Saad – alles wat jy wil weet

1280

February 2018


ESTIE DE VILLIERS, redakteur, SA Graan/Grain

Die afgelope seisoen was ‘n moeilike, droë seisoen in die Suid- en Wes-Kaap en daar was heelwat probleme met die opkoms van kanolagesaaides.

Mnr Jim McDermott (Pioneer agent) vat dit raak vas: “Die vorige seisoen is in etlike gebiede deur swak en oneweredige ontkieming gekenmerk. Dít was amper uitsluitlik te wyte aan die droogte. Die ontkieming is verder deur hoë grondtemperature vererger, waar kanola in droë grond geplant is en te lank gelê het, voordat die eerste reën eers heelwat later ontvang is. Dié uitdagings in die vorige seisoen, kan hoofsaaklik aan omgewingsfaktore toegeskryf word.”

SA Graan/Grain het met die saadmaatskappye Agricol, Bayer, K2 Agri en Pioneer gesels om uit te vind wat se nuwe kanolakultivars hulle die seisoen beskikbaar het en oor watter unieke eienskap­pe die kultivar/s beskik. Ons wou ook weet of hulle genoeg saad vir die seisoen beskikbaar het en watter raad hulle aan produsente vir die nuwe seisoen het.

Agricol 
Die nuutste toevoeging tot die Agricol kultivarpakket, Diamond, het tydens die afgelope 2017-seisoen die grense verskuif wat kanola-opbrengste betref – dit is aldus mnr Jan Botes (gewasbestuurder: Kanola, Agricol).

“Diamond het die afgelope seisoen die hoogste gemiddelde opbrengs in die Nasionale Kanolakultivarproewe in die konvensionele groep gelewer in beide die Wes- en Suid-Kaap. Dit het ‘n kort- tot mediumgroeiseisoen en vaar nie net goed in areas waar die reënval neig om vroeër af te sny nie, maar is ook baie kompeterend in vergelyking met die langgroeiseisoenkultivars,” het hy gesê.

Agricol beskik oor ‘n reeks kultivars (vroeg- tot mediumgroeiseisoen) wat aan die verskillende behoeftes van kanolaprodusente voldoen en waarvan daar genoeg saad beskikbaar is.

Agamax het die vermoë om moeilike produksietoestande beter te hanteer as gevolg van sy goeie droogteweerstand en stabiele opbrengste. Tango se opbrengste het gedurende 2017 die tweede posisie behaal in beide die Wes- en Suid-Kaap se konvensionele kanolakultivarresultate. AV Garnet is ‘n oopbestuifde kultivar met ‘n hoë-opbrengspotensiaal. Sy prys, in vergelyking met dié van basterkultivars, maak dit vir produsente ‘n baie aanloklike keuse om die plant. Atomic is die vlagskip TT-kultivar in Agricol se kanolapakket.

Bayer 
Mnr Callie Krüger (bestuurder: Saad, Bayer) het bevestig dat Bayer se Belinda-kultivar steeds beskikbaar is vir aanplantings en dat hulle oor meer as genoeg saad vir die 2018-seisoen beskik. Saad sal reeds teen die einde Februarie beskikbaar wees.

“Belinda is ‘n mediumgroeier, maar ons beveel aan dat die kultivar so vroeg moontlik geplant moet word sodat wanneer die droogte of erge hitte kom, die meeste blomme reeds in peule omgesit is,” het hy gesê.

K2 Saad 
Dié saadmaatskappy bied ‘n verskeidenheid basterkanolakultivars met eiesoortige eienskappe in elke groep, naamlik Clearfield, triasienweerstand en konvensionele kultivars. Volgens mnr Gert Els (kommersiele bestuurder: Weidings, K2 Saad) raak swartstam ‘n al hoe groter probleem. “Al K2 Saad se kanolakultivars is matig tot tolerant teen swartstam.”

Een van hulle gewilde kultivars, Hyola 575 CL, is deur mnr Matthys Heyns op sy plaas Nooitgedacht geplant. Hy sê: “Vogtoestande tydens planttyd in 2017 was besonder ongunstig. Soos verwag, het baie kanola wisselvallig opgekom. Met die eerste goeie reëns het die plante egter merkwaardig herstel. Hyola 575 CL het baie goed gestoel en selfs ‘n mooi hoogte bereik.”

Hyola 50 is ‘n konvensionele kultivar wat oor die afgelope paar jaar bewys het dat dit konstant goed presteer. Hyola 50 trek veral voordeel uit ‘n langer groeiseisoen en wanneer reën laat in die seisoen nog voorkom. Hyola 555 TT beskik oor uitstekende plantgroei­kragtigheid en neem ongeveer 106 dae tot einde blom. Dit lewer konstant bo-gemiddelde tot die beste opbrengs in die TT-groep.

K2 Saad raai produsente aan om altyd navraag te doen oor die spesifieke saadlot se ontledingsertifikaat van die laboratorium. “Dit is raadsaam om jou te vergewis van die saad se kwaliteit voor planttyd. Bewaar ook die etikette van die sakke vir enige toekomstige verwysing,” gee Els raad.

Pioneer 
Pioneer bied vanjaar drie kanolakultivars aan produsente: Twee van dié kultivars is die splinternuwe 44Y90 CL en 45Y91 CL – wat vir die eerste keer in Suid-Afrika kommersieel beskikbaar sal wees.

44Y90 CL is ‘n vroeg- tot mediumgroeiseisoenklaskultivar, terwyl 45Y91 CL in die medium- tot langgroeiseisoenklas val. Albei word deur uitstaande vroeë groeikrag, goeie swartstam-weerstand en hoë-opbrengspotensiaal gekenmerk en het uitstekend indie 2016 en 2017 Nasionale Kultivarproewe gevaar. Die derde kultivar, 44Y89 CL, is al vir twee seisoene beskikbaar en het puik in kommer­siële aanplantings presteer.

Volgens mnr Tony Esmeraldo (kommersiële hoof: DuPont AgCo, SA) het buitengewone swaar ryp in dié gebiede waar saadgewasse in Australië aangeplant word, opbrengste beïnvloed. Gevolglik gaan die maatskappy nie soveel saad oes soos wat aanvanklik voor be­plan is nie. “Nietemin, voer ons steeds heelwat méér saad in as wat daar in die 2017-seisoen ingevoer is,” het hy gesê.

McDermott raai produsente aan om voortdurend normale en goeie kanolaverbouingspraktyke in die komende seisoen toe te pas. “Plant altyd die hoeveelheid saad per hektaar wat vir dié spesifieke kultivar aanbeveel word. Gebruik gesertifiseerde saad. Waar moontlik, plant ná die reën, met voldoende grondvog vir ontkieming. Indien die reën laat is, moet nie al jou beplande hektare kanola-aanplan­tings in droë grond plant nie. Ná verlede jaar se kwaai insekplae-aanslag word produsente aangemoedig om hul kampe, veral ná peulvorming, deeglik te inspekteer en om betyds beheermaatreëls teen ruitrugmot en bolwurmlarwes toe te pas,” vermaan hy.
Publication: February 2018

Section: Focus on