Argentynse boeredag – landboutegnologie bekyk

Hendrik Jordaan, landbouhandelskonsultant, Laurik International

209

Die Argentynse bewaringslandbou-en-geenbewer­kingsboeredag was ’n geleentheid waar Argentynse landboutegnologie en -toerusting op een punt bymekaargebring is om te wys wat reeds in die Suid-Afrikaanse mark beskikbaar is.

Manuel Ferrari, ‘n landboukundige van INTA, verwelkom produsente by die Argentynse boeredag.

Meer as 180 produsente, masjienvervaardigers en navorsers het op 10 September op die plaas van Hendrik Odendaal naby Standerton, waar bewaringsboerdery reeds vir meer as tien jaar toegepas word, bymekaargekom. Hendrik maak al vir meer as vyf jaar gebruik van Argentynse masjinerie en tegnologie, naamlik Apache- en Pierobon-planters asook Don Mario-sojaboonsaad en Rizobacter-inokulante.

Die fokus van die dag was om te wys hoe Argentynse masjinerie en tegnologie saam gebruik kan word om basiese produksie-omstandighede te verbeter en ’n meer stabiele opbrengs en gebalanseerde, gesonde grondlewe teweeg te bring.

Carlos Galarza en Manuel Ferrari, landboukundiges van die Argentynse Instituut vir Landboutegnologie (INTA) wat teenwoordig was, het breedvoerig bespreek wat Argentinië uit 40 jaar se geenbewerking geleer het en hoe Suid-Afrikaanse produsente dit kan toepas. Iets wat baie beklemtoon is, is die noodsaaklikheid daarvan om die veekomponent nooit te verloor nie en dit deur korrekte bestuur as ’n integrale deel van die wisselbou in ’n bewaringslandbou-opset te gebruik.

Die ambassadeur van Argentinië in Suid-Afrika, Alberto P. D’Alotto en die bestuurder van Apache Argentinië, Fernando Porcel.

Ander temas wat in hulle voorlegging bespreek is, sluit die volgende in:

  •  Hoe om korrek te oes in ’n bewaringslandbousisteem:
      • Moenie in nat toestande oes nie.
      • Gebruik die wydste stropertafels moontlik.
      • Verminder spoorverkeer tot ’n minimum deur byvoorbeeld graankarre op sekere punte te laat wag vir die stropers.
      • Sprei oesreste so wyd as moontlik uit sonder om dit fyn te kap en probeer soveel moontlik vertikaal in die grond te los.
  • Die diep bewerking van grond moet so min as moontlik plaasvind. Dit moet slegs gedoen word waar nodig en indien dit vir ’n spesifieke stuk grond voorgeskryf word.
  • Dekgewasse word gebruik om:
      • grondbedekking te vermeerder;
      • organiese materiaal te verskaf;
      • grondstruktuur te verbeter;
      • stikstof in die grond te kry;
      • loging te verminder;
      • onkruidstand te verlaag sonder die gebruik van onkruiddoders; en
      • voer vir vee te verskaf in ’n wisselbousisteem wat gesaaides insluit.
  • Oesreste moet net bewei word om maksimum 50% daarvan te verminder en glad nie gedurende nat toestande nie.
  • Die eienskappe van ’n goeie geenbewerkingsplanter sluit die volgende in:
      • Behoorlike aanpassing van die “planttrein” om eweredige plantverspreiding te verseker.
      • Die oesreste word gesny om slegs ‘n strook van ongeveer 2,5 cm breed te verwyder.
      • Dit maak die plantvoor oop en plaas die saad so presies moontlik om goeie kontak tussen die saad en grond te verseker en ontkieming te verbeter.
      • Behoorlike toemaak van die plantvoor.

Dit is deurgaans beklemtoon dat bewaringslandbou nie ’n resep het nie. Die Argentyne in Suid-Afrika wil nie ’n vooraf opgestelde plan afdwing nie, maar eerder riglyne gee en die gereedskap beskikbaar maak sodat elke produsent sy eie besluite kan neem en aanpassings kan maak wat op sy grond die beste werk.

