April 2016
ROBBIE LINDEQUE, LNR-Kleingraaninstituut, Bethlehem
Wêreldwyd verskaf koringprodusente noodsaaklike kalorieë. In Afrika word ‘n toename in koringverbruik verwag as gevolg van ‘n groeiende vraag na verwerkte graan produkte. Vir Suider-Afrika is kultivarkeuse dus uiters belangrik om koringverbouing winsgewend te maak en die maal- en bakbedrywe kompeterend te hou.
Die verwagte toename in koringverbruik reflekteer nie in die nasionale koringaanplantings van 2015, wat in die somerreën valstreek minder as 75 000 ha uitmaak, teenoor die 225 000 ha in 2011 (Graan SA, 2015) nie.
Ekonomiese faktore het produsente gedwing om oor te skakel na somergewasse, met die gevolg dat meer koring ingevoer moet word, al bestaan moderne tegnologie, produksiehulpbronne en infra struktuur om plaaslik self aan die nasionale behoefte te voldoen.
Produsente kort sterk insentiewe om weer koring te produseer en tans lyk die aanwysers goed. Die rand/dollar-wisselkoers het die koringprys ‘n groot positiewe sprong laat maak en daar word ernstig besin oor die uitermatige hoë kwaliteitstandaarde vir vrystelling van hoë-opbrengskultivars in Suid-Afrika en baie pro dusente herontdek weer die waarde van koring in hul kontantvloeisisteme.
‘n Koringprys wat so onlangs soos 2015 met ± R1 500/ton te kort geskiet het vir winsgewende produksie, is een van die hoofredes waarom alternatiewe gewasse oorweeg word.
Opbrengspotensiaal het dus as seleksieparameter baie belangrik vir die koringteler geword en is ook een van die primêre produksiekeuses wat ‘n koringprodusent elke seisoen moet maak. Dit is hier waar die kinkel lê…
Koringprys en die graderingskaal
Die prys wat ‘n produsent vir sy koringoes ontvang, word nie alleenlik deur graanopbrengs (t/ha) bepaal nie, maar ook hektolitermassa (hektolitermassa per kg), valgetal (sekondes) en graanproteïeninhoud (persentasie).
Die nasionale graderingskaal vir broodkoring (Tabel 1) bring die kwaliteit van ‘n produsent se koring in berekening met die vasstelling van die finale prys daarvoor en is dus net so belangrik in die keuse van ‘n nuwe kultivar.
Gradering bepaal die mate van aanpassings wat meulenaars moet maak in die verwerkingsproses van die spesifieke graan en gee vir bakkers ‘n aanduiding van die eindprodukte wat daarmee vervaardig kan word. Hektolitermassa, valgetal en graanproteïeninhoud spreek dus elk ‘n ander komponent van graankwaliteit aan:
Hektolitermassa (hl/kg)
Die hektolitermassa van kultivars is ‘n genetiese eienskap, maar word hoofsaaklik deur die omgewing bepaal. Dit is ‘n digtheidsparameter en gee ‘n goeie aanduiding van die meelekstraksie en uiteindelike winsgewendheid wat verwag kan word.
Valgetal (sekondes)
Valgetal word bepaal deur die tyd wat ‘n silinder neem om in ‘n glasfles deur ‘n meelsuspensie te beweeg en dui die alfa-amilase ensiemaktiwiteit in koring aan. ‘n Lae valgetal (hoë alfa-amilase aktiwiteit) is ‘n aanduiding dat die styselmolekules na suikers afgebreek het – wat hierdie koring dan onaanvaarbaar maak vir kommersiële maal- en bakdoeleindes.
Graanproteïeninhoud (%)
Dit word deur die Kjeldahl- of Dumas-metodes bepaal waarin graanmonsters verbrand word en die stikstof wat tydens ontbranding onstaan, gemeet word. Graanproteïen gee ‘n aanduiding van die potensiële eindprodukte wat van die koring vervaardig kan word en die internasionale norm is dat hoë proteïen vir broodprodukte vereis word en laer proteïen vir beskuitjies.
Oorweeg meer as net opbrengspotensiaal
Deur die keuse van ‘n voornemende kultivar alleenlik op graanopbrengs te baseer, word ‘n skewe prentjie geskets, aangesien opbrengs en kwaliteit in die meeste gevalle negatief op mekaar inwerk.
Met ander woorde, die ideale kultivar moet oor hoë opbrengs, hoë hektolitermassa, hoë valgetal en hoë graanproteïeninhoud beskik wat in die finale prys wat ‘n produsent ontvang, weerspieël word. Die miskonsepsie dat opbrengs alleen vir kultivarkeuse oorweeg moet word, is algemeen reg oor die koringproduserende dele van die wêreld en Hollamby en Bayraktar het in 1996 tot die volgende gevolgtrekking gekom. “Yield is the prime objective. Despite a new cultivar’s improvements, including quality capable of attracting premiums, farmers will not grow it unless they expect it to yield well on their farms.” (Hollamby and Bayraktar, Increasing yield potential in wheat: Breaking the barriers, 1996)
Om hierdie stelling te illustreer, is ‘n alternatiewe rangorde vir kultivars bepaal volgens die prys (R/c) wat elkeen sou behaal en dit word dan vergelyk met die rangorde van hul graanopbrengspotensiaal.
