Beste Grootneef
Ontgroening is in dese dae van menseregte ook nie meer wat dit was nie. Immers ook goed so, want tussen ’n klomp seniors is daar altyd ’n varkie wat boelie-bedraad is. Maar een van die gevolge waar ’n vreemde lot bymekaar gegooi word om ’n nuwe toekoms oop te beur, is dat doopname nie noodwendig die toets van die tyd deurstaan nie. En met verloop van tyd vervaag ’n naam in die skadu van ’n bynaam.
Soos die eerstejaar met die blonde kuif wat by Kovsies ingeboek het – en terstond Sasko gedoop is. Later is kortpad geneem met net Sas wat oorgebly het. Dertig jaar later noem vele nog vir Jaco “Sas” en aanvaar dit as deel van sy familiestamboek.
’n Ander naam wat min met voorkoms en meer met talente te doen gehad, was die ou wat so goed kon swem tydens die eerstejaars se verpligte swemgala. Waar die meeste maar gespoeg en gespartel het om aan die ander kant te kom, het een soos ’n torpedo onder al die ander uitgeswem. Na die epiese swemtog het die naam “Platanna” bly kleef. Net sy meisie het hom Kobus genoem – sy het immers van beter geweet.
Dan was daar name wat met talente of gelaat absoluut niks te doen gehad het nie. Dit was bloot dat die persoon op die verkeerde tyd op die verkeerde plek in die ry was. Só is die naam “Bedpan” met die inboekslag by die koshuis uitgedeel, met geen debat wat daaroor toegelaat is nie. Bedpan was egter ’n blits op die rugbyveld en as hy deur ’n gaping op pad doellyn toe gesny het, het die hele koshuis hom ondersteun met die dreunsang “Bed-pan, Bed-pan”. So in twee toonhoogtes, min of meer soos die Engelse as hulle Manchester United aanmoedig. Dit het die opposisie laat twyfel aangesien hulle onseker was of daar vír of óp hulle geskreeu word.
Die ander een wat my bybly, is Mielie. Mielie Marais. ’n Regte sout-van-die-aarde-boerseun uit die Vrystaat, maar met die rare gewoonte om ’n witmuis in ’n army boot in sy klerekas aan te hou. Mielie het geglo dat dit ander ongediertes weghou. Alles het goed gegaan tot die koshuisvader, Pa Toit, en die muis mekaar een oggend tydens ’n ontydige kasinspeksie raakgeloop het. Mielie was verpletter nadat daar summier op die stewel en sy inwoner beslag gelê is. Onteiening het tóé al seergemaak.
Op skool was daar ’n onderwyser met die naam Salie Druiloor. Dit vertel alles van die soort les wat hy aangebied het. Die ander kant van die munt was natuurlik die mooi juffrou bekend as Gemmerkat. Die oorsprong van die vrolike naam kon niemand bevestig nie, maar die inwoners van Opsaal-seunskoshuis het tog kreatief en skeppend daaroor gespekuleer. Mnr Jan Plank roep ook ’n herinnering op, synde sy voorliefde om ongedoende huiswerk met ’n plank op die agterent te beloon. Fisika op sy beste – vir elke aksie is daar ’n reaksie.
Rugbylegendes is ook nie noodwendig in doopnaam verewig nie. Dink maar aan Mannetjies Roux, Hempies du Toit, Pote Fourie, Os du Randt, Kwagga Smith, Domkrag van Zyl en vele meer. Die bynaam het in die volksmond plek gevind met ’n herinnering aan vaardigheid met ’n rugbybal wat baie verder as voorname gestrek het.
By menige troue word die arme bruidegom ook deur koorsang verdoop synde dat hy lyk soos tant Koek se hoenderhaan of ’n seekoei wat ballet. Alle koorknape is natuurlik vrolik en bly oor hul sangtalent wat dit vir die bruidegom onmoontlik maak om sy ewige liefde aan sy bruid te verklaar. Wie op aarde het in elk geval die liedjie dat iemand lyk soos ’n seekoei wat ballet uitgedink?
Aan elke naam kleef ook ’n onthou wat ontspring met die noem van die naam, selfs donkiejare daarna. Noem die volgende name en toets wat daarmee onthou word. Noag – ark. Jona – walvis. Dawid – Goliat neergevel met ’n slingervel. Ragab – stoute tannie. Titanic – gesonke droom. Stalin – verdrukking. Hitler – ellende.
Ou Neef, soos jy kan sien kom byname deur die eeue. So was Thomas in die Bybelse tye ook bekend as Didimus, synde ’n twyfelaar. Waarskynlik was Thomas ’n sterk analis wat met die mantra van “sien is glo” geleef het. So lees ons dat Thomas sy twyfel oorbrug het met geloof dat die graf leeg was, eers nadat hy gesien en beleef het.
Maar, soos Shakespeare geskryf het: Wat is in ’n naam? Dit is immers net ’n roepkode waarop iemand reageer. Dit gaan veel eerder oor die nalatenskap van ’n naam en wat jy van iemand onthou en hoe jy voel as ’n naam in ’n gesprek opduik. Is dit ’n positiewe tinteling van aangename herinneringe en ’n sagte glimlag, of ’n dankie tog dat jy nooit weer met die persoon hoef te praat nie?
Ou Neef, ongeag die naam of bynaam wat van jou besit geneem het, bou elke dag aan die fondament oor hoe jy met die herinnering daarvan onthou wil word. Óf iemand wat ’n verskil gemaak het, óf iemand wat afgebreek het. Die keuse is daar vir ieder en elk om daagliks self daaroor te besluit.
Groete
Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.