November 2016

RUTH SCHULTZ, SA Graan/Grain contributor and HELENUS KRUGER, photos

Vir mnr Jozua du Plessis van die plaas Middelbult by Delmas, wat as die Graan SA/Syngenta Graanprodusent van die Jaar aangewys is, is presisie die resultaat van harde lesse wat oor meer as drie dekades van boerdery geleer is.

Du Plessis het in 1981 op 300 ha huurgrond begin boer. In 1982/1983 het ‘n sterk El Niño geheers, wat veroorsaak het dat hy ‘n erge misoes gehad het. Hy het slegs 0,86 t/ha mielies en een 70 kg sak bone/ha gestroop. Gelukkig kon hy voer baal en verkoop en darem gelykbreek. ‘n Jaar later het hy die plaas, waar hulle steeds woon, gekoop. Uitdagende jare het gevolg, maar harde werk het verseker dat hy sy eerste spilpunt in 1991 opgerig het. Vandag boer sy twee oudste seuns, Ruan en Chandré, saam met hom.

Alles op hul plaas word gemeet, nagegaan en gebalanseer tot perfeksie. Presisieboerdery word reeds vanaf 2000 toegepas – op ‘n driejaarrotasiebasis. Sedert hulle presisieboerdery in hul boerdery begin aanwend het, het mielie-opbrengste met 40% verhoog.

Die grondtipe is geskik vir ‘n verskeidenheid van gewasse wat onder besproeiing en droëland verbou word. Mielies, koring, aartappels en sojabone, wat sojaboonsaad insluit, word geproduseer in lyn met markbewegings en die beskikbaarheid van water. Om voorsiening te maak vir toekomstige besproeiingsdoeleindes word ‘n nuwe dam op die plaas gebou, omdat bewerkbare landbougrond optimaal benut word.

Hulle volg konvensionele bewerkingsmetodes gekombineer met ‘n GPS-stelsel om die produksieproses te optimaliseer. Daar word gedurende die dag geoes en die graan word dan oornag in graandroërs gedroog met ‘n kapasiteit van 200 t/dag. Die grootskaalse stoorkapasiteit (6 000 ton silo’s en nog stoorplek vir ‘n verdere 2 000 ton in ‘n aangepaste skuur) word aangewend om sover moontlik skuld te vermy en vergemaklik ook besluitneming en tydsberekening ten opsigte van bemarking en die verkoop van produkte.

Die Du Plessis’ plant slegs Bt-vrye mielies, wat hulle direk aan die industrie verkoop. Graan word verder gebruik vir hul bykans 750 Bonsmarabeeste wat vir speenkalfproduksie aangewend word.

Hierdie megaboerdery is ‘n goed-geoliede masjien en die sukses daarvan kan toegeskryf word aan sorgvuldige bestuur en spanwerk.

‘n Gedugte span – elkeen onmisbaar

In die beginjare het Du Plessis self herstelwerk aan sy trekkers gedoen, maar vandag het hy ‘n goeie werkspan wat almal saam bydra tot die sukses van die boerdery. “Ek wil graag vir my vrou, Sonja, met wie ek al vir 39 jaar ‘n pad stap, dankie sê – sy het van die begin af net so hard soos ek gewerk. Dankie aan my twee oudste seuns, Jozua en Chandré, asook al die ander mense op die plaas – van die bestuur tot die persoon wat die veewerk doen. Aan my jongste seun, Ruan, wat nie in die boerdery betrokke is nie, wil ek voorspoed toewens met sy eie besigheid.

“Ek wil dan graag ons Liewe Vader bedank, want toe ek net begin boer het, was dit meer ‘n geval van blote genade as wat dit ‘n bestaan was,” het hy tydens sy bedankingstoespraak gesê.

Hy het ter afsluiting sy dank uitgespreek aan die borge wat dié kompetisie moontlik kon maak. Syngenta is in samewerking met Graan SA die trotste borg van die Graanprodusent van die Jaartoekenning.

Harde lesse en spanwerk verseker sukses

Publication: November 2016

Section: Grain SA