Hoekom verhandel mielies so ver van uitvoerpariteit?

Gepubliseer: 20 April 2023

1645
Heleen Viljoen,
landbou-ekonoom, Graan SA, heleen@grainsa.co.za

13/04/2023

Gedurende Mei-maand van elke jaar begin die mieliebemarkingsjaar op ’n skoon bladsy. Die 2022/2023-bemarkingsjaar was vir seker vol opwinding en onvoorsiene fundamentele faktore wat die mark beïnvloed het. Met die uitbreek van die oorlog tussen Rusland en die Oekraïne asook droogtetoestande in groot mielieproduserende lande was internasionale én binnelandse pryse wisselvallig. Die 2023/2024-mieliebemarkingsjaar het pas afgeskop met groot onsekerheid oor wat met pryse gaan gebeur, wat bemarkingsbesluite bemoeilik.

Pariteite
Wit- en geelmielies is substituutprodukte en hul prysbewegings beïnvloed mekaar. Grafiek 1 toon die geelmieliepariteite vir graan gelewer in Randfontein. Sedert November 2022 het plaaslike Safex-geelmieliekontrakpryse verder en verder van die uitvoerpariteitmaatstaf af begin daal, tot op ’n punt in April waar geelmieliekontrakte meer as R1 000/ton onder uitvoerpariteit verhandel het.

Grafiek 1: Pariteite vir Safex-geelmielies gelewer in Randfontein.
Bron: Graan SA

Volgens teorie verteenwoordig uitvoerpariteit die laagste pryspunt waarteen uitvoere gestimuleer word, met ander woorde, die pryspunt waar binnelandse pryse aantreklik raak in die buiteland. Fundamenteel is daar verskeie faktore wat pryse weg van uitvoerpariteit kan laat beweeg, onder meer die volgende: ’n surplus van voorraad in die binneland; ’n verswakking in die rand/dollar-wisselkoers; skielike stygings in internasionale pryse asook ’n afname in uitvoervolumes.

Faktore wat mielieprys impakteer
Sedert November 2022 het plaaslike mieliepryse hoofsaaklik druk ervaar as gevolg van die volgende fundamentele faktore: Eerstens het diepseegeelmielie-uitvoere aansienlik afgeneem sedert einde Oktober 2022, behalwe vir een skip wat in Februarie na Japan gevaar het. Tweedens moes plaaslike mielies met goedkoper internasionale mie­lies kompeteer, wat pryse afwaarts forseer het.

Suid-Afrika se vermoë om graan te kan uitvoer, is van deur­slaggewende belang om plaaslike pryse te stabiliseer. Indien daar nie gebruik gemaak kan word van die land se “uitlaatklep” nie, plaas dit aansienlike druk op binnelandse pryse. Met die toename in witmielie- sowel as sojaboonuitvoere in die laaste bemarkingsjaar, moes geel­mielies kompeteer vir uitvoergleuwe by die hawens. Grafiek 2 vergelyk die 2022/2023-bemarkings­jaar se maandelikse uitvoertempo met dié van vorige seisoene. Dit is opmerklik dat geelmielie-uitvoere tussen November 2022 en Februarie­ 2023 aansienlik afgeneem het teen­oor die vorige seisoen, sowel as teenoor die vyfjaargemiddeld. Die afname in geelmielie-uitvoere het plaaslike pryse negatief beïnvloed. Dit plaas net weer klem op die belang­rikheid en groot invloed van logistieke infrastruktuur en funksione­rende hawens in die plaaslike graanmark.

Grafiek 2: Maandelikse geelmielie-uitvoertempo.
Bron: Eie samestelling; SAGIS

In die internasionale markte het Mexiko tussen November 2022 en April 2023 die grootste hoeveelheid mielies aangekoop, groten­deels van Amerika af. Ongelukkig was daar geen prysinligting beskikbaar vir Amerikaanse verkope aan Mexiko nie. Die tweede grootste koper in die mark vir hierdie periode was Suid-Korea, waarheen ’n groot gedeelte van Suid-Afrikaanse geelmielies tradisioneel uitgevoer word. Tabel 1 toon die kompeterendheid van Suid-Afrikaanse geelmielies in die wêreldmark, gegrond op die aankooppryse van Suid-Korea vir lewering in Julie en Mei 2023.

Die werklike prys waarteen Suid-Afrika se geelmielies moes kompeteer, word bereken op R3 966,50/ton. As hierdie prys vergelyk word met die nuutste Safex-geelmielieprys op Grafiek 1, was daar op 5 April slegs ’n R23,50/ton verskil tussen die pryse. Hoewel Grafiek 1 Suid-Afrika se kompeterendheid teenoor Argentinië en Amerika meet, is daar in die werklike mark gekompeteer teen pryse wat Suid-Korea betaal.

Gevolgtrekking
Plaaslike prysbepaling word deur verskeie faktore beïnvloed. Aan die begin van April moes somergraanprodusente bemarkingsbe­sluite neem vir die huidige seisoen. Met mieliekontrakpryse wat ver onder uitvoerpariteit beweeg het, was besluitneming aansienlik moeiliker. Suid-Afrika is ’n netto uitvoerder van mielies en wêreldpryse het dus ’n beduidende invloed op plaaslike prysbewegings.

Diepseegeelmielie-uitvoere het aan die begin van die jaar aan­sienlik afgeneem teenoor vorige seisoene om spasie te maak vir verhandeling van ander kommoditeite. Suid-Afrika se “uitlaatkleppe” (hawens) is oorlaai met die grootmaatgraan wat oor die laaste drie seisoene daardeur moes beweeg en dit oefen druk uit op binnelandse pryse. Graan SA plaas ’n groot fokus op die ver­betering van uitvoerlogistiek en sit klem op die bewusmaking van die effek wat dit op produsente en Suid-Afrika het.

Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van die inligting nie.