Die belangrikheid van markinligting: Wat leer ons daaruit?

1512
Luan van der Walt,
landbou-ekonoom, Graan SA

Deel 6: Sonneblomsaad

Dié reeks handel oor die algemene belangrikheid en die gebruik van inligting in die Suid-Afrikaanse graan- en olie-sademarkte. Deel 5 van die reeks het na die sojabooninligting verwys, terwyl hierdie artikel op die sonneblomsaadinligting fokus.

Aangesien die reeks grootliks fokus op die belangrikheid van inligting in die graanmarkte, word daar veral gekyk na die inligting en wat daaruit geleer kan word. Ten einde hierdie doel te bereik, is dit belangrik om die tendense tussen die fundamentele markinligting en die pryse oor tyd met mekaar te vergelyk. Die vergelykings van die tendense word gedoen deur middel van seisoenale-indeksberekeninge.

Seisoenale indekse
Die seisoenale-indeksberekeninge word gebruik om die tendense van die verskillende aspekte, wat die prys- en voorraadvlakke insluit, ten toon te stel en vergelykings te doen. Die seisoenale indekse druk die maandelikse pryse en beskikbare voorraad as ’n persentasie van die twaalfmaande- bewegende gemiddeld uit.

Hierdie is ’n goeie manier om vergelykings van die verskillende aspekte met mekaar te doen, aangesien dit op dieselfde basis uitgedruk word. Die indeksberekening van die data gee die leser ’n goeie oorsig oor wat wanneer in die mark verwag kan word. Dit kan gebruik word wanneer bemarkingsbesluite geneem word.

Agtergrond van die sonneblomsaadmark
Alhoewel die plaaslike sonneblomsaadmark redelik klein is in vergelyking met van die ander gewasse, speel dit ’n belangrike rol in veral die westelike gedeeltes van die land. Sonneblom bied aan produsente ’n alternatiewe gewas om aan te plant en sodoende dra dit by tot die verskansing van risiko. Sonneblomsaad het veral die afgelope paar jaar in die westelike gedeeltes van die land vir die produsente goeie uitkoms gebied, aangesien hierdie gewas aansienlik later as ander gewasse, soos mielies en sojabone, daar aangeplant kan word.

Grafiek 1 toon die plaaslike sonneblomsaadproduksie en -verbruik sedert die 2000/2001-seisoen. Oor die algemeen word daar genoeg sonneblom in Suid-Afrika geproduseer om aan die verbruik te voldoen en is dit meestal nie nodig om sonneblom in te voer nie. Daar was wel al vantevore jare waar die plaaslike produksie aansienlik minder as die plaaslike verbruik was, wat die mark genoodsaak het om sonneblom in te voer. In geval van dié gewas, wat deel vorm van die breër oliesaadkompleks, sal die produkte wat verkry word vanaf die verwerking van sonneblomsaad ingevoer word. In die plaaslike mark speel sonneblom­olie ’n meer prominente rol as sonneblomoliekoek.

Grafiek 1: Suid-Afrikaanse sonneblomsaadproduksie en plaaslike verbruik.
Bron: SAGIS en NOK

Seisoenale tendense
Net soos by sojabone is daar in die plaaslike sonneblomsaadmark ook ’n reeks faktore wat ’n impak op die plaaslike markpryse het. Alhoewel die internasionale sonneblomsaadpryse ’n rol in die plaaslike mark speel, vorm die sonneblomsaadmark deel van die breër oliesadekompleks. Die belangrikste produkte in die oliesaadkompleks is die olie en oliekoek wat apart ingevoer kan word. Dus speel die plaaslike en internasionale olie- en oliekoekpryse ook ’n groot rol in die plaaslike prysvormingsmeganisme. Vir die meeste ander gewasse, soos mielies en koring, word die plaaslike markprys grootliks deur die invoer- en uitvoerpariteitspryse bepaal. Indien daar ’n plaaslike tekort is, verhandel die mark nader aan die invoerpariteitsprys en indien daar ’n oorskot plaaslik is, sal dit nader aan die uitvoerpariteitsprys verhandel. Dié algemene beginsel geld ook vir oliesade, soos sonneblomsaad. Aangesien die olie en oliekoek egter apart ingevoer kan word, is die korrelasie nie altyd so in lyn met die pariteitspryse nie, maar eerder met die afgeleide prys. Die afgeleide prys is ’n berekende prys wat die waarde van die olie- en oliekoekinvoere in ag neem.