Met meer as 92% van Argentinië se 30 miljoen hektaar saaigrond wat onder bewaringslandbou is, is daar ’n groot hoeveelheid maatskappye en tegnologieë wat reeds beproef is en heeltemal van toepassing is in Suid-Afrika se plaaslike toestande. Argentinië se saaigrond en produktiewe gebiede is nie net alles soos die beroemde “Nat Pampas” met 900 mm reën en diep vrugbare grond nie, maar daar is ook groot dele waar dit 500 mm en minder reën en waar die grond meer sanderig is. Dit is juis hier waar bewaringslandbou vir Argentinië die verskil gemaak het.

Carlos Galarza (landboukundige, INTA) tydens ’n demonstrasie oor gesonde grondlewe.

Argentinië produseer reeds genoeg voedsel om 400 miljoen mense te voed (tien keer meer as sy eie bevolking) en beoog om produksie voor 2030 te verdubbel, met ’n sterk fokus op gesertifiseerde en naspeurbare produkte.

Daar is ’n toenemende bewussyn onder Argentynse produsente dat hulle moet fokus op die kernwaardes van bewaringslandbou. Argentinië se totale graanproduksie vir die 2018/2019-seisoen was net kort van die algemene rekord van 150 miljoen ton. Dit is ook die eerste jaar dat Argentinië meer mielies as sojabone geproduseer het. Die rede vir die groot mielie-oes is net soveel toe te skryf aan ekonomiese redes as aan die noodsaaklikheid daarvan om gesonde wisselbou toe te pas na baie jare se opeenvolgende sojaboonaanplantings.

Die Argentynse maatskappye wat in Suid-Afrika werksaam is, sluit al die elemente van die produksieketting in. Alles is in Argentinië vervaardig en/of ontwikkel – vanaf die saadbehandelings, planters, spuite, presisieboerderytegnologie, stropertafels en graankarre tot en met die opberging in silosakke.

Argentinië is reeds vir meer as tien jaar in Suid- en Suider-Afrika teenwoordig. Die doel is om die verhouding met Suid-Afrika op ’n kommersiële basis sowel as op ’n gekoördineerde sektorale vlak te versterk en die kommunikasie met Suid-Afrikaanse produsente te vergemaklik sodat die Argentynse tegnologie wat hier gebruik word, nommerpas is volgens plaaslike behoeftes en gewoontes. Argentinië se vervaardigers is groot genoeg om ekonomie van skaal te bereik en die nuutste tegnologie te gebruik, maar steeds klein genoeg sodat ’n produsent na die fabriek kan gaan en vra dat ’n planter se rywydte verander word of dat “’n yster wat lastig is”, geskuif word.

INTA en Graan SA, sowel as landboukundiges van Suid-Afrika se Landbounavorsingsraad (LNR), werk daaraan om deurlopende projekte en proewe te implementeer om data te genereer oor die werking van die Argentynse bewaringslandbousisteem in Suid-Afrika. Die ooreenkoms word tans heronderhandel om verder verleng te word.

Argentynse vervaardigers en besighede stel baie belang in die plaaslike mark, omdat hulle sien dat die Suid-Afrikaanse produsent vaardig is en onder baie moeilike omstandighede uitstekend pre­steer. Argentynse tegnologie kan benut word om nog meer te produseer in ‘n wêreld waar klimaatsverandering moontlik een van die grootste uitdagings is wat produsente moet teenwerk om volhoubaar te boer.

Die grootste uitdaging wat tans die bilaterale handel van landboumasjinerie en -tegnologie tussen Argentinië en Suid-Afrika verhinder, is die tekort aan vertroue en kennis oor hoe toepaslik Argentynse tegnologie vir die suide van Afrika is. Boeredae soos hierdie maak dit duidelik dat Argentinië en Suid-Afrika baie meer in gemeen het as net goeie wyn en rugby!

Vir meer inligting kontak Hendrik Jordaan deur ’n e-pos te stuur na info@laurik.com.ar.