Monsterneming by graan onder die loep

1922
Mariana Purnell, hoofbestuurder,
Agbiz Grain

Die samestelling van graan op die land en in ’n besending is selde homogeen. Graankwaliteit is uiters heterogeen en variasie in graan kom nie net oor ’n individuele land of plaas voor nie, maar selfs binne ’n plant en binne individuele are of koppe.

Oorsake van variasie kan insluit: Grondsoorte, beskikbaarheid van plaaslike voedingstowwe, verskillende variëteite of saaddatums, grenseffekte, laat bewerking en mikroklimaat. Ook die tydigheid van die oes en heersende klimaatstoestande beïnvloed graankwaliteit.

Gedurende ’n oesdag verander die vogvlakke van die graan en sal die voginhoud van opeenvolgende vragte op sleepwaens in die loop van een dag verskil weens natuurlike variasie in elke geoesde land. Siektes mag slegs sommige dele van ’n land beïnvloed en moontlik by ’n lae vlak van voorkoms.

Die laai van graan en beweging in transito beklemtoon die belangrikheid van effektiewe steekproefneming by die punt van aflewering.

Nietemin vereis die Wet op Landbouprodukstandaarde, Nr. 119 van 1990, dat ’n “klas” of “graad” toegeken word aan ’n produk wat bepaal word volgens die grootte, massa, maat, getal, metings, kleur, voorkoms, suiwerheid of chemiese, fisiese of mikro­biologiese samestelling of ’n ander kenmerk van die betrokke produk, of ’n eenheid of hoeveelheid daarvan.

Verteenwoordigende monster
Aangesien graankwaliteit varieer en sekere onsuiwerhede en graankontaminante heterogeen oftewel nie-eenvormig versprei is, sal ’n voldoende aantal inkremente geneem en versigtig gemeng moet word om ’n totale monster saam te stel. Dit moet dan later moontlik wees om een of verskeie laboratoriummonsters te neem vir gebruik om gehalte te evalueer ter nakoming van sekere spesifikasies.

Die neem van ’n verteenwoordigende monster in ’n besending graan is die bepalende faktor van die uiteindelike kwaliteit wat aan die produsent, opberger, handelaar, meulenaar en prosesseerder gekommunikeer word en waarvolgens die prys van die besending bepaal word.

Enige ontleding van die eienskappe van ’n monster en die interpretasie van die resultate sou nutteloos wees as die monster nie verteenwoordigend is van die besending waaruit dit geneem is nie. Monsterneming, oftewel steekproefneming, is dus ’n prosedure wat baie sorg vereis.

Steekproefneming
Die gehalte of vlak van verteenwoordiging van die sodanige steekproefneming word bepaal deur die prosedure wat geskik is vir die taak en die kundigheid van die steekproefnemer. Die prosedure behels beide die metode en die toerusting benodig om die taak korrek uit te voer.

Dit word sterk aanbeveel dat die taak toevertrou word aan personeel wat die belangrikheid van hierdie aksie besef asook die finansiële impak daarvan op die betrokke besigheid. Hulle moet opgelei wees om die nodige toerusting te gebruik en om die toepaslike metode korrek toe te pas.

Internasionale standaarde
Graanmonsterneming word so belangrik geag dat verskeie internasionale standaarde saamgestel is om dinamiese of statiese steekproefneming te omskryf. Om die kwaliteit en toestand van graan en graanprodukte sinvol te bepaal, is hierdie vereistes saamgestel vir beide hand- en meganiese apparate.

Die twee belangrikste riglyne is die Internasio­nale Standaard, die ISO 24333:2009 asook die International Association for Cereal Science and Technology se ICC Standard No. 101/1.

Steekproefneming sluit in:

  • Die neem van ’n bepaalde aantal inkremente om ’n totale monster te vorm;
  • die homogenisasie van die totale monster; en
  • die vermindering van die totale monster in laboratoriummonster(s).

Die doel van monsterneming is dus om graan met heterogeen verspreide kwaliteitsparameters en ongewenste stowwe op so ’n manier te bemonster en te vermeng dat daar ’n saamgestelde verteenwoordigende monster is waarin sodanige kwaliteitsparameters en ongewenste stowwe homogeen versprei is.

Alhoewel internasionaal erkende standaarde die aantal afsonderlike monsters vir steekproefneming spesifiseer, word daar nêrens verwys na die akkuraatheid van monsters wat geneem word tydens plaaslaai en die uitlaai by die silo, handelaar, meulenaar of verwerker nie.

Toepaslike apparaat
Die teorie skryf voor dat ’n “toepaslike apparaat” gebruik word om die verteenwoordigende steekproef te neem. Daar is nog nooit voorheen bepaal wat sodanige “toepaslike apparaat” se effektiwiteit vir die bepaling van alle kwaliteitsassesserings moet wees nie.

