Geïntegreerde gewas- en aangeplante weiding-gebaseerde lewendehawe-produksiestelsels – Deel 5: Witbuffelsgras (Panicum maximum)

2070

Hierdie artikel is die vyfde in ’n reeks artikels wat spesifieke gewasspesies vir aangeplante weiding bespreek wat ’n belangrike rol in bewaringslandbou-gebaseerde (BL-gebaseerde) gewas-aangeplante weiding-rotasies speel. Benewens dat die fisiese, chemiese, hidrologiese en biologiese eienskappe van die grond verbeter word, kan sulke spesies, insluitend een- of meerjarige dekgewasse, ook met sukses as veevoer gebruik word.

Lewendehawe-produksiestelsels is in baie opsigte van die benutting van aangeplante weidingspesies afhanklik – in hierdie geval as ’n aangeplante weiding-rusoesgewas, en kan dus ’n geïntegreerde komponent van BL-gebaseerde gewas-aangeplante weiding-rotasies word. Dit is egter noodsaaklik om ’n aangeplante weidingspesie te identifiseer wat aan die vereistes vir ’n dubbeldoelgewas voldoen, met ander woorde vir lewendehawevoer en/of grondherstel.

Panicum maximum/witbuffelsgras (white buffalo grass)

Witbuffelsgras is ’n swak meerjarige gras (twee tot vyf jaar) inheems in Afrika. Die groeivorm van hierdie gras verskil geweldig, siende dat sekere ekotipes skaars hoër as 1 m groei, terwyl ander ekotipes tot en met 2,5 m hoog groei. Verskeie ekotipes is sterk polvormig en ander is meer rankerig van aard.

As gevolg van bogenoemde klassifikasie word die spesie in twee hoofgroepe verdeel:

  • Die medium tot hoog-groeiende tipes, wat kultivars soos Hamil, Vencedor en Coloniao insluit.
  • Die hoog-groeiende tipes, ook bekend as P. Maximum var. trichoglume. Hierdie groep sluit kultivars soos green panic (Petri), Gatton en Sabi in, wat oorspronklik uit Zimbabwe kom en meer algemeen as ’n droogtebestande spesie beskryf word.

Die spesie is ook bekend daarvoor dat dit ’n baie smaaklike weidingspesie is. Dit lewer baie goeie wintervoer en kan in sekere gevalle groen bly in die winter – veral in rypvrye areas. Onder goeie bestuur kan hooi van hierdie spesie vervaardig word, maar dit kan maklik ‘n beter kwaliteit kuilvoer lewer.

Landbou-ekologiese verspreiding

Witbuffelsgras is ook bekend as ’n grasspesie wat goed onder bome groei, maar dit kan in oop graslandgebiede ook voorkom. As gevolg van die groot variasie in ekotipes word daar aanvaar dat die spesie goed by verskeie gebiede aanpas.

Daar word opgemerk dat die spesie wyd verspreid kan groei – vanaf Limpopo tot in die Oos-Kaap. ‘n Groot persentasie Panicum maximum word tans na Suid-Afrika ingevoer en talle vrae rondom die aanpasbaarheid van die ingevoerde kultivars bly onbeantwoord.

Die volgende waarnemings kan grotendeels bevestig word: Gatton, tans die beskikbaarste kultivar in Suid-Afrika, vaar goed in gebiede soos Potchefstroom, en is dus bestand teen koue. Dit benodig gemiddelde reënval van ongeveer 550 mm tot 600 mm per jaar. Die spesie vaar besonder goed in klimate wat effens hoër humiditeit het, soos die Laeveldgebiede van Limpopo.

Bestuur en benutting

’n Fyn tot ferm saadbed word benodig en die vestiging word gedurende Oktober/November of ook in Februarie aanbeveel. Goeie kwaliteit saad is ’n belangrike vereiste. Indien die spesie in rye geplant word, kan ’n saaikoers van tussen 2 kg en 4 kg saad/ha geplant word.

Wanneer ’n strooimetode gebruik word, kan die saaikoers verhoog word na 6 kg tot 8 kg saad/ha. Indien die gras onder besproeiing geplant word, kan die saaikoers na 10 kg/ha verhoog word.

Witbuffelsgras is bekend daarvoor dat dit goed plant in mengsels van ander smaaklike grasse soos Smutsvingergras, Rhodesgras en borseltjiegras. Dit kan ook saam met peuldraende spesies soos lusern geplant word, wat sal verseker dat ’n hoër kwaliteit weiding en hooi geproduseer word.

