Kanolakultivars vir 2020 – hoe om te kies

Gepubliseer: 10 Februarie 2020

1394
Piet Lombard,
Navorsing- en Tegnologie-ontwikkelingsdienste, Wes-Kaapse Departement van Landbou
Lisa Smorenburg,
Navorsing- en Tegnologie-ontwikkelingsdienste, Wes-Kaapse Departement van Landbou
Johann Strauss,
Navorsing- en Tegnologie-ontwikkelingsdienste, Wes-Kaapse Departement van Landbou

Klimaat in die Wes-Kaap is wisselvallig en kan ook binne ’n seisoen wissel. Die Suid-Kaap het in 2019 binne twee dae gedurende Maart baie reën gekry, maar dit is opgevolg deur ’n besonder droë groeiseisoen. ’n Uiters warm September in die hele Wes-Kaap het die opbrengspotensiaal drasties verlaag. In sommige areas het ’n verwagte goeie oes binne twee dae in September in ’n ramp verander. Alhoewel dit onmoontlik is om voorsiening te maak vir sulke klimaatsuiterstes, is goed aangepaste kultivars steeds noodsaaklik vir sukses.

Die seisoen bepaal die spoed van fisiologiese ontwikkeling. Die gemiddelde aantal dae tot blom op die Langgewens-navorsingsplaas was die afgelope seisoen elf dae stadiger as 2018 se 79 dae. Die Swartland en Suid-Kaap verskil gevolglik ook jaarliks – alhoewel daar baie min verskil in 2019 was.

Kultivars behou meestal hul posisie ten opsigte van ander kultivars. Vinnige kultivars bly vinnig en stadige kultivars bly stadig. In Tabel 1 word die kultivareienskappe van al die plaaslik getoetsde kultivars opgesom. Wanneer produsente ’n keuse maak, is dit belangrik om ’n paar dinge in gedagte te hou:

  • Beskikbaarheid van saad
    Dit gebeur soms dat nuwe kultivars in die proewe presteer, maar dat daar nog net beperkte saad beskikbaar is in die komende seisoen.
  • Beskikbare data
    Dit is die ideaal om na meer as een jaar se data te kyk. Kyk ook hoe die kultivar in ander produksiegebiede presteer.
  • Saadkwaliteit
    Oopbestuifde kultivars is byna nie meer beskikbaar nie – daar word nie aanbeveel dat die saad van basterkultivars teruggehou word nie. Produsente moet seker maak dat die saad wat geplant word nie te oud is nie. Die ontkiemingspersentasie moet ook so hoog as moontlik wees (hoër is altyd beter).
  • Fisiologiese ontwikkelingstempo
    Die fisiologiese ontwikkelingstempo en veral die aantal dae tot blom en tydperk van blom is belangrik. Die geweldige hitte gedurende September 2019 was nadelig vir die langer groeiers. Kanola is besonder gevoelig vir hitte- en vogstremming tydens die blom- en peulvulstadium.
  • Onkruidbestuur
    Die konvensionele en CL-kultivars (Imasamoks-to­lerante kultivars) is besonder groeikragtig en waar die stand dig genoeg is, help dit baie met die onderdrukking van onkruid. Produsente moet vooraf deeglike beplanning doen en onkruidgeskiedenis in ag neem alvorens op ’n kultivar besluit word. Die moontlikheid van oordrag van Groep 2-onkruiddoder (SU’s) kan ook die keuse van kultivar beïnvloed. CL-saailinge is minder gevoelig (nie bestand nie) vir oordrag van SU’s in die grond.
  • Siektes
    Dit word aanbeveel dat produsente in gebiede met ’n hoë swartstamrisiko, kultivars met goeie swartstamweerstand aanplant (Tabel 1). In sulke areas kan die aanplant van plaassaad opbrengsverlagings van tot 50% tot gevolg hê.
Konv = konvensionele; CL = Imasamoks-tolerante; TT= Triasien-tolerante; w = weerstand; mw = matige weerstand; mv = matig vatbaar; v = vatbaar.
# Data verkry vanuit Australië in Blackleg Management Guide Fact Sheet – Western and Southern Regions (2014 – 2018).
Swartland-swartstamdata (s) is gebruik waar geen ander data beskikbaar is nie.

Die inligting en eienskappe van die kultivars word in Tabel 1 opgesom. Dit sluit dae tot blom en tydperk van blom sowel as opbrengspotensiaal in. Die swartstamindeks word in twee kolomme verdeel. Die tweede kolom gee die swartstamindeks nadat saad met die saadbehandelingsmiddel Jockey® of Galmano® behandel is. Waar internasionale inligting nie beskikbaar is vir spesifieke kultivars nie, is plaaslike data gebruik. Die laaste kolom dui die weerstandsgene aan van die kultivars met die beste swartstamweerstand.

Die Wes-Kaapse Departement van Landbou doen jaarliks kultivarevaluasieproewe in die Swartland en Suid-Kaap. Skandeer die QR-kode om die resultate te besigtig.