’n Extravaganza van nuwe kultivartegnologie

Gepubliseer: 5 Mei 2020
Valerie Cilliers, redakteur, SA Graan/Grain

56

Pannar se gewilde Extravaganzas kon wel hierdie jaar in Delmas, Kokstad, Underberg, Luneburg en Kroonstad plaasvind voor die nasionale verbod op byeenkomste weens die koronavirus aangekondig is. SA Graan het die Extravaganza naby Kroonstad op 11 Maart bygewoon, waar ’n volledige gewasportefeulje met ’n aantal nuwe verbeterde kultivars bekendgestel is. Hier het produsente die geleentheid gekry om die nuwe produkte te sien en persoonlik met die maatskappy se kundiges en bestuurders te gesels.

Hendrik Linde, ‘n landboukundige van Pannar, gesels oor die belangrikheid van grondgesondheid tydens een van die witmielietoere.

In Kroonstad is onder meer witmielieproewe vroeg in Desember 2019 op die plaas Deelpan aangeplant, waar reënval van 517 mm tot en met 11 Maart gemeet is. Ten spyte van 60% haelskade op die oes, kon Pannar se Hendrik Linde wat ook verantwoordelik is vir die uitleg en aanplant van die terrein, steeds noodsaaklike inligting oor plantgesondheid – die tema van 2020 se Extravaganza – met produsente deel. Die vroeë identifisering van simptome om oesverliese teen te werk, was hoog op die agenda. “As jy simptome waarneem, is daar reeds oesverlies,” het hy gesê. Aspekte rakende bemesting, stikstof-, kalium- en fosfaattekorte asook chemiese toksisiteit was van die belangrike besprekingspunte tydens die witmielietoer.

Pannar se span landboukundiges het soortgelyke toere vir geelmielies, sonneblom, besproeiingsmielies, koring, sojabone, droëbone, weiding, kuilvoer en graansorghum gefasiliteer.

Dit is die 44ste jaar dat die Pannar Extravaganza op Deelpan aangebied word. Plaaseienaar Danie Crous, wat ook ’n lid van Graan SA is, sê goeie kultivarkeuse is uiters belangrik om ’n goeie oes te verseker. Ten spyte van die hael kon hy steeds ’n gemiddelde oes realiseer. “Hierdie inligtingsdae gee produsente in ons omgewing die geleentheid om eerstehands die verskillende kultivars en die nuutste tegnologie te besigtig.”

Danie en Charlene Crous op hul familieplaas, Deelpan waar die Kroonstad Extravaganza reeds die afgelope 44 jaar aangebied word.

Nuwe pakkette ten toon gestel
Die Pannar-witbasterpakket word gekenmerk deur goeie prestasie, aanpasbaarheid en stabiliteit vir goeie risikobestuur en bied opwindende nuwe topbasters vir die komende seisoen. In die ultravinnige groeiklas is PAN 3R-573R ’n nuwe byvoeging vir die hoëpotensiaal- oostelike produksiedele asook vir besproeiing. In die droëland- westelike gebiede is PAN 5R-891BR (MON89034) en PAN 6R-779BR twee nuwe opwindende witbasters.

Die geelmieliepakket van ultravinnige, vinnige en mediumgroeiseisoenbasters bied ’n goeie langtermyn-risikoverskansingstrategie. Die vinnige pakket is versterk met ’n nuwe genetiese platform, naamlik PAN 4A-128, wat ’n aansienlike opbrengsverhoging bied. Dit sluit ook ’n glifosaat-tolerante (PAN 4R-528R) en stapelgeenbaster (PAN 4R-728BR) in. Die pakket word verder versterk met PAN 4B-472B (stronkboorder-weerstandbiedend), PAN 4R-672R (glifosaat-tolerant) en PAN 4R-872BR (’n stapelgeenopsie) in die PAN 4A-172-platform. PAN 5R-890BR, die stapelgeenopsie in die PAN 5R-590R-stal, is ook ’n nuwe vrystelling met ’n wye gebiedsaanpasbaarheid en stabiele prestasie. Die geelpakket word afgerond met PAN 5R-582R, die glifosaat-tolerante weergawe van PAN 5A-182, wat bekend is vir sy stabiele topprestasie by alle opbrengspotensiaalvlakke en produksie-omgewings.

Jan Potgieter, ’n produsent van Viljoenskroon, het die Extravaganza naby Kroonstad saam met sy seuns, Benjamin (regs) en Joshua, bygewoon.

’n Volledige reeks groeiklasse wat aan byna alle plantdatum- en produksiegebiedkombinasies voldoen, is beskikbaar in die sojaboonpakket.

Pannar se koringteelprogram lewer ’n groot bydrae tot plaaslike koringverbouing. Die lentetipe koringbesproeiingspakket bestaan uit drie groeiklasse, naamlik ’n medium-laat kultivar, PAN 3497; ’n medium kultivar, PAN 3541 (dit vervang PAN 3471, wat ’n baie goeie kultivar in eie reg was) en die medium-vinnige PAN 3644 wat PAN 3400 vervang.