Witbuffelsgras benodig gemiddeld tot hoë stikstofbemesting (N). Daarom word daar aanbeveel dat witbuffelsgras wat in droëlandomstandighede groei (500 mm tot 600 mm reën per jaar) 75 kg tot 100 kg N/ha kan benodig.

In hoërreënvalareas en selfs met besproeiing kan vlakke van tot 150 kg N/ha benodig word.

Die fosfaatstatus (P) van die grond waarin hierdie spesie geplant word, moet ongeveer 15 mg/kg tot 20mg/kg grond wees. Indien kaliumtekorte (K) van minder as 80 mg/kg grond aangeteken word, moet kaliumchloried (KCl) gebruik word om die K-vlakke in die grond te verhoog.

Daar is baie min bekend oor die potensiële waarde van bestaande kultivars en ekotipes van hierdie spesie, veral in verskillende omgewingstoestande. Baie navorsing word benodig oor die beste bestuur en benuttingspraktyke vir hierdie spesie.

Daar is bewyse dat witbuffelsgras goed reageer op geringe ontblaring, en dat gereelde ontblaring onder ’n hoogte van 10 cm die hergroeipotensiaal van die spesie negatief kan beïnvloed. Benewens die handhawing van goeie grondvrugbaarheid sal korrekte rotasieweiding met die klem op weidingshoogte en frekwensie van ontblaring vir baie jare lank ’n hoëkwaliteit-aangeplante weiding met hoë opbrengs verseker.

Opbrengste van tot 20 ton/ha is al met besproeiing verkry. Droëmateriaalopbrengste van tussen 6 ton/ha en 14 ton/ha is egter meer realisties. Dit hang af van verskeie faktore soos reënval, klimaat en grondkwaliteit.

Pluim van die Panicum maximum.

 

’n Pol van P. Maximum wat die blaarrykheid van die plant aandui.

 

Witbuffelsgras benodig vrugbare grond.

Bestuursuitdagings

Dit is belangrik om die regte hoeveelheid reën of besproeiing te hê om goeie produksie van hierdie spesie te verseker. Die spesie is egter sensitief vir versuipte grond en indien dit besproei word, moet dit wees op grond wat goed gedreineer word. Indien die spesie in droër gebiede geplant word, is dit belangrik om dit in 1 m tot 2 m wye rye te plant.

Jaarlikse bemesting moet in medium tot hoë dosisse aangewend word om hoë produksie asook die oorlewing van ’n stand witbuffelsgras te verseker – veral in sandgrond. Rooi grond (Hutton-tipes) het al bewys dat dit goeie stande witbuffelsgras lewer, maar swaar grond se produksie is nie so goed nie en sandgrond moet eerder vermy word. Gereelde oorbeweiding (onder hoogte van 10 cm) kan die lewensduur van hierdie gras noemenswaardig verkort.

Dit is moeilik om hooi van hierdie spesie te vervaardig, aangesien dit hoë volumes materiaal lewer wat stadig uitdroog en verkieslik ’n grassnyer met ’n krimper vereis, asook redelike windrye om dit vir baal voor te berei. Wanneer hooi van hierdie spesie vervaardig word, lewer dit goeie kwaliteit. Hierdie spesie kan ’n anti-kwaliteitsfaktor soos oksaalsuur bevat, wat kan voorkom onder stresvolle groeitoestande. Perde is byvoorbeeld sensitief vir hoë vlakke oksaalsuur.

Grondbewaring en gesondheidsvoordele

Navorsing het getoon dat witbuffelsgras die vermoë het om in soutgrond te groei. Net soos met Rhodesgras is dit belangrik dat grond wat gereeld met graangewasse, en veral onder besproeiing, beplant word met witbuffelsgras roteer word.

Hierdie praktyk sal die effek van hoë soutinhoud as gevolg van besproeiing verminder. Hierdie gras sal nie net in die soutgrond groei nie, maar die spesie sal van die sout opneem – wat tot die inherente smaaklikheid daarvan sal bydra. Die oortollige vlakke van oorblywende sout sal uit die wortelsone geloog word, terwyl die meerjarige weiveld oor tyd besproei word.

Diereproduksie-aspekte

Hierdie spesie is bekend vir ’n relatief goeie weidingkapasiteit vir een tot twee grootvee-eenhede (GVE’s) per hektaar. ’n Bykomende voordeel van hierdie gras is die goeie voedingswaarde gedurende die winter, wat net weer die wintervoerwaarde bevestig. In die winter kan hierdie spesie ’n verteringswaarde van ongeveer 45% hê, met ’n ru-proteïeninhoud van ten minste 6%. Een van die hoofredes waarom hierdie spesie sy kwaliteit in die winter behou, is dat die koolhidrate en ander belangrike voedingstowwe in die bogrondse plantkomponente gestoor word, en nie in die wortels soos die geval is met talle ander spesies nie.

