Ekonomiese aanwysers en insetprystendense van belang in 2019

1805
Corné Louw
senior ekonoom, Graan SA corne@grainsa.co.za

In 2019 was die skerp daling in die ruolieprys, die onbestendigheid van die wisselkoers en die dalings in die meeste van die internasionale grondstowwe van kunsmis, sekerlik die aspekte wat uitgestaan het.

Die Brent-ruolieprys het vanaf Oktober 2018 tot Oktober 2019 met 26,3% in dollarterme gedaal, terwyl dit 24,5% in randterme afgeneem het. Omdat heelwat produksie-insette van graan- en oliesadeprodusente deur energiepryse geraak word, het hierdie daling in ruoliepryse ook van die internasionale insetpryse laat daal. Alhoewel die wisselkoers gedurende die jaar baie wisselvallig was, het die rand tussen Oktober 2018 en Oktober 2019 met slegs 2,5% teenoor die dollar verswak.

Tabel 1 toon die prysbewegings in van die belangrikste ekonomiese en insetprysaanwysers in 2019 aan.

Produksieprysindeks
Die produksieprysindeks (PPI) dui die prysstygings van goedere en dienste op die groothandel- of vervaardigingsvlak in die ekonomie aan. Op ’n jaargrondslag het die PPI tot September 2019 met 4,1% gestyg. Die PPI vir landbou het jaar op jaar met 4,1% gedaal, terwyl die PPI vir graanprodukte met 11,5% gestyg het.

Verbruikersprysindeks
Die amptelike inflasiekoers word op basis van veranderings in die verbruikersprysindeks bereken en dui kosteveranderings op die kleinhandel- of verbruikersvlak aan. Die inflasiekoers het in September 2019 op ’n jaargrondslag met 4,1% gestyg.

Voedselinflasie het oor dieselfde tydperk met 3,7% gestyg, waarvan die prys van brood en grane met 8,5% gestyg het.

Wisselkoerse
In Tabel 1 word ’n verstewiging in die waarde van die rand teenoor ander geldeenhede as ’n positiewe verandering aangedui, terwyl ’n verswakking as ’n negatiewe persentasieverandering aangetoon word. Die rand het op ’n jaargrondslag tot Oktober 2019 met 2,5% teenoor die dollar verswak. Die rand het egter met 0,2% en 1,1% teenoor die pond en die euro onderskeidelik versterk.

Rentekoerse
Op ’n jaargrondslag tot Oktober 2019 het die Reserwebank die repokoers konstant op 6,50% gehou, terwyl handelsbanke ook die prima uitleenkoers onveranderd op 10% gehou het.

Internasionale ruoliepryse
Die gemiddelde Brent-ruolieprys het vanaf Oktober 2018 tot Oktober 2019 met 26,3% vanaf $80,54 per vat na $59,33 per vat gedaal.

In randterme het die ruolieprys op ’n jaargrondslag tot en met Oktober 2019 met 24,5% tot R883,42 per vat gedaal.

Brandstofpryse
Die plaaslike groothandelsprys van diesel in Gauteng het met 5,2% vanaf R15,65 per liter in Oktober 2018 tot R14,85 per liter in Oktober 2019 gedaal. Die werklike brandstofkoste het in Oktober 52% van die finale groothandelsprys van diesel uitgemaak. Dit wil sê, 48% is opgemaak deur heffings en belasting.

Oor ’n jaartydperk het die gelande koste van diesel met 13,6% gedaal, terwyl belasting met 7,8% toegeneem het en die groothandelsmarge met 5,3% gestyg het.

Die dieselrabat is tans 333,60 sent per liter, terwyl dit verlede jaar 321,80 sent per liter was.

Internasionale kunsmisprys
Die internasionale pryse van kunsmisgrondstowwe het vanaf Oktober 2018 tot Oktober 2019 meestal skerp gedaal.

Die pryse van DAP, ureum, ammoniak en kaliumchloried het met onderskeidelik 30,4%, 23,8%, 32,8% en 11,3% gedaal. Die prys van kaliumchloried het egter met 17,8% toegeneem oor hierdie tydperk.

Plaaslike kunsmispryse
Omdat Suid-Afrika meer as 80% van sy behoefte aan kunsmis moet invoer, is plaaslike kunsmispryse blootgestel aan dieselfde faktore as in die internasionale mark.

Die gemiddelde pryse van MAP, ureum en kaliumchloried het oor ’n periode van ’n jaar tot en met Oktober 2019 met onderskeidelik 15,9%, 11,4% en 15,4% gedaal.

Die prys van KAN het teen verwagting in met 2,7% gestyg oor hierdie tydperk.

Saadpryse
Saad maak ongeveer 12% van ’n graan- en oliesadeprodusent se lopende produksiekosterekening uit. Vir die 2019/20-produksieseisoen het mieliesaad met gemiddeld 4,5%, graansorghumsaad met 2,5% en sonneblomsaad met 4,3% gestyg. Sojaboonsaadpryse het op ’n gemiddelde basis met 1,9% gedaal.

Trekkerpryse
In Oktober 2019 was die pryse van trekkers 2,1% hoër as in die oorstemmende tydperk twaalf maande gelede.

Trekkerverkope
Vir 2019 het trekkerverkope tot en met Oktober met 23,2% in vergelyking met dieselfde tydperk in 2018 gedaal.