November 2017
DR JOHANN STRAUSS, Direktoraat Plantwetenskappe, Navorsing en Tegnologie-ontwikkelingsdienste, Wes-Kaapse Departement van Landbou
Die bewaringslandbounavorsingspakket van die Wes-Kaapse Departement van Landbou bestaan uit proewe op vier lokaliteite in die provinsie. Op die huidige oomblik is een van die proewe in die Swartland en drie in die Suid-Kaap. Twee van die proewe word op navorsingsplase van die departement gedoen (Langgewens en Tygerhoek) en twee word by produsente gedoen (Napky en Riversdal).
Die resultate wat gedurende die 2016-seisoen behaal is, word hieronder bespreek en elke proef word apart hanteer, aangesien die stelsels en gewasse wat verbou word, verskil.
Langgewens (Swartland)
Langgewens huisves twee langtermynproewe. Die oorspronklike proef het in 1996 ‘n aanvang geneem. Die nuwe proef het in 2016 sy eerste produksiejaar beleef. Alhoewel die totale reënval vir die seisoen 411 mm is, is slegs 355 mm vanaf begin April tot einde September aangeteken. Dit is minder as die langtermyngemiddeld vir die area.
Die 355 mm is egter ‘n bietjie misleidend. Twee buie vroeg in April het 55 mm opgelewer en daar is geen reën vir die res van April en Mei ontvang nie. Die eerste reën het eers op 10 Junie geval. In der waarheid was dit ‘n bedekte seën, aangesien die bewaringsproewe vanaf 2016 met ‘n skyfplanter geplant is en die geskenkte planter deur Piket eers in die laaste week van Mei op die plaas aangekom het.
Albei bewaringsproewe is dus eers in die laaste week van Mei geplant. ‘n Koel en klam September verlede jaar het vir produsente ‘n groot bydrae tot uitstekende opbrengste gelewer.
Ou proef
Die ou proef bestaan uit agt vier jaar-wisselboustelsels, waarvan vier suiwer kontantgewas- en vier eenjarige weiding-/kontantgewasstelsels is. Koring en kanola is die hoofkontantgewasse en tot en met 2015 is lupiene as derde kontantgewas verbou.
Sedert 2016 is daar besluit om die lupiene met ‘n peuldekgewas te vervang. Die rede hiervoor was dat lupiene oor die vorige 20 jaar van die proef slegs ‘n gemiddelde opbrengs van 1 t/ha gelewer het en dikwels ‘n negatiewe uitwerking op die bruto marge van die stelsels waarin dit verbou is, tot gevolg gehad het. Die waarde van ‘n peulgewas wat stikstof kan bind is egter belangrik en daarom is daar besluit op ‘n minimum inset-peuldekgewasmengsel van erte, wieke, voergraan, klawers (twee soorte) en serradella.
Die gemiddelde koringopbrengs in die proef was 3 444 kg/ha. Dit is 1 300 kg/ha meer as in die 2015-seisoen (met slegs 170 mm reën). Slegs twee van die kampe het B2-graad opgelewer, terwyl die res B1 gelewer het. Monokultuurkoringverbouing is die kontrole in hierdie proef en het slegs 2 854 kg/ha gelewer.
In Tabel 1 word die gemiddelde koringopbrengs ná verskillende gewasse getoon. Kanola-opbrengs was gemiddeld 1 595 kg/ha in die ou langtermynproef.
Nuwe proef
Die nuwe langtermynproef wat in 2016 afgeskop het, bestaan uit drie stelsels wat varieer in die diversiteit van gewasse wat aangeplant word. Twee dekgewasmengsels vorm ook deel van die verskillende stelsels. Koring, gars, hawer, kanola, wieke, fababone en lynsaad word ook in die nuwe proef aangeplant.
Die proef gaan poog om oor die volgende tien jaar lae-insetkoste-produksie te ondersoek. Aangesien dit die eerste jaar was wat
die proef aangeplant is, verskaf Tabel 2 (graangewasse) en Tabel 3 (ander gewasse) slegs ‘n opsomming van die gemiddelde opbrengste van die verskillende gewasse binne die proef.
Tygerhoek (Overberg)
Die 2016-seisoen was die 15de jaar van die langtermynproef op Tygerhoek, geleë langs Riviersonderend. In die proef word daar gekyk na kortrotasiewisselboustelsels. Die hoofstelsels sluit die volgende kombinasies in: Twee jaar peulgewasweiding, gevolg deur een jaar kontantgewas, twee jaar peulgewasweiding gevolg deur twee jaar kontantgewasse, een jaar peulgewasweiding gevolg deur een jaar kontantgewas en twee suiwer kontantgewasstelsels.
Die 2016-winterseisoenreënval was soortgelyk aan die langtermyngemiddelde (Tabel 4), maar oeste was hoër as in die vorige twee seisoene – veral in die grane. Tabel 5 toon die effektiewe opbrengs in kg/mm reën, vir die gewasse wat oor die afgelope drie seisoene verbou is. Die gemiddelde opbrengste van al die gewasse wat gedurende 2016 gestroop is, word in Tabel 6 aangedui.
Napky (Swellendam)
Die Napkyproef op die plaas Middeldrif (mnr Joos Badenhorst) toets die kontantgewasfase na die lusernfase in lang rotasiestelsels. Die area waar die proef geleë is, is tradisioneel ‘n baie droë area met ‘n langtermynwinterreënval van om en by 170 mm.
Laat somerreën en die behoud van hierdie vog in die grond speel daarom ‘n groot rol in die realisering van ‘n goeie oes. In die 2016-seisoen was daar goeie laatsomer vog in Februarie, Maart en April. Die proef is aan die einde van April geplant en alhoewel Mei en Augustus baie droog was, het ‘n koel en vogtige September ‘n bydrae gelewer om ‘n rekordkoring- en garsoes te verseker.
Kanola het egter nie so goed gedoen nie, maar dit was as gevolg van onkruiddoderskade. Die gemiddelde opbrengste van die drie gewasse word in Tabel 7 getoon.
Riversdal (Oos-Rûens)
Die proef op die Riversdalvlaktes – op die plaas Uitkyk van mnr Jan-Hendrik Joubert – fokus op volgehoue kontantgewasstelsels vir die area. Die boeredag wat ontwikkel het sedert die proewe se aanvang in 2002, het gegroei en is in 2016 deur meer as 400 mense bygewoon. Uitstekende laatsomerreën het ook hier ‘n beduidende bydrae gemaak tot uitstekende oesresultate (Tabel 8). Die seisoenale winterproduksiereënval was effens onder gemiddeld. In Tabel 9 word die koringopbrengs binne verskillende stelsels en gewasvolgordes oor die tydperk 2013 tot en met 2016 getoon. Let veral op die verskil in koringopbrengs waar koring na koring in dié volgorde voorkom.
Samevatting
Die 2016-seisoen het oor die algemeen uitstekende resultate opgelewer. Na die droë 2015 was die groot verskil in die opbrengs in die Swartland verstommend en dui dit op die veerkragtigheid van die bewaringslandboustelsels.
Die huidige seisoen in die Wes-Kaap lyk nie so rooskleurig nie. Baie min reën is in die proefareas in die Suid-Kaap ontvang. Die reën in die Swartland was effe beter, maar is steeds 12% minder as op dieselfde tydstip tydens die droë 2015. Vir meer inligting, kontak dr Johann Strauss by johannst@elsenburg.com.
Publication: November 2017
Section: On farm level