Dit word aanvaar dat alle “toepaslike apparate” wat tans in gebruik is by aflewering vir die silo, handelaar, meulenaar of verwerker voldoende is, maar dit is ’n bekende feit dat daar ’n verskeidenheid van “toepaslike apparate” in die mark beskikbaar is.

Die riglyn is dat, alhoewel daar baie verskillende tipes monsternemingstoerusting of -toestelle is, die mees geskikte toerusting gekies moet word met inagneming van die produk wat geëvalueer word, die vereiste hoeveelheid en die houers wat gebruik gaan word.

Evaluering van die kwaliteit en toestand vir nievloeiende, statiese grootmaatprodukte met ’n voldoende aantal inkremente (agt tot 25 steekproefpunte versprei regdeur die graanmassa, beide op die oppervlak en diep af) is veral belangrik in die geval van dispute en arbitrasie.

Alhoewel die monsters gesamentlik geneem word deur verteenwoordigers van beide die koper en die ondernemer, of deur ’n derde party wat onder algemene ooreenkoms aangewys is, sal die tipe instrument steeds ’n variasie in die finale monster veroorsaak.

Dubbelbuisstekers as moontlike alternatiewe waar geen elektrisiteit beskikbaar is nie, maar dan moet die onderskatting verklaar en erken word.

Navorsingsprojek
Behalwe vir die integriteit van die verteenwoordigende monster, het die onderskeie monsternemingsapparate ook hul eie inherente voor- en nadele. Hierdie eienskappe word geïllustreer in Tabel 1.

Volgens Agbiz Grain en die Suider-Afrikaanse Graan Laboratorium (SAGL) is daar nog nooit voorheen bepaal watter instrument meer toepaslik is vir die onderskeie grane en oliesade nie. Die groot verskeidenheid in instrumente kan lei tot die uiteindelike verskil in die saamgestelde monster wat gebruik word vir graadbepaling en kwaliteitsassessering.

’n Navorsingsprojek is van stapel gestuur met die doel om ’n beter begrip van elke monsternemingsinstrument se akkuraatheid en effektiwiteit te kry. Drie verskillende monsternemingstoestelle wat tans in die plaaslike graanbedryf gebruik word asook twee plaaslik vervaardigde apparate (’n dubbelbuisspiraal en ’n dubbelbuis met afskortings) is vergelyk met die Vac-A-monsternemer, ’n dubbelbuis- pneumatiese suigtoestel.

Resultate voortspruitend uit sodanige projek kan ook ’n instrument identifiseer wat as verwysing vir dispute in die graan- en oliesadebedryf gebruik kan word in die toekoms.

SAGL se assesserings is gedoen op kommoditeitsmonsters van bepaalde saamgestelde kwaliteit en wat vooraf gemeng is met bepaalde hoeveelhede sifsels en onsuiwerhede om homogeniteit te verseker. Die spesifieke kwaliteitsamestelling van die kontrolemonster was in alle gevalle bekend en die instrumente is daarteen gemeet en met mekaar vergelyk. Die proewe is in die laboratorium sowel as by ’n silo herhaal.

Resultate
Die instrument met die resultaat naaste aan die kontrolemonster (blou stafie) lewer die mees akkurate verteenwoordigende monster soos aangetoon in Grafiek 1a en Grafiek 1b (per kommoditeit) en Grafiek 2a en Grafiek 2b (per monsternemingsapparaat).

Uit hierdie werk deur SAGL kan daar afgelei word dat die Vac-A-dubbelbuis- pneumatiese monsternemingsapparaat die beste presteer het in vergelyking met die ander toestelle wat getoets is. Dit het die beste akkuraatheid vir al vier die kommoditeite, naamlik mielies, koring, sonneblom en sojabone, op hoër vlakke sifsels getoon.

Resultate het ook bewys dat die Vac-A-monsternemer die mees konsekwente resultate vir die vier kommoditeite (mielies, koring, sonneblom en sojabone) gehad het. Die feit dat die Vac-A ’n draagbare toestel is, maak dit baie handig om te gebruik vir onafhanklike toetse by die perseel van ’n kliënt in die geval van ’n dispuut.

Die ander drie toestelle wat getoets is, het ook goed gevaar met sommige van die kommoditeite en monsters, hoewel konsekwentheid dramaties verskil tussen vlakke van sifsels en die soort kommoditeit.

As hierdie foute en die implikasies op kwaliteit van die produkversekering egter goed verstaan word, is dit nie spesifiek nodig om tans geïnstalleerde toestelle met die Vac-A te vervang nie. In die geval van ’n dispuut word die Vac-A egter aanbeveel.

Die volledige studie oor die vergelyking van monsternemingsapparate se effektiwiteit om verteenwoordigende monsters te neem op die vier hoofkommoditeite in Suid-Afrika, is verkrygbaar vanaf Agbiz Grain of SAGL.

Kontak Mariana Purnell by mariana.purnell@agbizgrain.co.za of Wiana Louw by wiana.louw@sagl.co.za vir dié studie of meer inligting hieroor.