June 2015

SA Graan/Grain redaksie

‘n Kombinasie van die nuutste landboutegnologie, produkverskeidenheid, innovasie, gespreksvoering, netwerkgeleenthede, landbou-gasvryheid en ideale weersomstandighede het gesorg dat NAMPO 2015, wat van 12 tot 15 Mei buite Bothaville in die Vrystaat plaasgevind het, sy reputasie gestand gedoen het as Suid-Afrika se vertoonvenster van landbou.

Graan SA, organiseerder van die NAMPO Oesdag, is tevrede met hoe dié 49ste Oesdag afgeloop het en uitstallers se terugvoer dui op goeie belangstelling deur vanjaar se 69 584 besoekers.

Nuwe toevoegings, soos die saadplotte, tentehotel en die trekker-en-waentjie-vervoerstelsel, was doeltreffend en het ‘n positiewe bydrae gelewer. Ten spyte van tandekryprobleme, het die elektroniese toegangskaartjiestelsel uiteindelik goed gewerk.

‘n Fondament is vanjaar gelê met die NAMPO-rekenaartoepassing (app) wat aan uitstallers en besoekers bekend gestel is en wat verder ontwikkel en bemark sal word. Graan SA was ook tydens die Oesdagweek aktief op die sosiale medianetwerke en dié medium is benut om intydse foto’s en inligting te publiseer en algemene navrae te beantwoord.

“‘n Mens verwag dat die droogte tans die gemoedstemming van produsente bepaal. Tog het ons meer kommervrae oor grondhervorming ontvang as oor die droogte,” het mnr Jannie de Villiers, uitvoerende hoofbestuurder van Graan SA, gesê.

Die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, mnr Senzeni Zokwana, het NAMPO 2015 bygewoon om deel te neem aan ‘n Nasie in Gesprek-dialoog oor arbeidsverhoudinge. Grondhervorming en finansieringsmodelle, beskikbaarheid van natuurlike hulpbronne en die waarde van tegnologiese integrasie was die ander Nasie in Gesprek-onderwerpe waaraan meningsvormers deelgeneem het en met ‘n ander beeld van landbou kon huis toe gaan.

“Minister Zokwana se teenwoordigheid was ‘n pluimpie vir Graan SA en vir landbou in die breë. Die graanbedryf het waardering daarvoor dat hy deurlopend moeite doen om met kommersiële landbou kontak te maak. Hy is waarskynlik die eerste landbouminister sedert 1994 om die Oesdag te besoek. Dit beklemtoon die NAMPO Oesdag as ‘n gesaghebbende platform vir dialoog, gespreksvoering en netwerkvorming,” het De Villiers bygevoeg. Graan SA het ook gesprekke gevoer met hoofde van die kommersiële banke, Land Bank en versekeraars oor die herskedulering van graanprodusente se produksieskuld asook insetfinansiering vir nuwe era kommersiële produsente.

Die organisasie trakteer sy lede jaarliks as ‘n blyk van waardering vir hul volgehoue ondersteuning. Die ledelokaal – wat verlede jaar opgegradeer is – asook gratis toegang en spesiale parkering, is weer eens effektief deur lede van Graan SA benut.

“NAMPO Park se infrastruktuur is oor jare geskep en uitgebrei om ‘n groot getal besoekers met gemak te hanteer en om uitstalgeriewe van ‘n hoë standaard aan uitstallers te kan bied. Selfs die aanloopbaan kon vanjaar ‘n totaal van 365 vliegtuie en helikopters oor die vier dae gemaklik hanteer. Graan SA is gerat om aanstaande jaar die 50ste NAMPO Oesdag met trots aan te bied,” het mnr Cobus van Coller, NAMPO
Oesdag-voorsitter, gesê.

Dié landbouhandelstentoonstelling vind altyd gedurende die 20ste week van die jaar plaas en sal dus volgende jaar van 17 tot 20 Mei duur.

image

Publication: June 2015

Section: Grain SA