October 2016

MARLENE VAN DER WALT en ELBÉ HUGO, LNR-Instituut vir Graangewasse, Potchefstroom

Katbos, botaniese naam Asparagus laricinus, is in die volksmond ook bekend as bergkatdoring, fynkatbos, lang beenkatdoring of Ibutha (Zulu).

Chemiese beheer van katbos

Dit word geklassifiseer of ingedeel as een van die verklaarde indringerplante en is elke grondeienaar se nagmerrie, omdat die plante veral in weidingsgrasse indring en oorneem. Die problematiese onkruid is ‘n meerjarige struik met ‘n goed-ontwikkelde wortelstelsel, immergroen naaldagtige blare en wit-silweragtige vertakte stingels. Katbos dra vruggies/bessies wat deur voëls versprei word.

Katbos kom wydverspreid voor – veral in die noordelike dele van die Noordwes Provinsie, Gauteng, Limpopo, Mpumalanga, KwaZulu- Natal, die Vrystaat en die Noord-Kaap. Infestasie begin gewoonlik by lyndrade langs paaie en dring dan die weiding binne.

Die onkruid is ‘n geharde, houtagtige plant met ‘n goed-ontwikkelde penwortelstelsel. Dit is reeds dié diep penetrerende penwortelstelsel wat die verwydering daarvan arbeidsintensief maak en opname van grondtoegediende onkruiddoders bemoeilik. ‘n Verdere probleem in die beheer van katbos is dat blaartoegediende onkruiddoders nie effektief geabsorbeer word deur die naaldvormige blare nie.

Vir suksesvolle katbosbeheer moet byvoegmiddels (benatters en penetreerders) altyd in na-opkomstoedienings by onkruiddoders gevoeg word om effektiewe opname deur blare te verseker. Hierdie tipe inligting word gewoonlik in die gebruiksaanwysings op die produketikette verskaf.

Suksesvolle beheer van katbos hang af van korrekte toediening van geregistreerde onkruiddoders. Geregistreerde onkruiddoders is beskik baar in twee tipes formulerings, naamlik korrels en vloeistof – en elkeen word verskillend aangewend. Lees alle gebruiksaanwysings noukeurig deur op die spesifieke produk se etiket voor toediening.

Die onkruiddoders in Tabel 1 word aanbeveel en is geregistreer vir die beheer van katbos.

Chemiese beheer van katbos

Hatchet is ‘n nie-selektiewe, sistemiese onkruiddoderoplossing met nawerking vir die beheer van indringerplante in bosbou, weiding, industriële- en natuurbewaringsgebiede.

Hatchet of Chopper word toegedien op aktief-groeiende katbos. Vermy egter kontak met ander plante rondom die katbos. Kanse vir skade is min indien dit korrek aangewend word. Die effek op grasse is baie min en giftigheid vir diere is ook nie beduidend nie. ‘n Mengsel van glifosaat en Chopper word ook aanbeveel. Hatchet of Chopper sal beter werk indien die katbos eers afgesny of gekap word voor bespuiting. Ongelukkig is dit ‘n arbeidsintensiewe proses.

Browser beheer katbos ook effektief vir langer periodes as gevolg van die residuele effek van die aktiewe bestanddeel pikloram.

Pikloram kan selfs vir langer as ‘n jaar in die grond aktief bly. Tydens toediening vind daar egter dikwels afloop plaas en gevolglik sterf die gras rondom die stamme baie keer ook af.

Bushwacker word slegs aanbeveel vir kolbespuiting, aangesien die omliggende plante en gras ook gedood word tydens die toedieningsproses.

Molopo 200 GG is ‘n veiliger opsie vir katbosbeheer, omdat die gras na toediening gewoonlik weer sal herstel. Molopo 200 GG is ‘n grondtoegediende, korrel-onkruiddoder met ‘n lang nawerkende effek vir die beheer van sekere boom- en struikspesies.

Molopo 500 SC is ‘n grondtoegediende suspensiekonsentraaton kruiddoder wat ook ‘n lang nawerking in die grond het.

