Graanverbruikstendense en die ekonomie

248
Luan van der Walt
landbou-ekonoom, Graan SA luan@grainsa.co.za

26|11|2019

Die Suid-Afrikaanse ekonomie is reeds vir die afgelope vyf tot ses jaar onder geweldige druk en het teen ’n stadige tempo gegroei oor hierdie tydperk. Die trae plaaslike ekonomiese groei het veroorsaak dat die bevolkingsgroei teen ’n vinniger tempo toegeneem het as wat werkskepping in die ekonomie plaasgevind het. Suid-Afrika sit dus tans nie net met ’n ekonomiese probleem nie, maar ook met ’n sosio-ekonomiese probleem wat dringend hanteer moet word. Alhoewel die onus grootliks op die regering rus om ekonomiese probleme deur middel van beleidsbesluite op te los, sal elke Suid-Afrikaanse burger ’n bydrae moet lewer om ’n beter land vir almal te skep.

Graanverbruik en die ekonomie
Die uitdagende ekonomiese, politieke en sosio-ekonomiese omstandighede bring egter tot ’n sekere mate ook positiewe aspekte in die landboubedryf na vore. Grafiek 1 toon die Suid-Afrikaanse BBP-groei sedert die 1998/1999-seisoen teenoor die plaaslike koring- en mielieverbruik. Mielies is ’n stapelvoedsel vir ’n groot gedeelte van Suid-Afrika se bevolking en dit word beskou as ’n relatief goedkoop voedselbron in vergelyking met ander voedselsoorte. Dit is ’n algemene verskynsel dat wanneer verbruikers onder finansiële druk verkeer, voedselverbruikspatrone daarvolgens aanpas en verbruikers meer na styselgebaseerde diëte toe beweeg.

Grafiek 1: Suid-Afrikaanse BBP-, witmielie- en koringverbruiksindeks vir menslike voedsel.
Bron: Statistiek SA en SAGIS
* Skatting

In Grafiek 1 kan gesien word dat gedurende die jare toe die plaaslike ekonomie goed gegroei het, die verbruik van mielies vir menslike gebruik nie noodwendig goeie groei getoon het nie, maar dat die koringverbruik vir menslike voedseldoeleindes vinniger gegroei het. Tydens die moeilike ekonomiese jare het die groei in koringverbruik weer verlangsaam, terwyl die mielieverbruik vir voedseldoeleindes skerp toegeneem het. Alhoewel omstandighede in die Suid-Afrikaanse ekonomie tans moeilik is, het die verbruik van veral witmielies vir menslike voedseldoeleindes die afgelope drie jaar goeie groei getoon en rekords opgestel. Dit is ’n duidelike teken van die druk waaronder verbruikers verkeer.

Mieliesprystendense en -verbruik
Grafiek 2 toon die maandelikse verbruik van witmielies vir menslike voedseldoeleindes, die maandelikse gemiddelde witmielieprys asook die pryse van spesiale en super mieliemeel op ’n indeksbasis sedert Mei 2000. Dit is duidelik dat die algemene tendens van die witmielieverbruik vir menslike voedsel in die vroeë 2000’s redelik sywaarts beweeg het, voordat dit gedurende 2007 tot 2008 goeie groei getoon het. Die afgelope twee tot drie jaar het die verwerking van witmie­lies per maand ook op ’n gemiddelde basis weer begin optel soos die verbruik van witmieliemeel begin toeneem het.

Grafiek 2: Indekse van witmielieverbruik en pryse van witmielies, spesiale en super mieliemeel.
Bron: SAGIS, Statistieke SA en Safex

Die prystendense toon dui­delik aan dat daar ’n redelik goeie korrelasie is tussen die witmielie­prys en die meelprys in terme van die algemene tendens. Sedert die vroeë 2000’s het beide die mielie- en die mieliemeelpryse redelik dieselfde tendenslyn gevolg, met die mieliemeelpryse wat effens van ’n sloerperiode (tydperk tussen die beweging in die graanprys en die beweging in die produkprys) in beide die opwaartse en afwaartse neigings het.

Koringprystendense en -verbruik
Grafiek 3 toon die koringverbruik vir menslike voedseldoeleindes asook die prys van koring, broodmeel en ’n 700 g-witbrood op ’n indeksbasis aan sedert Oktober 2000. Brood en koringmeel is die vernaamste produkte wat verkry word vir menslike verbruik wanneer koring verder verwerk word. Dit kan duidelik in Grafiek 3 gesien word dat die verbruik van koring ook goed toegeneem het sedert die vroeë 2000’s.

Grafiek 3: Indekse van koringverbruik en pryse van koring, witbrood en broodmeel.
Bron: SAGIS, Statistieke SA en Safex

Koringprodukte is wel ’n belangrike stapelvoedsel vir ’n groot gedeelte van die Suid-Afrikaanse bevolking, maar dit kompeteer met ander gewasse soos mielies in veral die laerinkomstegroepe. Oor die algemeen sal koringprodukte (brood) meer aftrek kry wanneer dit beter gaan met die verbruiker, soos ook in Grafiek 1 aangedui is. In terme van die prystendense tussen koring en koringprodukte kan daar ook ’n redelik goeie korrelasie waargeneem word.

Alhoewel die produkpryse minder wisselvallig is as die koringprys, volg dit tot ’n sekere mate dieselfde tendens met ’n effense sloerperiode. Grafiek 3 toon duidelik dat die sloerperiode sedert middel-2016 aansienlik stadiger was – met die koringpryse wat redelik gedaal het, terwyl die brood- en broodmeelpryse meer sywaarts beweeg het gedurende hierdie tydperk.

Ten slotte
Die afgelope paar jaar se uitdagende omstandighede in die plaaslike ekonomiese omgewing het regdeur die mark gespoel – vanaf groot maatskappye tot by die verbruiker op grondvlak. Geen bedryf is gevrywaar van dié omstandighede nie en dit sluit die landboubedryf in.

Afgesien van die algemene ekonomiese uitdagings wat bestaan, is die landbou-ekonomie ook onder groot druk met die hele waardeketting – vanaf primêre produsente tot by die kleinhandelsektor – wat geraak word. In die graanbedryf het dié ekonomiese omstandighede bygedra tot die toename in die plaaslike verbruik van mielies en alhoewel dit positief is, is dit nie op die lang termyn volhoubaar nie. Daar is baie meer geleenthede wat geskep kan word in ’n sterk groeiende ekonomie om nie net die landboubedryf nie, maar ook die land as geheel, te bevorder.

Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar egter geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van hierdie inligting nie.