Wes-Kapenaars met ’n volhoubare langtermynstrategie

Valerie Cilliers, redakteur SA Graan/Grain, Helenus Kruger (foto)

1443

Willie Beukes en Tonie Linde van Haasjeskop Boerdery op Caledon, Graan SA/Syngenta Graanprodusente van die Jaar, is ’n gedugte span wat al sedert 2005 saam boer.

Met Tonie as hoof uitvoerende beampte en Willie in beheer van akkerbou asook algemene daaglikse en personeelbestuur, is Haasjeskop Boerdery ’n spogonderneming. Hulle verbou koring, gars, kanola en hawer op droëland met sowat 1,5% van die grond onder besproeiing.

’n Twaalfjaarrotasiesisteem verseker dat daar vir sewe jaar kontantgewasse en daarna vir vyf jaar lusern verbou word. Dit bied genoegsame voer vir hulle veefaktor, bestaande uit kommersiële skaap in ’n wol- en vleisproduksiestelsel. Albei produsente is betrokke in hulle gemeenskap en by landbouorganisasies. “Ons het groot waardering vir organisasies soos Graan SA wat ons belange op die hart dra,” sê Tonie.

Antonie Delport (besturende direkteur, Syngenta SA), Willie Beukes, Jaco Minnaar (voorsitter, Graan SA), Tonie Linde en Jannie de Villiers (uitvoerende hoofbestuurder, Graan SA).

Hy meen dat verhoudings en vennootskappe baie belangrik is in enige onderneming. “Die Here het ons nie net toegerus met vaardighede nie, maar ook met die regte mense om ons. Ons raak nie betrokke by iemand wat nie ons waardes deel of met wie ons nie ’n langtermynpad kan stap nie. Ons vennote het begrip vir ons beginsels ten opsigte van landbou.” Volgens Tonie sluit hierdie beginsels volhoubaarheid en ’n langtermynstrategie in. “Alles wat ons doen, het ’n impak op die toekoms en die besluite wat ons neem, gaan ons kinders raak.” Daarom is die invordering van grondanalisedata vir Tonie en Willie baie belangrik. “Ons het deur data wat oor die jare bymekaar gemaak is, agtergekom hoe belangrik mikrobes en die biologie van ons grond is. Die doel is om ons opbrengs op ’n natuurlike wyse met 25% te verhoog,” sê Tonie.

“Die land en landbou is ons passie. Ons wil ’n verskil hier in Suid-Afrika maak, nie net vir die 22 gesinne wat betrokke is by die boerdery nie, maar vir die breër gemeenskap en die land as ’n geheel.