Verklaar lone betyds om boetes te vermy

Stephan Pietersen, Work Accident Support
Gepubliseer: 12 April 2023

452

Op 13 Februarie 2023 het die Direkteur-Generaal van die Departement van Indiensneming en Arbeid­ aangekondig dat die jaarlikse lone elektronies vanaf 1 April 2023 tot 31 Mei 2023 verklaar moet word. Dit sluit lone in van werkers en werkende direkteure en is van toepassing op lone wat vanaf 1 Maart 2022 tot 28 Februarie 2023 deur ’n boerdery betaal is asook die geraamde lone vanaf 1 Maart 2023 tot 28 Februarie 2024. Versuim om dit te doen sal daartoe lei dat ’n boete van 10% uitgereik word vir die laat indiening.

Vergoeding vir Beroepsbeserings en Siektes
Volgens die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en Siektes (COID) is die landbousektor in vier subklasse verdeel en elke subklas is onderworpe aan ’n spesifieke tarief. Hierdie tarief tesame met die lone wat verklaar word, word deur die Vergoedingsfonds gebruik om ’n rekening uit te reik. Die minimum aanslagrekening is R1 443 en wanneer die betaling gemaak word, moet die verwy­singsnommer presies gebruik word soos op die rekening uiteengesit. Baie besig­hede maak die fout om ander inligting soos die boerdery se naam te plaas by die verwysingsnommer en die betaling verskyn dan nie op die besigheid se profiel nie.

Die subklasse is soos volg met die tarief vir 2022 en 2023:

  • Veeboerdery – 2,27; 2,39
  • Grondbewerking en bosbou – 2,25; 2,36
  • Gemengde boerdery – 2,38; 2,09
  • Suiker- en teeboerdery – 1,17; 0,96

Produsente betaal die bogenoemde tarief vir elke R100 van die lone wat aan werkers betaal word.

Hierdie tariewe is in 2020 hersien en word oor ’n vyfjaartydperk vanaf 2021 tot 2025 ingefaseer. Graanprodusente val onder die subklas van grondbewerking en bosbou. Indien ook met vee geboer word teen ’n ratio van ongeveer 50/50, sal die boerdery onder gemengde boerdery val.

Sodra die rekening uitgereik word, is dit binne 30 dae betaalbaar of ’n ooreenkoms kan getref word met die Vergoedingsfonds om dit maandeliks te betaal. Versuim om die reke­ning voor die sperdatum te betaal, sal lei tot ’n boete van 10% asook maandelikse rente teen ’n rentekoers bepaal deur die Nasionale Tesourie. Indien ’n ooreenkoms getref moet word, is ’n deposito van 20% van die uitstaande bedrag onmiddellik betaalbaar en die aansoek moet gedoen word voor die sperdatum.

Verklaring van lone
Lone vanaf 1 Maart 2022 tot 1 Februarie 2023 moet tot op ’n maksimum van R529 264 verklaar word en vanaf 1 Maart 2023 tot 28 Februarie 2024 tot ’n maksimum van R563 520. Indien ’n werker byvoorbeeld R650 000 verdien het in 2022, moet die besigheid slegs R529 264 verklaar en nie die volle salaris van die werker nie. Indien daar ’n fout begaan is met die verklaring van die lone, het ’n boer­dery 60 dae om aansoek by die Vergoedingsfonds te doen om die rekening te hersien.

Lone sluit in:

  • Oortyd van ’n gereelde aard
  • Bonusse van enige aard
  • Kommissie
  • Die kontantwaarde van kos en huisvesting wat aan werkers verskaf word as deel van ’n vergoedingspakket asook van byvoordele soos ’n maatskappymotor, gratis verblyf of verblyf teen ’n verlaagde tarief, ensovoorts.
  • Reis- en ander toelaes wat gereeld betaal word as deel van die pakket.
  • Enige ander vergoeding in kontant of in natura aan ’n werk­nemer uit hoofde van sy/haar dienskontrak.
  • Verdienste/onttrekkings betaal aan werkende direkteure van ’n maatskappy of lede van ‘n beslote korporasie.

Die Vergoedingsfonds het ook die mag om ’n rekening te oudit waar daar ’n verskil is van 50% ten opsigte van die lone in vergelyking met die vorige jaar.

Gedurende 2020 het besighede die Vergoedingsfonds R9,5 miljard betaal en verder het inspekteurs van die Departement van Indiensneming en Arbeid in 2022 ’n bedrag van R74 miljoen ingevorder, wat ook boetes insluit, van besighede wat agterstallig was met hulle COID-betalings.

Van die meer as 950 000 besighede wat geregistreer is by die Vergoedingsfonds, is daar 25 000 produsente wat nie hul jaarlikse lone-opgawe inhandig nie. Dit hou finansiële en wetlike im­plikasies in. Indien ’n boerdery nie meer enige werkers in diens neem nie, moet daar aansoek gedoen word vir deregistrasie vanaf die datum waarop die laaste werker diens verlaat het. Dit sal voorkom dat enige verdere rekeninge uitgereik word.

Produsente moet rekord hou van die volgende vorms wanneer die lone verklaar is:

  • Voltooide lone-opgawevorm
  • Rekening wat uitgereik is
  • Bewys van betaling
  • Brief van goeie stand

Bogenoemde kan aangevra word deur ’n inspekteur van die Departement van Indiensneming en Arbeid.

Baie produsente word jaarliks boetes opgelê vir die laat indie­ning van die lone-opgawe en betaling van die rekening na die sperdatum, maar dit kan voorkom word. Waar boerderye met kon­tantvloei sukkel, kan ’n ooreenkoms getref word om die rekening maandeliks te betaal.