In terme van sonneblomsaad speel die oliekoek ook nie so ’n groot rol in die plaaslike mark soos by sojabone nie. In hierdie mark is dit meer die sonneblomsaadolie wat ’n prominente rol speel en dus sal daar meer sonneblomolie ingevoer word indien nodig.

Grafiek 2 toon die seisoenale indeks van die Safex-sonneblomsaadpryse, invoer- en uitvoerpariteitspryse en die afgeleideprysindeks. Dit is duidelik uit dié grafiek dat die plaaslike sonneblomsaadprys oor die algemeen die hoogste tydens November tot Januarie is, wanneer dit 5% bo die jaarlikse gemiddeld verhandel. Die pryse is oor die algemeen die laagste tydens April, wanneer dit gemiddeld 7% laer as die jaarlikse gemiddelde prys verhandel. Die meeste sonneblomme word gedurende April en Mei gestroop, wat die plaaslike pryse onder druk plaas. Dit is duidelik dat daar wel tot ’n mate ’n korrelasie tussen die plaaslike prys, die pariteitspryse en die afgeleide prys is.

Grafiek 2: Seisoenale indekse van plaaslike sonneblompryse, pariteitspryse en die afgeleide sonneblompryse.
Bron: SAGIS en Graan SA

Soos vroeër genoem in die artikel, speel die produkte wat verkry word vanaf die verwerking van die oliesade ’n belangrike rol in die plaaslike prysvormingsmeganisme.

Aangesien die oliesaadprodukte apart ingevoer kan word, is dit nie nodig om rou sonneblom as sodanig in te voer nie. Die invoerpryse van die olie en oliekoek moet wel in ag geneem word, aangesien die plaaslike sonneblompryse tot ’n groot mate daarvan afgelei word. Dit speel ook ’n belangrike rol in die plaaslike persmarge. Die persmarge verwys na die mate van winsgewendheid vir plaaslike verwerkers om sonneblom te pers en dan die olie en oliekoek te verkoop. Wanneer die plaaslike sonneblompryse hoër as die afgeleide sonneblomprys is, is die persmarge gewoonlik meer onder druk. Dit veroorsaak dat die plaaslike verwerkers verwerking tot ’n sekere mate afskaal. Dit het ’n impak op die plaaslike sonneblomsaadverbruik wat gesien word in die maandelikse verwerkingsyfers.

Grafiek 3 toon dat die sonneblomprys oor die algemeen teen die laagste vlakke verhandel gedurende April en Mei – vanwaar dit weer ondersteuning begin vind. Dit is ook gewoonlik wanneer die plaaslike pryse laer as die jaarlikse gemiddeld verhandel en die afgeleide pryse hoër as die jaarlikse gemiddelde prys is. Gedurende hierdie tydperk begin die persaktiwiteit van sonneblomsaad optel en volg dit ’n stygende tendens. Namate die plaaslike sonneblompryse toeneem, begin die persaktiwiteit van sonneblomsaad weer afneem – dit is meestal tussen Desember en April laer as die jaarlikse gemiddelde hoeveelheid wat per maand gepers word. Dit is ook gewoonlik wanneer die afgeleide prys laer as die jaarlikse gemiddelde prys is en die plaaslike sonneblomsaadprys hoër as die jaarlikse gemiddeld verhandel.

Grafiek 3: Seisoenale indekse van plaaslike sonneblompryse, afgeleide sonneblompryse asook die maandelikse sonneblomperssyfer.
Bron: Graan SA en SAGIS

Ten slotte
Alhoewel hierdie artikel slegs enkele aspekte van dit waarvoor die inligting gebruik kan word, bespreek, is dit belangrik om die waarde van die langtermyninligting te verstaan. Daar is verskeie soorte inligting wat deur verskillende instansies bymekaar gemaak word. Dit sluit daaglikse, weeklikse, maandelikse en jaarlikse inligting in.

Die instandhouding van hierdie databasisse is noodsaaklik om die inligting aan die mark bekend te maak. Dit dra ook by tot die monitering van die werking van die mark, aangesien die verskillende fundamentele aspekte van die mark in ooreenstemming met die prysbewegings in die markte geanaliseer kan word.