Laat voordelige voetspore na

Gepubliseer: 13 Desember 2023

221

Nadat Adam Barnard in 2022 ’n tweede en derde plek in die Groei vir Goud-opbrengskompetisie behaal het in die afdeling vir mielies wat verbou word in die Noordwes, het hy vanjaar met die eersteplektrofee weggestap. Hy het onder droëlandtoestande ’n opbrengs van 12,210 t/ha met die DEKALB-baster DKC76-77BR behaal.

Barnard boer vir SH Niemand en Seun Boerdery op die plaas Palmietfontein so 6 km buite Ventersdorp op die Potchefstroom-pad. Alhoewel vee die hoofvertakking van hierdie boerdery is met ’n beesvoerkraal asook skape, speel die graanboerdery ’n belangrike ondersteunende rol.

Die mielies wat verbou word, word vir kuilvoer gesny asook in die mark as graan verhandel. “In ons opset soek ons dus ’n dubbeldoelmielie. Dit moet ’n goeie graanopbrengs lewer, maar ook geskik wees om as kuilvoer te dien. Op die oomblik voldoen DKC76-77BR aan hierdie vereiste.”

Hy is sedert 2018 deel van die boerdery en voel hy is besonder gelukkig om sy liefde vir boer hier te kan uitleef. Volgens hom is die opbrengskompetisie ’n uitstekende geleentheid om jouself te meet. “’n Mens leer altyd iets uit so ’n kompetisie. Ons kyk altyd hoe ons ons grondgesondheid kan verbeter. Ons het vanjaar presies dieselfde bestuursbeginsels as verlede jaar toegepas en ek glo dat die opbrengs onder die toestande wat ons vanjaar beleef het, toegeskryf kan word aan ’n verbetering in grondgesondheid.”

Aan die einde van September het hulle 150 kg/ha AMS (ammoniumsulfaat) toegedien om die mikrobes in die grond te voed. Hulle het met plant 80 kg/ha MAP toe gedien saam met 150 kg/ha 7.0.1 as topbemesting. Hierdie resep is op al die lande gebruik.

Per hektaar was die variërende koste R11 500 vir die meeste van die lande en vir dié waarop hulle nie mis gestrooi het nie, was dit R10 800/ha. Sy onkruidbeheerprogram en bemesting op die spesifieke gedeelte wat vir die kompetisie ingeskryf is, het nie afgewyk van sy normale praktyk nie. Die gemiddelde opbrengs van die baster op die res van die aanplantings oor die plaas was ongeveer 7,5 t/ha.

Die plantdatum van die land waaruit die blok kom wat ingeskryf is, was 27 en 28 November en daardie gedeelte is op 29 Junie gestroop. Die rywydte was 76 cm teen ’n plantestand van 27 000 plante/ha. Die mielies is met ’n 8-ry-Monosem-planter geplant en met ’n Claas 480e-8-ry-Drago-kop gestroop.

Wanneer hulle besluit oor ’n nuwe produk, sal hulle eers proewe plant om te sien hoe die produk op hulle grond en met hulle be­stuursprosesse presteer. “’n Produk kan goed doen 2 km van jou plaas af en dan nie noodwendig ewe goed op jou grond doen nie. Daar is soveel aspekte wat opbrengs kan beïnvloed, daarom plant ons ons eie proewe. Natuurlik kyk ons ook na prestasie op buurplase en in die omgewing en woon ons boeredae by om inligting in te samel.”

Hulle plant 70% mielies en die ander 30% is gewoonlik voer­sorghum. Die 70:30-verdeling vorm ook deel van hulle wisselbou­program waar die gewasse op 90% van die lande geplant word. Die oorblywende 10% word as oorlêlande met ’n dekgewas geplant sodat daar altyd lewende wortels in die grond is om hulle werk te doen en om uitdroging en erosie te bekamp. “Die grondgesondheid met organiese materiaal in ag geneem speel egter die bepalende rol in ons besluite ten opsigte van ons wisselboustelsel,” beklemtoon Barnard.

Adam Barnard (links) ontvang sy toekenning van Derek Mathews (voorsitter, Graan SA).

Presisieboerderypraktyke gee die deurslag
Hulle presisieboerderypraktyke is gebaseer op gereelde grond­analises. Al die lande is gekarteer volgens ’n 2 ha-ruitstelsel waarop daar jaarliks op een derde van die lande grondontledings gedoen word. Dit beteken dat karteringsontledings elke derde jaar op ’n land gedoen word, terwyl daar saamgestelde monsters op die res van die lande geneem word.

