Hiroo Onoda se oorlog

Gepubliseer: 8 Februarie 2022

515

Beste Grootneef

Die nasionale klagverskaffer het oor die afgelope maande die hele volk aan die raai gehad met sy ske­dules vir beurtkrag. Gelukkig is die mens nes die donkie, ’n wonderlike ding – om by nuwe omstandighede aan te pas. Beurtkrag en korona is nou so deel van die lewe soos die son, maan en sterre. Gelukkig vir die gawe van ’n sak stronke wat ’n aand sonder ligte in ’n braai kan omtower!

So gepraat van om aan te pas – soms is die skrif aan die muur, maar bly dit tog moeilik om ’n kopskuif te maak. Die verhaal van Hiroo Onoda is uniek, maar ook tragies. Hiroo was deel van die Japannese magte wat die Filippynse eiland Lubang in 1944 ingeval het. Hulle ontplooiing op die eiland was enkele maande voordat die Amerikaanse magte die betrokke eiland binnegeval het om dit van Japan te herower.

Die laaste opdrag wat Hiroo van sy bevel­voerder ontvang het, was om terug te val en die Amerikaanse magte op enige moontlike manier te verhinder om vordering te maak. Deel van die opdrag wat hy ontvang het, was dat hy onder geen omstandighede sy eie lewe kon neem nie, maar met sy taak as soldaat moes volhou. Die boodskap het verder gelees dat al neem die stryd drie of selfs vyf jaar, die Japannese magte sou terugslaan om Hiroo en sy eenheid te kom haal.

Na die Amerikaanse inval op die eiland het Hiroo teruggeval tot in bergagtige gebiede. Saam met hom was drie ander soldate van sy eenheid. Hulle het lokvalle gestel vir die Amerikaanse magte waarna hulle dan onmiddellik teruggeval het.

Intussen het die VSA-magte die ellende van twee atoombomme oor Hirosjima en Nagasaki losgelaat. Dit het gelei tot die onvoorwaardelike oorgawe van Japan.

Die bevel-en-beheerstruktuur van die Japannese magte het oornag tot niet gegaan. In gebiede waar daar egter steeds gewapende konflik was, het die Amerikaanse lugmag pamflette uit vliegtuie gestrooi om Japannese magte wat nog op grondvlak ontplooi was, in te lig dat die oorlog verby was.

In Oktober 1945 is soortgelyke pamflette ook oor Lubang-eiland gestrooi. Hiroo en sy manskappe het van die pamflette opgetel, maar besluit dat dit Amerikaanse propaganda was om hulle in ’n lokval te lei. Om hul wantroue te staaf, het Amerikaanse magte in daardie dae op hulle losgebrand toe hulle onverwags op mekaar afgekom het.

Teen Desember 1945 is pamflette weer eens oor die konflikgebiede gestrooi. Hiroo en sy makkers het dit weer as propaganda verwerp, veral omdat dit deur ’n Japannese generaal onderteken was. Hulle kon net nie glo dat hy uit vrye wil so ’n boodskap van oorgawe sou onderteken nie.

Daardie nag het een van die vier soldate weggesluip om hom aan die Filippynse magte oor te gee. Hiroo en sy twee ander makkers het dieper in die berge teruggetrek uit vrees dat die ligging van hul basis nou bekend was.

Amerikaanse magte het in 1952 weer pamflette en boodskappe uit vliegtuie losgelaat om Japannese soldate wat nog aktief met aanvalle besig was, aan te moedig om oor te gee. Die drie oorlewendes het weer eens besluit dat hierdie bloot propaganda vir ’n lokval was.

In 1953 is een van Hiroo se soldate in die been gewond na ’n skietgeveg met Filippynse magte en plaaslike vissermanne. Daar was nou net twee manskappe oor. Hiroo se laaste makker is in 1954 doodgeskiet tydens ’n aanval deur Filippynse magte.

Intussen het Hiroo voortgegaan met sporadiese aanvalle op Filippynse magte of die afbrand van oeste in landelike gebiede. Hy was steeds getrou aan sy laaste opdrag om die stryd tot die bitter einde te voer.

In 1974 het Hiroo per toeval op ’n Japannese toeris in die bergagtige gebiede afgekom. Die betrokke toeris was ’n ene Suzuki wat hom meegedeel het dat die oorlog werklik verby was. Hiroo wou dit steeds nie glo nie en is terug die bosse in.

Suzuki was egter diep geraak deur hierdie ontmoeting en met sy terugkoms in Japan het hy kontak gemaak met Hiroo se destydse bevelvoerder, majoor Tanigudi. Tanigudi en die Japannese owerheid het met die Filippynse regering geskakel, waarna toestemming gegee is dat hy na die Lubang-eiland kon reis in ’n poging om kontak te maak. Op 9 Maart 1974 het majoor Tanigudi uiteindelik vir Hiroo opgespoor. Die belofte dat hy sou terugkom om hom te haal, is so vervul. Die majoor het tydens die ontmoeting ’n opdrag aan Hiroo voorgelees om te bevestig dat die oorlog werklik verby was en dat hy nou aanvalle moes staak.

In die 30 jaar nadat Japan oorgegee het, het Hiroo meer as 30 persone dood­geskiet. Gegewe egter sy oortuiging dat die oorlog nog nie verby was nie, is amnestie aan Hiroo toegestaan. In sy arsenaal wat hy uitgewys het, was nog verskeie handgranate, sy geweer en 500 rondtes beskikbaar. Hy was nog reg vir ’n lang stryd.

Terug in Japan is hy soos ’n held ontvang. Almal wou hom sien. Na ’n paar maande het Hiroo egter besluit dat hy nie meer hierdie heldeverering kon hanteer nie. Hy en sy broer het toe besluit om na Brasilië te emigreer waar hulle tot sy dood met beeste geboer het. Sy oorlog was finaal verby.

Ou Neef, mag ons in die jaar 2022 die wysheid en insig ontvang om betyds die skrif aan die muur te ontsyfer. En om nie onnodig oorloë te voer met vyande wat nie meer bestaan nie.

Groete op die Oosgrens.

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.