Bly binne die wet met kamera monitering

Gepubliseer: 3 Julie 2023

460
Mariëtta Cronjé,
SA Graan/Grain-medewerker

Verskeie boereverenigings fokus daarop om kamerastelsels op te rig as ’n misdaadafskrikmiddel en opsporingsme­ganisme om sodoende beweging in afgeleë gebiede te monitor, verdagte voertuie en persone te identifiseer en om aan die polisie inligting te verskaf wanneer so ’n versoek gerig word.

Die wyse waarvolgens die balans tussen sekuriteit teenoor die fundamentele reg van privaatheid gehandhaaf moet word tydens kameramonitering bly egter ’n omstrede onderwerp. Ten einde produsente in dié verband by te staan, het Agri SA Hobson Legal Consulting genader vir ’n regsopinie.

In die regsopinie is dit uitgewys dat die gebruik, berging en verspreiding van inligting wat vanaf nommerplaatherkenningskamerastelsels (ALPR-kameras) en ander kameras wat langs nasionale en ander paaie opgerig is, moet voldoen aan die bepalings van die Wet op die Beskerming van Inligting, Wet Nr. 4 van 2013 (POPI-wet). Die wet bevorder die beskerming van persoonlike inligting wat deur openbare en private liggame verwerk word deur ’n stel voorwaardes daar te stel wat nagekom moet word wanneer persoonlike inligting verwerk word.

Wet op die Beskerming van Inligting
Die POPI-wet maak ook voorsiening vir die daarstelling van ’n Inligtingsreguleerder wat belas is met die administrasie van die wet en onder andere met die uitreiking van gedragskodes of riglyne rakende die praktyke en prosessering van persoonlike inligting. Tot op hede is daar egter geen spesifieke riglyne of gedragskodes uitgereik met betrekking tot die gebruik van kamera- en kringtelevisiemonitering nie ten spyte van kommentaar deur die Inligtingsreguleerder dat dit onder hersiening is. Die algemene riglyne van die POPI-wet is dus in hierdie verband van toepassing.

Bepalings van die POPI-wet is ook van toepassing op die gebruik van produsente se kamerastelsels wat aangewend word om nasionale sleutelpunte, byvoorbeeld die Transnet-petroleumpyplyn wat van Durban na Gauteng deur landbougrond loop, te beveilig deur verdagte bewegings op paaie naby die pyplyn te identifiseer en Transnet dienooreenkomstig in kennis te stel. Addisioneel is die kamerastelsels van nut om veldbrande te identifiseer voordat dit versprei sodat die nodige maatreëls getref kan word om dit te bedwing of te blus.

Daar is in die regsopinie ook aangedui dat dit belangrik is om kennis te dra dat die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (SANRAL), met sy semistaatlike verantwoordelikheid vir die bestuur, beheer en instandhouding van die nasionale padnetwerk van Suid-Afrika, ’n ooreenkoms met Agri SA en sy nege provinsiale affiliasies gesluit het. Hierdie SANRAL-oor­eenkoms behels ’n proses waardeur boerevereni­gings aansoek kan doen vir die wettige installering van kamerastelsels op nasionale paaie, met die oog daarop om dit te gebruik om te help met misdaadvoorko­ming en die opsporing en vervolging van misdadigers.

Agri SA
Volgens Kobus Visser, direkteur: Landelike Beveiliging en Provin­siale Sake by Agri SA, maak boereverenigings toenemend gebruik van kamerategnologie om hulle lede en gemeenskappe te help beveilig. “Dit is ook duidelik uit die aantal aansoeke wat die Agri Securitas Trustfonds in die verlede ontvang het vir aanvullende finansiële bydraes tot landelikebeveiligingsprojekte. Kamerastelsels is deesdae ’n integrale deel van boereverenigings se landelikebe­veiligingsmaatreëls waar dit ’n effektiewe rol speel om ’n groot gebied te monitor en om as afskrikmiddel te dien.”