Die bemesting word na gelang van die resultate uitgewerk en kalk word dan variërend toegedien op die lande volgens die aanbeveling. “Wanneer die aanbevelings minder as 500 kg/ha is, dien ons nie kalk toe nie, maar wanneer die aanbeveling is dat ons meer as 500 kg/ha kalk moet toedien, sal ons kalk strooi.”

As aanvulling strooi hulle ’n minimum van 15 t/ha mis op sowat 20% van die lande. “Ons strooi normaalweg mis op die lande waar ons kuilvoer gesny het in ’n poging om die grond weer op ’n meer biologiese manier te voed. Op die lande waar ons mis strooi, dien ons minder stikstof toe omdat die mis ook stikstof bevat,” verduidelik Barnard.

Hy sê dat hulle in die toekoms benewens die presisiestrooier gaan investeer in ’n karteringstelsel op die kuilvoerkerwer en stroper en ook sal kyk na variërende plantertegnologie.

Voor plant op die mielies het hulle Aqua Correct, Herbiboost, Agripower 540, 2,4-D Ester en Wetall toegedien. Tydens plant is Baseline 915, Vision, Lambda en Insectido toegedien. Na plant as opvolgbehandeling is Aqua Correct, Herbiboost, Baseline, Gallago 480, Terbuthylazine en Agripower 540 toegedien. Volgens Barnard is Agripower en Herbiboost net toegedien waar dit nodig was.

Wanneer dit by uitdagings kom, meen Barnard dat genoeg tyd om te plant in die westelike dele van die land waar hulle boer altyd uitdagend is. Hulle het bo normale reënval gedurende die 2022/2023-seisoen ontvang, met ’n nat eerste gedeelte van die seisoen wat opgevolg is deur ’n uiters droë Januarie en Maart. Die droë najaar het die opname van kunsmis negatief beïnvloed.

Vandat Barnard by die boerdery aangesluit het, het hy heelwat aandag aan grondgesondheid gegee. Sy filosofie is dat die grond beter agtergelaat moet word as wat dit in die produsent se hande gelaat is. “Ons moet die grond beter agterlaat vir ons nageslagte. Ons is net die rentmeesters van die grond en die aarde en ons is aangestel om die aarde nie net te bewerk nie, maar ook te bewaak en te bewaar. As ek dit dus regkry om elke seisoen die grondgesondheid te verbeter en ander hulpbronne meer doeltreffend te gebruik, voel dit vir my of ons iets bereik het. Ek is oortuig daarvan dat as jy na jou grond kyk, die grond jou weer sal beloon met goeie opbrengste.”

Barnard meen jy kan nie iemand leer boer nie – dit moet deel wees van jou belangstelling en wese. ’n Mens kan wel kundigheid opdoen, kennis verbreed en as mens groei, dink hy.

Sy raad aan ander jongmense wat wil boer of pas begin boer het, is om op grondgesondheid te fokus. Barnard is verder van me­ning dat toegewydheid en harde werk die sleutel tot geluk en sukses is. “Ons het almal talente ontvang en ons het elkeen ons unieke sterkpunte of uitstaande eienskappe. Fokus op daardie eienskappe en ontgin dit. Woeker met jou talente.”

Sy resep vir sukses is om te kyk wat in die grond aangaan, pro­bleme te identifiseer en daardie probleme reg te stel. Hy raai beginnerboere aan om die basiese beginsels reg toe te pas. “As jy plant, plant diep genoeg sodat jou saad optimaal kan ontkiem, in sterk plante ontwikkel en die optimale stand kan realiseer.”

Verder dink Barnard dat dit goed sal wees as daar meer aan­dag gegee word aan die rol wat plaasbestuurders in die landbou speel. “Ek is gelukkig om vir ’n besigheid te boer wat my die geleent­heid gee om my kennis, vaardighede en drome uit te leef. Dit sal egter die lewe nog beter maak as maatskappye ook insien dat baie boerderye se vooruitgang geskoei is op die betrokkenheid van ’n span wat saam met die grondeienaar boer.”

Barnard en sy gesin: Marlize, sy vrou, AJ (9), Sofia (6) en Heinrich (2).