is die kernvoordele en -gevare aangespreek om byvoegmiddelkeuse te vergemaklik. Die kernboodskap is om by die aanbeveling ten opsigte van byvoegmiddels op die etiket te hou. Bly weg van ongeregistreerde byvoegmiddels en aanbevelings. Die gevolge kan rampspoedig wees.

Vir meer inligting, skakel Brian de Villiers by 082 880 0974.

 

Publication: March 2018

Section: Focus on