Jou boerderybesigheid en die pad vorentoe

831

September 2017

Marius Volschenk, streekbestuurder: Kleinhandel- en Besigheidsbanksake Noord-Vrystaat, Nedbank en Willem de Jager, streekbestuurder: Landbou Vrystaat, Nedbank

Die Suid-Afrikaanse landbousektor is heel waarskynlik die afgelope twee tot drie jaar deur die mees uitdagende pe­riode in sy geskiedenis. Weersomstandighede was uit­er­aard ‘n groot bydraende faktor. Boonop het Suid-Afrika tans een van die grootste mielie-oeste ooit, wat verdere afwaartse druk op kommoditeitspryse plaas. Dit laat landbouers met groot onsekerheid in terme van landbouvooruitsigte – veral ook teen die agtergrond van hoë skuldvlakke.

Bedryfskapitaalreserwes is redelik uitgeput en in die meeste gevalle is verhoogde eksterne finansiële bystand nodig. Vooruit­skat­tings dui verder daarop dat ekonomiese groeikoerse in die afsien­bare toekoms steeds onder druk gaan wees. Oplossings gaan dus nie kort termyn van aard wees nie.

In Nedbank sien ons die verhouding met die produsent as ‘n lang­termynvennootskap en verstaan ons die belangrikheid van holis­tiese oplossings om volhoubaarheid te verseker. Dit word weer­spieël deur ons verantwoordelike en omgewingsvriendelike uitleen­praktyke.

Daar behoort geen twyfel te wees nie oor die ekonomiese bydrae van landbou in Suid-Afrika nie, die belangrikheid van voedselseker­heid en landbou as werkgewer in die plattelandse omgewing. In landbouterme was die droogte ʼn korttermyngebeurtenis en daarom is dit belangrik om ‘n langtermynsiening te neem wanneer die lewensvatbaarheid en volhoubaarheid van ‘n boerdery beoor­deel word.

Wat staan die produsent te doen in hierdie onseker tye?
Dit is belangrik dat die produsent sy huidige posisie moet evalueer en realisties moet wees. In gevalle waar die finansiële las die boerdery se terugbetalingsvermoë oorskry, mag dit nodig wees om ‘n kapitaalinspuiting uit nie-finansieringsbronne (die verkoop van onproduktiewe en luukse bates) te bekom.

In uiterste gevalle mag dit selfs ‘n herstrukturering van die boerdery-onderneming noodsaak. ‘n Ander opsie sou wees om ‘n kapitaalvennoot te bekom. Laasgenoemde is veral wenslik in ‘n hoër rentekoersomgewing.

In ‘n finansieringsomgewing is die noodsaaklikheid van behoorlike finansiële administrasie en rekordhouding ‘n groot bydraende faktor om suksesvol te wees. Hierdie middels stel die produsent in staat om behoorlike kostebeheer toe te pas en nie marges te erodeer nie.

Behoorlike beplanning en realistiese projeksies is beide instrumente wat die produsent sal ondersteun om voorbereid te wees. Met die bogemelde in ag geneem, kan die produsent pro-aktief probleme identifiseer en met sy finansierder praat ten einde ‘n gesamentlike oplossing daar te stel.

Daar is verskeie opsies wat banke jou kan bied om jou by te staan in hierdie tye. Voorbeelde hiervan is verlengde betalingsplanne ten opsigte van termynskuld en batefinansiering, oorbrug­ging van bedryfskapitaaltekorte en ook die moontlikheid van ‘n moratorium op paaiemente. Laasgemelde kan insluit ‘n struktuur waar slegs rentebetalings gedoen word met uitgestelde kapitaalbetalings of algehele tydelike paaiementvakansies (kapitaal plus rente).

Verandering is die enigste konstante en daarom is die aanpasbaar­heid van ‘n boerdery belangrik vir voortbestaan.

