Is u as produsent Ultra-ingelig?

Dr Chris Schmidt, senior landboukundige, Kynoch Kunsmis
Gepubliseer: 4 Maart 2024

332

Produsente is deurentyd op soek na maniere wat meer ekonomiese uitkomste bied, maar ook doeltreffendheid verhoog. Inkomste op belegging bly ’n uitstekende maatstaf om produkte aan te toets. Wanneer opsies met mekaar vergelyk word, moet u dus nie net op opbrengs fokus nie, maar ook op inkomste op belegging. By koring moet u ook spesifiek fokus op kwaliteit betreffende proteïeninhoud, want dit word nie in die opbrengs-som vervat nie, maar bring addisionele inkomste.

Dit bring ons by die Ultra-konsep. Die vraag is: “Hoekom moet die produsent Ultra-produkte van Kynoch gebruik?” Daar bestaan twee antwoorde op hierdie vraag, maar met presies dieselfde uitkoms. Die eerste antwoord is vir die persoonlikhede wat ’n kort, bondige, op-die-man-af, feitelike antwoord verkies: “Wees ingelig, gebruik dit, want dit werk!”

Die tweede antwoord is vir daardie ouens wat meer feite soek om te begin prosesseer oor die onderwerp! Historiese opleiding by tersiêre instellings het geleer dat genoegsame mikro-elemente in die grond voorkom. Hierdie stelling is nie meer korrek nie. Deesdae se geneties gemanipuleerde mieliekultivars het veranderde element­aanvraagkurwes. Dit verskuif na vroeër gedurende die seisoen en vensterperiodes van kritieke aanvraag kan ook verander. Dink verder aan ’n sanderige grond wat minder water vashou deur ’n laer klei- en slikinhoud. Gedurende sekere tye van aanvraag is daar net minder water om elemente deur middel van massavloei nader aan plantwortels te bring vir plantopname. Net so hou die klei minder voedingselemente vas en kan dit nie voldoen aan piekaanvraag-voorsiening nie.

’n Handboek gepubliseer deur die Amerikaanse Plantsiekte­vereniging, getiteld Mineral nutrition and plant disease, verwys na interessante konsepte. In die voorwoord word die volgende gevind: “Mineral elements are routinely applied to boost crop yields and improve overall plant health and quality. Their judicious use in production agriculture, horticulture, and environmental settings is critical for improved production efficiency and a sustainable ecosystem. Mineral nutrients have marked effects on plant diseases, and in many situations, they are the frontline of defense against diseases.”

Sonder om in baie detail hieroor in te gaan, beteken dit dat ’n plant wat goed gevoed is, net beter weerstand teen omgewings­aanslae sal bied (wat strek vanaf water tot insekte en siektes). Dit is sotlik om te dink dat goeie bemesting al hierdie negatiewe sal voorkom, maar ons weet dat die plant se oorlewingsisteme net beter aangeskakel is met goeie voeding. Kynoch voer geensins aan dat u moet bemes om siektes te voorkom nie, maar voer aan dat ’n gesonder gewas net sekere onvoorsiene risiko’s makliker kan oorleef.

’n Deurgesnyde Ultra-korrel geneem vanuit ’n kunsmismengsel om die bekleedsel van mikro-elemente aan te toon.
Foto: J. Sparrow

Wat is Ultra dan?
Ultra is die bekleding van korrelkunsmis met hoogs opneembare mikro-elemente wat tydens plant in ’n band geplaas word. Met ander woorde, verruil net die gebruiklike planter­kunsmis met een wat bekleed is, naamlik Ultra. Hierdie mikro-ele­mente “lê onder die voete” van die mielieplant en is beskikbaar. Foto 1 toon hoe ’n korrel met die bekleding lyk en Foto 2 toon die posisie van kunsmisplasing. Dit werk vir beide besproeiing en droëland asook vir ander gewasse. Doen, sien, leer en word Ultra-ingelig!

Kontak dr Chris Schmidt by 082 885 8134 of stuur ’n e-pos na chris.schmidt@kynoch.co.za.

Boonste wortels van mielies op ’n spilpunt, blootgelê om die posisie van Ultra-korrelplasing te toon (groen stippellyn). Wortels ontwikkel rondom die gebied van elementvoorsiening. Opname deur massavloei, diffusie en wortelkontak is hoogs effektief.
Foto: Chris Schmidt