April 2017

LUAN VAN DER WALT, landbou-ekonoom: Graan SA

Produksievooruitsigte vir die seisoen op hande lyk gunstig. Die goeie reën wat wyd oor die land se somersaaigebiede voorgekom het, was gunstig vir aanplantings en in die meeste gebiede is daar konsensus dat met die komende strooptyd van bogemiddelde tot selfs rekordoeste afgehaal kan word.

Die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) het dit met ‘n ongelooflike 13,918 miljoen ton-skatting vir die seisoen, bevestig. Die witmielieproduksie word op 8,313 miljoen ton geskat, terwyl dié van geel mielies op 5,606 miljoen ton geskat word.

Die groot oes wat verwag word, plaas pryse onder druk en die verwagting is dat Suid-Afrika weer vanjaar na ‘n netto uitvoerder van mielies sal beweeg. Dit plaas die pryse onder geweldige druk en in baie gevalle bly die winsgewendheid van produsente maar steeds in die weegskaal – ten spyte van die verwagte goeie opbrengste. Dit is weer eens ‘n bewys dat prysrisikobestuur deur middel van verskansing en/of ander maniere daarvan, soos byvoorbeeld diversifikasie, ‘n kardinale rol in produsente se winsgewendheid speel.

Markomgewing vir die 2017/2018-bemarkingseisoen
Tabel 1 
toon die geprojekteerde vraag-en-aanbodsyfers vir die 2017/2018-bemarkingseisoen. Dit is duidelik uit Tabel 1 dat die geskatte produksie vir die seisoen die vraag na mielies oorskry en dat die geprojekteerde uitvoere van mielies vir die seisoen groot hoeveelhede beloop.

Die tempo waarteen die uitvoere met die verloop van die seisoen gaan plaasvind, gaan grootliks bepaal hoe die pryse met die verloop van die seisoen gaan reageer. Indien die uitvoere teen ‘n goeie tempo plaasvind, behoort die mark weer goeie ondersteuning later in die bemarkingsjaar te vind.

Grafiek 1 toon die pryse van beide wit- en geelmielies vir lewering in Julie 2017. Daar kan duidelik gesien word dat die pryse alreeds sterk onder druk gekom en nader aan die uitvoerpariteitsprys beweeg het – met die witmieliepryse wat al effens onder hierdie prysvlak inbeweeg het.

Die moontlike groot aanbod van mielies in die mark as gevolg van gunstige weersomstandighede en goeie aanplantings hierdie seisoen, sal veroorsaak dat groot hoeveelhede mielies in die komende seisoen uitgevoer sal moet word.

Die vraag wat egter ontstaan, is hoe lank die pryse teen uitvoerpariteitsvlakke gaan verhandel voor daar weer ondersteuning in die mark sal wees? Die tempo waarteen die uitvoere gaan plaasvind, gaan grootliks ‘n rol hierin speel.

Bemarkingsopsies

Bemarking en prysrisikobestuur strek veel wyer as die verkoop van produkte aan kopers. Die bemarking van die produkte sluit prysrisikobestuur in, wat regdeur die jaar op verskillende maniere gedoen kan word. Verskansing, wat in kort eintlik maar net beskerming teen ongunstige prysbewegings is, kan op verskeie maniere regdeur die jaar geskied en kan dus suksesvol deur produsente aangewend word om hul risiko in terme van pryse te verminder en om voordeel te trek indien die pryse vir die produsent gunstig beweeg.

Hierdie verskansings kan aanlyn op die Safex-mark gedoen word deur middel van termyn- en/of opsiekontrakte. Die voorseisoenverskansing vind plaas tussen plant- en strooptyd (met ander woorde voor die mielies geoes word). Alternatiewelik kan produsente ook na strategieë kyk wat ná oestyd gebruik kan word om prysrisiko te bestuur – wat ook as bemarking en verskansing van mielies dien.

Na-oesbemarkingstrategieë sluit in die fisiese stoor van mielies tot wanneer die pryse weer ondersteuning vind en genoegsaam toegeneem het, of alternatiewelik die verkoop van die mielies in die mark ná strooptyd en die gebruik van afgeleide instrumente op die Safexmark vir bemarkingsdoeleindes en risikobestuur.

Die fisiese stoor van die mielies hou steeds ‘n risiko wat die stoorkoste en rentes betref, in. Daar is ook nie kontantinvloei nie en daarom is dit belangrik om die kontantvloei-aspek te oorweeg.

Met die gebruik van afgeleide instrumente op die Safex-mark, soos byvoorbeeld ‘n call-opsie (ook koopopsie genoem), kan die produsent steeds baat vind by ‘n mark wat positief beweeg, terwyl sy risiko in die mark beperk is tot die premie wat betaal word met die koop van die call-opsie. Die produsent sal dus ‘n kontantinvloei verseker terwyl hy steeds baat sal vind indien die mark hoër teen die opsievervaldatum verhandel.

Prystendense
Dit is algemeen bekend dat die pryse siklies beweeg en daarom moet produsente ook daarvolgens beplan.

Grafiek 2 toon die seisoenale prysindekse van wit- en geelmielies vanaf 1998 tot en met 2016. Die siklisiteit van die prystendense kan duidelik hierin gesien word en kritiese tye vir bemarkingstrategieë kan daardeur vasgestel word. Indien produsente nie aktiewe voorseisoenverskansing gedoen het nie en dus in die situasie sit waar pryse so laag soos nou is, sal hulle moet kyk na alternatiewe bemarkingstrategieë ten einde beter pryse te realiseer, maar ook om risiko te beperk.

Produsente kan dus die mielies tot en met Desember of Maart stoor, wanneer die pryse neig om weer goeie ondersteuning te vind. Alternatiewelik kan produsente oorweeg om mielies na strooptyd te verkoop en dan van die afgeleide instrumente op die Safex-mark gebruik maak vir bemarkings- en risikobestuursdoeleindes.

Die seisoenale prysindekse toon duidelik dat Desember en Maart goeie periodes is om te oorweeg en dat die waarskynlikheid redelik goed is dat die pryse in hierdie maande hoër as die gemiddeld van die seisoen behoort te verhandel.

Desember en Maart lyk daarom na goeie opsies om te oorweeg wanneer bemarkingsopsies oorweeg word. Produsente wat nie die fisiese mielies kan stoor nie, kan egter een van hierdie twee maande vir die gebruik van afgeleide instrumente op die Safex-mark oorweeg.

Ten slotte
Bemarking van grane speel ‘n belangrike rol in produsente se winsgewendheid en die waarde van bemarking en verskansing moet daarom glad nie gering geskat word nie. Dit is noodsaaklik dat produsente goeie en ingeligte besluite met betrekking tot die bemarking en verskansing van grane neem.

Dit is belangrik dat produsente die verskillende beskikbare strategieë oorweeg en ook hoe dit gebruik kan word vir bemarkings- en risikobestuursdoeleindes. Dit is belangrik om ‘n strategie te kies waarin die produsent se risiko beperk is, maar wat ook goed inpas by die bestuurstrukture van die plaas.

Publication: April 2017

Section: On farm level