OESSKATTING: deelname belangrik vir akkurate data

Rona Beukes, senior statistikus, DALRRD en lid van die NOK
Gepubliseer: 1 Maart 2024

376

1 Maart 2024 – Die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) is saamgestel uit verteenwoordigers van die nasionale Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling (DALRRD), provinsiale landboudepartemente, die onderskeie landbounavorsingsinstitute van die Landbounavorsingsraad (LNR), die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) en Statistieke SA. Hierdie verteenwoordigers het geen gevestigde belange by die oesskattings nie en tree totaal onpartydig op tydens die daarstel daarvan.

Missie van die oesskatting
Een van die belangrikste missies van die NOK is om akkurate, betroubare, objektiewe en tydige inligting oor oppervlaktes en produksie van die belangrikste grane en oliesade in Suid-Afrika tot voordeel van alle rolspelers in die sektor te verskaf. Die rolspelers sluit onder andere produsente, finansiële instellings, insetverskaffers, kopers, vervoerders, landbou-ekonome, beleidmakers en ander besluitnemers in.

Dit is noodsaaklik dat alle rolspelers op ’n gelyke basis toegang kry tot gepubliseerde inligting van ’n onpartydige bron (NOK) en dat niemand bevoordeel word nie. Hierdie proses skakel gerugte en/of persepsies uit dat persone oor die voordeel van “spesiale inligting” beskik wat pryse onregverdig kan beïnvloed. Die mark kan dus op geen wyse gemanipuleer word sodat daar voordeel getrek word ten koste van enige party nie.

Produsentedeelname
Die kwaliteit van die NOK se gewasoppervlakte- en produksie­skattings hang af van ’n hoë vlak van deelname deur landbouprodusente. Dit is ’n feit dat beter deelname deur produsente tot ’n akkurater skatting kan lei. Produsente-inligting vergemaklik nie net die NOK se taak nie, maar lei ook daartoe dat hul inligting groter gewig dra met die daarstel van ’n skatting.

In die geval van niedeelname of indien die aantal respondente drasties sou daal, sal die statistiese betroubaarheid van die skattings begin afneem en kan daar ook ’n vooroordeel in die data ontstaan wat die akkuraatheid van die oesskattings deur die NOK ondermyn.

Niedeelname aan opnames kan om verskeie redes voorkom: ’n Produsent kan eenvoudig weier om deel te neem; nie toeganklik wees gedurende die tydperk van data-insameling nie; of sy kontakbesonderhede kon verander wat veroorsaak dat hy van die steekproef uitgesluit word. Verder beweer produsente soms dat hulle nie genoeg tyd het om betyds terugvoering te gee nie of dat hulle bekommerd is oor die privaatheid van hul data.

Die NOK probeer om deelname te verbeter deur saam met verskeie landboukommoditeitsgroepe, sowel as sy eie provinsiale verteenwoordigers te werk om die belangrikheid van die opname te beklemtoon en deelname aan te moedig. DALRRD voer ook gereeld opvolgpogings uit om nierespondente te kontak. Om die hoogste moontlike terugvoerkoers te behaal, word opnames eers per internet en e-pos gedoen en dan opgevolg met telefoniese en persoonlike onderhoude.

Ander bronne van inligting
Hierdie data wat maandeliks vanaf produsente verkry word, word ondersteun en aangevul met ander inligting soos ontvang vanaf onder meer ’n aangestelde oesskattingskonsortium (in 2002 aan­gestel onder leiding van die LNR, om ’n stelsel te ontwikkel en toe te pas wat oesskattings op ’n meer statistiese en wetenskaplike manier doen), spesiaal opgeleide veldwerkers wat direkte veldwaarnemings gedurende die groeiseisoen doen, verteenwoordigers van die provinsiale departemente, landboumaatskappye, die Suid-­Afrikaanse Graaninligtingsdiens (SAGIS) en saadmaatskappye.

Ander databronne soos afstandswaarneming, weerdata, model­lering of geïntegreerde datastelle is ook nuttig om bykomende inligting te verskaf. Die NOK maak reeds gebruik van sommige van hierdie ander databronne en metodes om sy skattings te ontwikkel, maar as ’n aanvulling vir opnamedata en nie as ’n vervanging nie.

Vir nou bly die beste benadering om groter produsentedeelname aan te moedig. Die opname-inligting is feitlik die enigste inligting direk vanaf produsente deur die hele seisoen. Hul inligting is ook die enigste bron vir die bepaling van “produsente se voornemens” om somer- en wintergewasse te plant. Ander waardevolle inligting wat deur middel van die produsente se opnames vasgelê word, is om die split tussen droëland en besproeiing te help bereken en om opbrengsinligting op ’n landdrosdistriksbasis weer te gee.

Vrywillige deelname aan opnames wat sulke inligting versamel, is noodsaaklik vir die NOK om sy rol as ’n objektiewe en on­par­tydige verskaffer van markintelligensie voort te sit en is van deurslaggewende belang vir akkuraatheid in die beplanning en implementering van besluite en beleidsvorming.

Hoe neem ek deel aan die oesskatting?
Almal se deelname is dringend nodig – dit kan nie genoeg beklemtoon word nie. Alle inligting soos verstrek deur produsente aan die komitee word as vertroulik hanteer en slegs gebruik vir oesskattingsdoeleindes. Die NOK stel dit aan geen ander party beskikbaar nie.

Produsente wat bereid is om hul kundigheid op hierdie gebied te deel deur die komitee met sy belangrike taak by te staan, word versoek om hul besonderhede deur te gee aan Rona Beukes, lid van die NOK, by 012 319 8032 of RonaB@dalrrd.gov.za.