Limpopo 200 GG is ‘n grondtoegediende korreltipe onkruiddoder met lang nawerking, vir die beheer van sekere boom- en struikspesies in weidings- en nywerheidsgebiede. Limpopo moet eers in water opgelos word voordat dit toegedien word.

Limpopo 800 WDG is ‘n grondtoegediende, water-dispergeerbare korrelonkruiddoder met ‘n lang nawerking vir die beheer van sekere boom- en bosspesies – soos gelys in natuurlike weidingsgebiede en areas wat nie onder gewasverbouing is nie.

Die twee verskillende formulerings word per etiket soos volg aanbeveel:

Die korrels word eweredig rondom die stam versprei. Lugtoedienings teen 5 kg/ha kan ook gebruik word. Belangrik om in ag te neem, is om die toediening net voor aanvang van die reënseisoen te doen sodat korrels kan oplos en absorpsie deur die katbos se wortels kan plaasvind. Novembermaand is ‘n goeie tyd vir korreltoediening. Plante sal 36 maande of minder neem om te vrek – afhangende van die grondsoort, planttipe en effektiewe reënval.

Dosisse op die etiket is slegs van toepassing op plante tot en met ‘n hoogte van 2 m. Die dosis is klei-gebonde – dit wil sê hoër dosisse moet toegedien word in grond met ‘n hoër kleipersentasie. Korrelformulering word nie aanbeveel vir grond met ‘n kleipersentasie hoër as 35% nie, as gevolg van verlies aan produk weens oplosbaarheid en opname deur die wortelstelsel. Vir hoër kleipersentasies word blaartoegediende middels aanbeveel.

Die suspensiekonsentraat is korrels wat in genoegsame water opgelos word, of ‘n onkruiddoder in ‘n vloeibare vorm. Behandeling sal eers effektief wees nadat genoegsame reën die onkruiddoder in die wortelsone ingeloog het, sodat dit deur die teikenplant opgeneem kan word.

Daar word aanbeveel dat toediening van die produk net voor of met die aanvang van die reënseisoen gedoen word om sodoende die beste resultate te verkry. Hierdie formulering is stadig-werkend en vatbare plantsoorte kan tot 24 maande neem om te vrek – af hangende van die spesie, grondtipe en reënval.

Gedurende hierdie tydperk sal behandelde plante herhaaldelik blaarvergeling, -verlies en -hergroei toon, met ‘n progressiewe terugsterwing totdat die plant uiteindelik heeltemal dood is. Progressiewe terugsterwing is dan ook die rede waarom ‘n tweede toediening nie aanbeveel word voordat 24 maande verloop het nie, of voordat simptome van ontblaring nie langer sigbaar is nie.

Hierdie tipe onkruiddoders kan eenjarige en meerjarige grasse en grassaailinge beskadig. Die skade is egter tydelik van aard en grasopbrengs sal gewoonlik vermeerder namate boom- en struikkompetisie verminder. Vir maklike en akkurate toediening word aanbeveel dat ‘n doseerspuit of soortgelyke toedieningsapparaat, wat gekalibreer kan word vir die lewering van 2 ml per keer, gebruik word.

Gewone rugsakspuite is geskik vir toediening van onkruiddoders met kleinerige katbosse.

Waar katbos hoër as 2 m is of die katbos se deursnee 1,5 m oorskry, moet van spuite met ‘n hoër druklewering – en dus groter volume – gebruik gemaak word om sodoende die hele plant te benat tydens bespuiting.

Geïntegreerde beheermaatreëls word jaarliks aanbeveel tot katbos totaal uitgewis is en is dus ‘n beheerprogram wat oor jare noukeurig bestuur moet word. Dit beteken herhaalde opvolgbehandelings – selfs in opeenvolgende seisoene.

Vir verdere inligting rakende die beheer van katbos, skakel gerus vir Marlene van der Walt en Elbé Hugo by 018 299 6223 en 018 299 6298 onderskeidelik.

Publication: October 2016

Section: On farm level