In die somer kan verteringswaardes van enigiets tussen 53% en 62% verwag word, met ’n ru-proteïenwaarde van ten minste 6% tot 11%, terwyl sommige studies onder intensiewe bemesting en besproeiingspraktyke ru-proteïenwaardes van tot 20% tot 23% aangeteken het.

Graangewasproduksie

Nadat ’n tipiese rusoesgewasstelsel met witbuffelsgras vir ’n tydperk van ongeveer vyf jaar gebruik is, behoort die grond genoeg herstel te wees om eenjarige graangewasse onder ’n BL-stelsel te kweek. Onkruiddoders maak die aangeplante weiding vinnig dood en die aangeplante weidingreste bly op die grond se oppervlak, wat bedekking verskaf wat erosie beperk en waterinfiltrasie bevorder, asook hulle tempo van mineralisasie verminder.

Wanneer ’n besluit geneem word om die rusoes te beëindig, moet alle aangeplante weidingskomponente beskou word as “onkruid” wat verwyder moet word. Dit moenie meer as bron van voer vir lewende hawe beskou word nie.

Afhangend van die aangeplante weidingspesie en die situasie (byvoorbeeld droë of nat gebied/seisoen) kan die aangeplante weiding doodgemaak word ’n seisoen voordat graangewasse geplant word sodat die grondprofiel met water aangevul kan word. In sekere situasies/gebiede kan ’n eenjarige peulgewas geplant word direk nadat die rusoesgewas beëindig is, byvoorbeeld weiwieke (Vicia villosa) as ’n wintergewas of sojabone (Glycine max) in die volgende somer, gevolg deur mielies (Zea mays) in die wisselbou.

Die watervereistes vir die eerste oes wat ná die aangeplante weiding beplan word, sal die tydsberekening vir die verwydering van die aangeplante weiding beïnvloed, veral in die droër, westelike graanproduserende streke van Suid-Afrika. Betroubare en tydige seisoenale reënvalvoorspellings kan met hierdie beplanning help.

Na die aangeplante weidingfase, sal die graangewasopbrengs in droër streke beperk word, tensy die grondwaterprofiel aangevul word. Nadat die aangeplante weiding verwyder is, moet onkruid in die braakland beheer word om grondwater te bewaar om die maksimum voordele van die rusoes te verkry. ’n Geskikte geenbewerkingsplanter moet gebruik word om die graangewasse direk in die reste van die aangeplante weidingsgewas te plant sonder enige ander bewerkingspraktyk wat die grond versteur.

Normale geïntegreerde bemestings- (gegrond op grondvrugbaarheidsvlakke en opbrengsmikpunte), onkruid- en plaagbeheerpraktyke moet gevolg word. Tydens die transformasiefase, nadat nuwe BL-graanlanderye gevestig is (byvoorbeeld tydens die eerste vyf jaar na die beëindiging van die rusoesgewas), word ’n toename van 30% in N-bemesting op mielies aanbeveel omdat die N in die grond geïmmobiliseer is.

Gevolgtrekking

Witbuffelsgras is beslis ’n subtropiese grasspesie wat geweldige potensiaal in die Suid-Afrikaanse geïntegreerde gewas- en lewendehawe-produksiestelsels het. Dit lewer nie net hoë opbrengste en kwaliteitweiding nie, maar het ook die potensiaal om goeie-gehalte wintervoer en kuilvoer te lewer en is noodsaaklik vir elke voervloeiprogram, tensy die klimaat en reënval die gebruik beperk.

Hierdie spesie het ook die vermoë om in soutgrond te groei en verskaf die geleentheid om gewaslanderye onder besproeiing te laat rus en te help om dit te herstel. Daar moet egter altyd onthou word dat voldoende stikstofbemesting toegedien moet word en dat die fosfor- en kaliumstatus van die grond gehandhaaf moet word, soos vroeër bespreek is.

Vir meer inligting, kontak dr Wayne Truter by wayne.truter@up.ac.za, prof Chris Dannhauser by admin@GrassSA.co.za, dr Hendrik Smith by hendrik.smith@grainsa.co.za, of mnr Gerrie Trytsman by gtrytsman@arc.agric.za.