Graanopbrengs, hektolitermassa, valgetal en proteïeninhoud van aldie droëlandkultivars wat vir vroeë en laat aanplanting in die Oos- en Noordwes-Vrystaat in 2014 aanbeveel was, is hiervoor gebruik.
Eerstens is ‘n denkbeeldige prys van R3 500/ton vir graad 1 toegeken met ‘n verskil van R250 tussen enige twee aangrensende grade. Hierna is die graanopbrengs (t/ha) wat ‘n kultivar behaal het met die prys van die graad (R/ton) daarvoor vermenigvuldig. Hierdie “prysrangorde” is dan langs die rangorde vir graanopbrengs uitgedruk en vergelyk.
Bykans geen skommeling tussen die opbrengsrangorde en die prys rangorde het in die vroeë aanplanting (Junie) in die Oos- Vrystaat voorgekom nie (Tabel 2) en slegs resultate vir die later aanplanting word bespreek.
Indien ‘n produsent SST 398 sou kies volgens prysrangorde en nie PAN 3111 (volgens opbrengsrangorde) nie, sou die finansiële verskil per hektaar R604 wees. In ander woorde gestel, die keuse van SST 398 sou ‘n produsent wat 300 ha daarvan plant, ‘n addisionele R181 350 in die sak besorg omdat hektolitermassa, valgetal en graanproteïen daarvan ‘n beter graad tot gevolg sou gehad het.
Dieselfde mate van skommelinge in rangorde kom ook in die Noordwes- Vrystaat voor (Tabel 3) alhoewel dit, anders as in die Oos- Vrystaat, by beide die vroeë- en later plantdatums was. Vir ‘n vroeë aanplanting sou die keuse van PAN 3161 (eerste in die rangorde volgens prys) bokant PAN 3195 (eerste volgens die rangorde vir opbrengs) ‘n reuse verskil van oor die R2 600/ha gemaak het wat vir ‘n produsent met 300 ha van hierdie kultivar, ‘n addisionele R800 000 sou beteken het.
By ‘n later plantdatum is die nommer een kultivar volgens op brengsrangorde en prysrangorde dieselfde kultivar, naamlik Matlabas.
Die skommeling tussen rangordes in onderskeidelik die laat aanplanting in die Oos-Vrystaat en vroeë aanplanting in die Noordwes- Vrystaat in 2014 was hoofsaaklik as gevolg van variasie in hektolitermassa en nie proteïeninhoud soos algemeen verwag sou word nie.
Hektolitermassa word veral beïnvloed deur uitermatige droë toestande en/of hitte in die tweede helfte van die groeiseisoen.
Winsgewendheid is sekerlik een van die belangrikste insentiewe wat koringproduksie kan stimuleer, maar is afhanklik van korrekte kultivarkeuses.
Skenk vroegtydige oorweging aan die inligting tot jou beskikking en beplan noukeurig
Bogenoemde voorbeelde uit 2014 illustreer ‘n belangrike beginsel in kultivarkeuse, naamlik dat ‘n koringprodusent al die inligting tot sy beskikking slim en vroegtydig moet deurdink en dan oordeel kundig toepas. Die LNR-Kleingraaninstituut (LNR-KGI) druk en versprei jaarliks handleidings vir kleingraanproduksie in die somer reënvalstreek (droëland- en besproeiingskoring) en winterreënvalstreek.
Inligting in hierdie gidse is omvattend en resultate word gebaseer op data uit statistiese proefontwerpe. Die kultivaraanbevelingslys vir elke streek word ook jaarliks aangepas om voorsiening te maak vir nuwe vrystellings. Ingeligte kultivarkeuse is ‘n proses wat uit verskeie aksies bestaan. Hier is ‘n paar belangrike riglyne daarvoor:
- Kry die nuutste produksiehandleiding en maak jou eie kul tivarkeuses – jy verstaan jou produksie-omgewing en hulpbronne die beste.
- Spits jou aandag toe op onlangse, geloofwaardige en bruikbare kultivarinligting wat jou produksiedoelwitte ondersteun. Vermy “bemarkingsgeraas” omdat dit meestal bestaan uit vae en ongegronde inligting.
- Stel vas watter aanbevelings vir jou streek geld en weeg dan beide die afgelope seisoen en langtermyn-gemiddelde kultivarprestasies teenoor mekaar op.
- ‘n Eenvoudige metode om ‘n potensiële wenner (volgens die prysrangorde) vir jou gebied te bepaal, is om die rangordes vir opbrengspotensiaal, hektolitermassa, valgetal en proteïeninhoud van ‘n spesifieke kultivar bymekaar te tel. Vergelyk dít dan met die totale van ander kultivars. Die kultivar met die laagste totaal gaan waarskynlik die beste prysrangorde hê.
Reken die kultivars se weerstand teen insekte, siektes en uitloopin- die-aar ook in die finale besluit in. Die produksiehandleidings (elektroniese en harde kopieë) vir 2016 sal in Maart/April 2016 beskikbaar wees.
Rig navrae oor die artikel aan Robbie Lindeque (lindequerc@arc.agric.za) of 058 307 3439 of vir inligting aangaande die produk – sie handleidings kontak Elri Burger (burgere@arc.agric.za) of 058 307 3400.
Publication: April 2016
Section: On farm level