June 2015

PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain medewerker

Produsente is terdeë daarvan bewus dat die winsgewendheid van die primêre sektore onder druk is. Die Tiger’s en Premier’s van die wêreld bedryf ‘n besigheid waar daar geweldige hoë dividende jaarliks betaal word. Hierdie besighede verwerk baie primêre landbouprodukte waarmee hulle dié winste verdien. Moet produsente nie dalk self ook waarde toevoeg tot produkte nie en sodoende ‘n groter deel van die verbruikersrand opeis nie?

Hierdie plan klink baie goed, maar daar was nie verniet ‘n slang in die paradys nie. Waardetoevoeging tot ‘n landbouproduk verg baie beplanning, volgehoue kwaliteitproduksie, baie goeie bestuur en sekerlik die belangrikste, baie goeie bemarking.

Vir ‘n huidige boerdery sal die inbring van ‘n waardetoevoegingsbedryf verseker die druk op die bestuur van die besigheid verhoog. Waardetoevoeging is niks anders as ‘n ekstra hoë bestuursintensiewe vertakking nie. Hierdie nuwe vertakking sal verseker sy tol op die ander bedryfstakke eis.

Die heel belangrikste aspek wat altyd onthou moet word, is dat die verbruiker koning is. Hy het die geld in sy sak en hy sal besluit vir wie en vir wat hy dit gee. As die verbruiker baie van ‘n produk hou, sal hy dalk bereid wees om meer daarvoor te betaal, maar anders sal hy altyd waarde vir sy rand gaan soek. Maak nie saak wie jy is nie, die kliënt is die persoon met die geld en hy besluit.

As waardetoevoeging enigsins oorweeg word, moet besef word dat hierdie ‘n besigheid met baie hoë risiko’s is. Gewoonlik word vir hierdie waardetoevoegingsbedryf heelwat kapitaal benodig en as dit geleen word, sal dit verseker teen relatief hoë rentekoerse wees.

Daar sal meestal ook talle ander besighede wees wat dieselfde tipe produk vervaardig en wat reeds die mark vir hierdie produkte bedien. Tensy jy ‘n daadwerklike kompeterende voordeel of ‘n natuurlike versperring (barrier to entry) het, sal nuwe toetreders maklik tot die mark kan toetree en jou mark ook bedien. Die ekonomie van skaal begin ook dadelik ‘n groot rol speel om die besigheid teen opposisie te beskerm.

Produsente wat tot hierdie waardetoevoegingsbedryf wil toetree, moet beslis hulle huiswerk deeglik doen en sover moontlik hulp by kundige mense kry. ‘n Volledige besigheidsplan wat alle aspekte en gepaardgaande risiko’s insluit, moet opgestel word voor daar tot waardetoevoeging toegetree word. As dit nie op papier werk nie, is die kans dat dit in die praktyk gaan werk, byna nul.

Die proses om te bepaal of daar tot so ‘n bedryf toegetree kan word, moet begin by die ontleding van die mark en spesifiek die behoefte wat jou produk gaan bevredig asook die bemarkingsomgewing. ‘n Bepaling van die breë terrein waarbinne die onderneming sake sal doen, moet gedoen word. Hoe groot die mark werklik is, wie en hoeveel die kompetisie is waarteen meegeding sal word en wat jou kompeterende voordeel is, is alles faktore wat van kardinale belang is.

Omdat die besigheid in die lang termyn bedryf gaan word, is dit belangrik dat die vraag na die produk reg bepaal word. Dit is belangrik om die hoeveelheid potensiële kliënte, waar hulle bly, hul verwagte verandering in voorkeure vir die produk en die jaarlikse verbruik van die produk, reg te bepaal en te voorspel.

Hierdie sal die vraag na die produk vorm. Die kopers in die mark verander oor tyd en so ook hul vereistes, smake en voorkeure. Kliënte se vermoëns verander ook oor tyd. Hulle beweeg dalk van die armste verbruikers na die middelklas en só verander hul smake en voorkeure asook produkte wat gebruik word.

Dit is van kardinale belang dat jy die mark sal ken, weet wat beïnvloed kopers om te koop en wat is hulle voor- en afkeure. Hoe werk hulle koppe met ander woorde, byvoorbeeld: Is hulle pryssensitief, is hulle kwaliteitsbewus, is hulle gemaksgeoriënteerd of is hulle tegnologies ingestel? Vir bemarking is dit belangrik om die regte produk, teen die regte prys, op die regte tyd, by die regte verbruiker met die spesifieke behoefte uit te kry.

Met die markvraag ontleed, moet die aanbodkant ook ontleed word. Hoeveel kompetisie is daar, wie is hulle en hoeveel kan hul lewer, is alles belangrik om te weet. Dit is ook belangrik om hulle sterk- en swakpunte te ontleed en te bepaal watter invloed hulle op die nuwe besigheid sal hê.

As daar byvoorbeeld ‘n groot rolspeler is wat jou besigheid se winsgewendheid kan vernietig deur eenvoudig hulle pryse te laat sak, sal dit ‘n groot bedreiging vir die nuwe besigheid wees. Onthou net dat die effek van invoere nie oor die hoof gesien moet word nie.

As die markontleding gedoen is, kan besluit word watter produkte geproduseer moet word. Hierdie produk moet by die verbruiker kan uitkom en dus is die distribusiekwessie belangrik. Die verkryging van basiese insette moet ook in gedagte gehou word. Dit bepaal onder meer waar die verwerkingsaanleg opgerig moet word en wat die aanleg se kapasiteit moet wees. Al hierdie vrae sal na aanleiding van die vraag na die produk beantwoord kan word.