As primêre produsente is landbouers meestal prysnemers en dra prysrisiko. Verskansing is wel moontlik, maar dit bied meestal net beperkte beskerming. ‘n Boerderybesigheid moet uiteraard sy volhoubaarheid en winsgrense analiseer. Daarom moet jy jou status as slegs ‘n primêre produsent oorweeg en alternatiewe ondersoek. Betrokkenheid in die waardeketting kan groter sekerheid bring en winsmarges handhaaf. Integrasie (voorwaarts en terugwaarts) en optimalisering van jou beperkte hulpbronne moet ook sterk oor­wegings wees.

Waar nodig moet produsente selfs die moontlikheid van same­werkingsooreenkomste oorweeg om ekonomie van skaal en ‘n laer risikoprofiel te verseker. Hierdie oorwegings impliseer groot strategiese skuiwe, wat behoorlik in ‘n weldeurdagte en omvattende besigheidsplan omskryf moet word. Goed-geformuleerde en duidelike doelwitte is onderliggend tot enige besigheidsplan, aangesien dit leiding gee in dag-tot-dag operasionele besluitneming en finansiële beplanning.

Nedbank sien homself as ‘n belangrike rolspeler in die ontwikkeling van landbouwaardekettings en die uitbou van volhoubare besighede. Sulke ondernemings verseker ekonomiese groei, skep meer werksgeleenthede en uiteindelik sosiale opheffing.

Al hierdie inisiatiewe moet uiteraard binne die finansieringsraam­werk verstaan word.

Die Nasionale Kredietwet
Hierdie wetgewing speel waarskynlik die grootste rol wanneer landboukrediet verleen word, aangesien die meeste primêre landboubesighede in die produsent se individuele hoedanigheid bedryf word. Die wet is van toepassing op alle individue, asook in sommige gevalle trusts en regsentiteite.

Dit stel streng vereistes aan finansierders ten opsigte van die bevestiging van aansoekers se betaalvermoë. Nienakoming van die vereistes van die Nasionale Kredietwet kan lei tot wesenlike verliese vir banke, soos reeds deur hofuitsprake bevestig.

Daarom sal banke ‘n groot onus plaas op historiese inligting, sowel as vooruitskattings om te voldoen aan hierdie vereistes. Aansoekers moet derhalwe verseker dat inligting wat aan finansierders beskik­baar gestel word, betroubaar is en projeksies moet realisties wees.

Banke in Suid-Afrika word gereguleer deur twee verdere belangrike raamwerke: Die Bankwet van 1990 wat maatskappye, wat deposito’s van die publiek aanvaar en hou, reguleer asook Basel III, die internasionale regulasies wat fokus op kapitaaltoereikendheid en die likiditeit van banke. Hierdie raamwerke skep die finansieringsomgewing waarbinne banke moet funksioneer.

Entiteite
Volhoubaarheid en die kontinuïteit van boerderye oor generasies heen is van kardinale belang. Dit kan gekelder word deur onbehoorlike beplanning of verkeerde regsstrukture binne die besigheid.

Dit is krities dat hierdie besluite altyd geneem word met inagneming van die groter raamwerk wat deur boedel- en kapitaalwinsbelastingbepalings daargestel word. Daar is voorbeelde waar wesenlike belastingverpligtinge vermy kon word deur behoorlike finansiële beplanning. In ekstreme gevalle lei dit dikwels tot kernbates wat verkoop moet word ten einde hierdie verpligtinge na te kom. Dit kan uiteraard die voortbestaan van die boerdery ernstig bedreig.

Dit word dus sterk aanbeveel dat kliënte in hierdie verband gead­vi­seer word deur geakkrediteerde finansiële beplanners en ouditeure.

Ten slotte
Daar is nie ‘n one size fits all-finansieringsoplossing wat eenvormig op alle besighede toegepas kan word nie. Omstandighede, be­stuursvermoë en die potensiaal van besighede en bates verskil van geval tot geval.

Die gesonde beginsels bly: Praat vroeër eerder as later met jou finansieringsvennoot en maak seker jou huis is in orde ten opsigte van finansiële administrasie en rekordhouding, beplanning en dag-tot-dagbestuur.

Die abnormale tye wat ons tans ervaar is dalk nié so abnormaal nie en besighede moet meer as ooit aanpasbaar wees om volhoubaar­heid en ‘n nalatenskap te verseker.

Publication: September 2017

Section: On farm level