Om afskeid te neem

Gepubliseer: 28 Julie 2023

833

Beste Grootneef

Om afskeid te neem is so deel van die lewe soos die son wat soggens opkom en saans weer in die weste met laaste lig verdwyn. Elke dag met geleende tyd – sonder dat die mens weet hoeveel daarvan beskore is voordat die uurglas uitloop.

Dikwels word gegroet met ’n blote “mooi ry en sien môre weer”. Ander kere – met mense wat op jou gegroei het soos mos – is afskeid effe moeiliker. In Spreuke word geskryf van yster wat yster slyp. So slyp een mens ook die persoon van ’n ander. Nie aldag nie, maar van tyd tot tyd kom so ’n persoon oor jou lewenspad. ’n Persoon wie se waardes en woorde ’n verskil gemaak het. Wie te midde van blymoedigheid, maar ook wanneer dit swaar gegaan het, ’n pad saam gestap het. Afskeid van so ’n lewensvriend is moeilik. Maar al gaan so ’n persoon in ’n ander rigting, is kontak steeds moontlik met die druk van ’n selfoonskakel. Vir ’n boodskap nou en dan, net om die “onthou” lewend te hou.

Afskeid is ook soms om wortels te trek en op ’n ander plek te vestig. ’n Mens is soos ’n boom – wanneer dit verplant word, neem dit so ’n rukkie voordat die wortels vat en nuwe lote gevorm word. Aanvanklik word die bekende van hoe dinge gewerk het, intens gemis. Algaande vervaag hier­die herinneringe egter omdat die nuwe omgewing die realiteit is waarin aangepas moet word.

Van goeters neem mense soms ook moeilik afskeid. Want dit is nie net ’n tafel of ’n klip nie – ieder en elke besitting het ’n storie van hoe daarop afgekom is en hoe dit oor jare gekoester is. Maar soos die tyd aanstap en die kinders uit die nes vlieg om hul eie lewe te bou, raak dit ook tyd om af te skaal. En dit is wanneer goeie oordeel en sentiment in skaalbakke geplaas word om te besluit wat trek saam. Sentiment is dikwels die wenner – net om iets nog ’n paar jaar te geniet. Die balans met die besluite lê egter natuurlik by vroulief, wat namens jou besluit dat sewe aambeelde nie nodig is nie.

Die moeilikste groet is egter wanneer iemand se aardse tentwoning verskuif en die brose kruik finaal breek. Daardie finale groet van stof tot stof is ’n moeilike las om te dra. Want herinnering leef voort by dié wat agterbly. In die geur van vars gebakte beskuit, sagte reën op die sinkdak, die wind se gewaai om die hoeke van die huis, of wat ook al voorheen saam beleef is. ’n Herinnering aan ’n geliefde wat nie meer daar is nie, kom onverhoeds, wanneer dit die minste verwag word.

Ou Neef, geniet elke dag se reis op aarde – maar leef ook met die bewustheid dat alles nie vir ewig is nie. Maak dus moeite om te luister as iemand praat. Gee bemoediging aan wie ook al vol twyfel is of ’n gemoed vol seer het. Hou kontak met kennisse, met ’n koffie-afspraak nou en dan. Breek ’n broodjie saam. Maak ’n verskil vir die mense om jou.

Aan die einde van jou lewensreis gaan die herinnering oor jou handel en wandel by die wat agterbly óf met wrewel óf met weemoed wees. Dit lê in jou eie hande om daardie verskil te maak.

Groete

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.