Hoe die produk bemark gaan word, is die volgende aspek om te ondersoek. Verbruikers vereis dat daar met hulle gekommunikeer moet word – hoe gaan jy dit doen? Sal gedrukte media of radio gebruik word of moet sosiale media ingespan word om die produk te adverteer?

Die prys van die eindproduk is dan verder ook nog ‘n besluit wat die voortbestaan van die besigheid sal bepaal. As die prys te hoog is, beïnvloed dit die verkope; as dit te laag is, bedreig dit die winsgewendheid van die besigheid.

Om die goue middeweg te vind, is van kardinale belang. Om wins te maksimeer gaan dit by die meeste primêre landbouprodukte eerder oor die verkoop van hoë volumes teen lae marges. By toegevoegdewaarde graanprodukte is dit meestal soortgelyk. Sodra die ligging, bemarking, produkreeks en kapasiteit uitgesorteer is, sal die relevansie van die besigheid deurlopend geëvalueer moet word. Indien die besigheid op ‘n groeipad wil bly, sal die produkte dalk aangepas moet word om aan die markvereistes te bly voldoen. Dit kan dalk beteken dat nuwe markte gesoek sal moet word en dat daar produkontwikkeling gedoen moet word.

‘n Vraag wat dikwels geïgnoreer word, is hoe gaan eksterne faktore hierdie besigheid raak? Dit wil sê polities, ekonomies en sosiaal – faktore waaroor graanprodusente geen beheer het nie. Wat gaan die besigheid doen as die vakbonde byvoorbeeld ‘n rol begin speel? As minimum lone styg? As invoere toeneem? As prysvasstelling intree?

Soos vroeër genoem, bly volgehoue, konsekwente produksie van kardinale belang. Met ander woorde: Produksie van ‘n produk wat herhalend geproduseer word, maar wat altyd dieselfde kwaliteit het en wat altyd op die rak beskikbaar sal wees.

Tydigheid is noodsaaklik om effektief te produseer. Die korrekte rouprodukte of grondstowwe moet tydig by die verwerkingspunt beskikbaar wees. Dit sal beteken dat aankope (grondstof en verpakking) bestuur moet word. As eie produkte verwerk word, sal dit aan die kwaliteit- en tydigheidsvereistes vir die verwerking moet voldoen, wat weer meer druk op die boerderyproduksie sal plaas.

Enige besigheid benodig egter fondse, hetsy om kapitaalitems te koop of vir bedryfskapitaal. Sonder die nodige fondse om hierdie besigheid te bedryf, is alles net ‘n mooi verhaal. Kontantvloei is hier ook koning. Daar moet genoeg fondse beskikbaar wees om rouprodukte te koop, die produksie aan die gang te kan hou en produkte op ‘n rak te kan dra.

Voorsiening moet gemaak word vir debiteure en verwerkte voorraad – albei elemente wat kontant verorber. Dit kan soms ‘n ruk neem om gelyk te breek en enige aanvangsverliese moet gefinansier kan word of deur die eienaar gedra word.

Ja, dit is so dat as die produksie volwaardig aan die gang is, sal kontantvloei bestendig word, maar alle insetkoste en bedryfsuitgawes is reeds aangegaan en dus moet die besigheid aan die gang bly. As kapitaaluitgawes aangegaan is, moet dit natuurlik terugbetaal word en deel van die koste van produksie uitmaak.

‘n Ander aspek wat ook in gedagte gehou moet word, is die effek van hierdie nuwe verwerkingsbesigheid op die kontantvloei van die boerdery. Dit kan gebeur dat die boerdery dalk ses maande moet wag voor die fondse inkom om sy krediteure af te los.

Laastens, net soos in die boerdery, is rekordhouding van kardinale belang. Die besigheid moet ook effektief en doeltreffend bedryf word. Verpligtinge moet nagekom word teenoor skuldeisers en die staat. Die Ontvanger moet betaal word, lenings gediens word en bo alles moet die besigheid ook vir die eienaar welvaart skep. Rentabiliteit moet daarom deurlopend goed genoeg wees.

Uit die bogenoemde is dit duidelik dat dit nie maklik is om tot die verwerkingsbedryf toe te tree nie. As graanprodusente egter kans sien om hierdie aksies met dissipline en toewyding uit te voer, kan die uitkoms positief wees en kan geleenthede om waarde toe te voeg, vrylik ontgin word.

As finansies ‘n probleem is, maar dit maak sin om die waarde toe te voeg, is daar instansies soos die Industrial Development Corporation (IDC) en talle ander wat wel hulp kan verleen. Gegewe die vereistes wat egter gestel word, is dit nie vir almal moontlik om self die waarde toe te voeg nie. Beteken dit dus dat alle produsente geheel en al van hierdie verbruikersrand uitgesluit is? Die antwoord is onomwonde: “Nee”.

Daar is verskeie maniere om steeds in hierdie verwerkingsmarkte se winste te deel. Deur aandele in verwerkers te koop, kry die produsent verseker ook deel van die verbruikersrand. Produsente kan ook saamstaan en gesamentlik so ‘n aanleg op die been bring en sodoende voordele van skaal en konstante produksie verkry.

Die besigheid kan dan tipies deur ‘n kundige persoon bestuur word, terwyl die graanprodusente bly fokus op die verbouing van graan. Die graanprodusente kan dan as eienaars van die besigheid, die strategiese rigting aandui en die bestuur moet binne hierdie riglyne optree.

Hierdie is net ‘n opsomming van sommige van die vereistes om te produseer. Kontak gerus vir Pietman Botha by 082 759 2991 om meer oor dié onderwerp uit te vind.

Publication: June 2015

Section: Focus on