“Waar kamerastelsels opgerig is en behoorlik gemonitor word, het dit bygedra tot ’n afname van tot soveel as 30% in die verkeer op daardie roetes. Dit word ook effektief gebruik in die rol van misdaadvoorkoming, soos in die geval waar ’n verdagte voertuig wat by koperdiefstal of roof betrokke kan wees, opgemerk en die inligting met die polisie gedeel word om ondersoek in te stel na so ’n voertuig se bewegings. Die polisie maak ook toenemend gebruik van boereverenigings se kamera-inligting wat deur hul moniteringsmaatskappye verkry is om misdaadsake op te los.

E2-projek
“Agri SA se Sentrum van Uitnemendheid: Landelike Beveiliging bevorder ook die inskakeling van boereverenigings se kamerastelsels by die E2-projek van Business Leadership SA. Die projek het twee belangrike rolle om te vervul, naamlik ’n fasiliteringsrol om onder meer misdaad te help voorkom en om met die polisie saam te werk deur die verskaffing van inligting.

Die projek het ’n mandaat van die polisie ontvang om nie­private sekuriteitsbedryfrolspelers soos georganiseerde landbou, wat deel uitmaak van die Landelike Beveiligingstrategie, in te sluit en sitting aan hulle te bied binne bestuurskomitees van die projek. Die projek het ten doel om inligting van deelnemende partye op die E2-platform te integreer en die inligting met rolspelers op die platform te deel. Wanneer daar ’n misdaad gepleeg word kan alle betrokke rolspelers dus ingelig word, die nodige gekoördineerde optrede kan plaasvind en dit help om misdaad voorkomend te bestry.

“Chris Burgess, redakteur van Landbouweekblad het op 4 Februarie 2022 soos volg geskryf: ‘Die spinnerak sekuriteits­kameras wat deesdae oor die land span, het die platteland skielik weer bestuurbaar gemaak. Met raap en skraap deur boerevereni­gings, en met die bystand van onder meer Agri SA se Agri Securitas Trustfonds, is dit een van Suid-Afrika se grootste suksesse die afgelope 20 jaar.’ Dit is voorwaar ’n pluimpie vir die rol wat boere­verenigings speel om landelike veiligheid in hulle onderskeie gebiede te be­vorder,” aldus Visser.

Aanbevelings
Hobson Legal Consulting het die volgende aanbevelings gemaak waaraan produsente aandag moet skenk met die verkryging, ber­ging en verspreiding van inligting deur middel van kameramonitering ten einde aan die POPI-wet se vereistes gehoor te kan gee.

  • Alle toesigkamerastelsels op nasionale roetes moet wettig opgerig en gemagtig word ingevolge die SANRAL-ooreenkoms.
  • Sou die Suid-Afrikaanse Inligtingsreguleerder ’n spesifieke gedragskode vir kameramonitering bekendstel, moet die boereverenigings hulle bestaande beleid ten opsigte van die gebruik, berging en verspreiding van inligting hersien en aanpas.
  • Daar moet ’n data-, praktyk- en prosedurenakomingsbeleid in plek gestel word vir toepassing op die kameramonitering, alle verwante aktiwiteite en die bekendmaking van enige inligting.
  • Slegs die minimum persoonlike inligting moet versamel word asook slegs soveel inligting as wat nodig is om ’n beoogde sekuriteitsdoel te bereik.
  • Plaas kamerastelsels op strategiese plek­ke waar die maksimum beoogde seku­riteitsdoelwit bereik kan word.
  • Rig kennisgewingborde op langs en rond­om die area wat deur die kamerastelsels gemonitor word wat aandui dat kameras die area monitor vir sekuriteit, misdaadvoorkoming en opsporingsdoeleindes. Dui ook aan waar meer besonderhede in dié verband verkry kan word.
  • Maak privaatheidsbeleid ten opsigte van moniteringsaktiwiteite deur middel van kameras aan die publiek bekend deur dit op die vereniging se webwerf te pu­bliseer of deur dit by die plaaslike kantoor beskikbaar te stel.